watertaxi, gondola of vragboot te sien ina ons aankoms (te voet) op Santa Croce nie.
Die Venesiers is ingestel op toerisme. Daar is masjiene vir
alles ... van kaarte tot pizzas. Hierdie een in 'n reenjasmasjien.
Wanneer daar stormweer woed word Venesie die stad van gesneuwelde sambrele!
Dagbreek in Venesië
Daar is geheueprente wat nooit vervaag nie.
Dagbreek in Venesië, Januarie 1978 op die spoorwegstasie Santa
Lucia kan ek enige tyd oproep. Saam met Arie op die nagtrein vanaf Wene in die
donker daar aangekom en by ‘n restaurant-tafeltjie my eerste Italiaanse koffie
geniet toe die dag oor die Grand Canal, die mooiste straat in die wêreld,
breek.
In sy totaliteit – en saam met die lagune – is Venesië ‘n
Wêrelderfenisgebied. Deur die eeue heen besing as die Koningin van die
Adriatiese see, Die Drywende stad, Stad van Brûe, Stad van Maskers, Stad van
Kanale …
Bekend vir Renaissance kuns. Geboorteplek van die Barok komponis Antonio
Vivaldi. Belangrike handelsentrum tussen die 13de en 17de eeu.
Meer as vyf-en-dertig jaar later arriveer ek en my dogter
laatmiddag per bus vanaf Villach in ‘n wind-en-reënstorm. Die waterstad is grys,
koud en onvriendelik. Sigbaarheid weinig. Donderweer grommend. Ek voel soos ‘n
by in ‘n bottel. Daar is geen bekende baken vir my nie. Kleurvolle sambrele lê
geknak op straat en in vullisblikke. Vandag is Venesië die stad van die
gesneuwelde sambrele.
Die water in die Grand Canal roer kwaai. Weerligstrale klief
deur die grou. Waterbusse swaai nutteloos langs hulle vasmeerplekke. Geen gondel
in sig nie. Net die Pakistani’s en Chinese wat reënjasse, ponchos, sambrele en
waterskoene op straathoeke verkoop, lyk gelukkig.
My kind is verenig in my treurigheid. En ons word nat deur ons
reënklere. Maar sy koop ‘n stadskaart vir 2 euro by ‘n masjien en ontsyfer dit
saam met my getikte aanwysings na ons herberg op Santa Croce. Sy loop voor.
Haar pienk poncho deur die wind uitgeblaas soos ‘n verjaardagballon. Kia het my
verhaal van dagbreek in Venisië saam met haar pa al telkemale gehoor.
Dit reën vir die volgende 24 uur. Die watervlak in die lagune
styg. Dit is Aqua Alta: hoogwater wat die vlak met ongeveer 100 cm kan laat
styg. En springety daarby. Wanneer dit laagwater word, is daar bykans geen
verskil te merk nie. Die water rol by die grondvlakke van geboue langs die
kanale in. Werkers keer en mop. Dagbreek bly weg.
Maar ek wil vir Kia soveel van die bekende landmerke laat sien
en ons tou agter honderde toeriste aan na die Rialtobrug, die vismark… tot by die
Basilica San Marco. Die befaamde piazza is
verlate. Toeriste koek saam in die veiligheid van die arkades van die Doge se
paleis.
Die piazza is deur
Napoleon as die sitkamer van Europa beskryf. Vandag is die plein verlate en die
rye geel stoele en tafeltjies voor die befaamde Grand Caffe Chioggia leeg. Maar
die kwartet waarvoor die kafee vir mense met vet beursies so bekend is, speel
operatitels onder ‘n mini-markiestent. Onbeskryflik mooi. ‘n Paar dapper duiwe
soek krummels op die plein. 'nGrys bedelvrou soek iets te ete in die rommelblik.
****
Vroeg op ons tweede en laaste oggend in Venesië, voel ek ‘n
fluistering teen my wang. “Ma, ek het geGoogle en die son kom oor 20 minute op.
Trek gou aan”.
Allersuutjies verlaat ons L’imbarcadero sonder om die Argentynse
kamermaat en die mini-mens uit China te steur. Draai eers links in Calle Zen – ons “straat” wat 2 meter breed
is - om die Grand Canal in eerste lig te
bekyk. Die water in die Gran Canal het mak geword. Dan lei Kia my kaartloos
deur ‘n labirint van stegies ….
Hier en daar kom hotelpersoneel uit om vullissakke buite te sit. Onbyt-tyd lê nog
ver. Die lug is wolkloos.Nou en dan hoor ons ‘n huisbrak knor. Ons trap katvoet.
Die plaveisel is glad en bolle van die hordes Venisiese honde kan amok met skoene
maak.
Uiteindelik staan ons op die Ponte
delgi Scalzi, oftewel die brug van die kaalvoet monikke, een van die vier
brûe wat die Grand Canal oorspan en wat Canareggio, die eiland
vanwaar die staalspoor oor die Ponte della Libertà na die vasteland loop, met ons eiland, Santa Croce verbind.
Motorbote kom lui nader
met vrag vir die dag. Laai onder andere skoon linne en bottles water vir die
hondertalle gasteverblywe af. Trekskuite wag vir die afvalkarretjies om hulle
ongewenste vrag oor te gee. Portiere met handkarre begin hulle dag. Twintig miljoen
toeriste besoek hierdie unieke stad per jaar. Hierdie flinke manne sorg dat die
voorraad in die winkels, restourante, kafees, markte, gastehuise, hotelle ens
kom. En die tonne vullis per dag gegenereer na die vasteland verhuis.
Ons is alleen op die boogbrug, in 1934 van Istriese klip gebou
om ‘n uitgediende ysterbrug deur die Oostenrykers opgerig, te vervang. Dit is
05:36 op 18 Mei. Die son is wakker in Venesië. Ek strek my arms hoog uit in die
nuwe lig. Ek is hier saam met my jongste kind. Die mooiste straat in die wêreld
lê voor my. En agter my…
‘n Geheueprent vir die volgende geslag.
‘n Geheueprent vir die volgende geslag.
En toe breek die dag in sy volle glorie
Kia se Angry Bird was ook saam met ons.
Met hierdie enkelspoortrein is ons van die busstasie Tronchetto na Piazzaile Roma vervoer
Tradisionele maskermaker in sy ateljee cum winkel
T-hemde by 'n stalletjie
Stallentjies vlakby Rialto
Vismark naby Rialto-brug met reklamebord vir foto-uitstalling oor Hemingway
Reen stuit nie die vrugtehandelaars nie
Kos is peperduur in die omgewing van San Marco.
Hierdie "slim" pizza wat in happiegrootte gesny word, het ons altwee se honger gestil.
Murano glas
Pienk doughnut pas by die pienk poncho
Skuiling vir die gondolier
Op die brug van die kaalvoet monikke
Pasta met seekos vir Kia op die eerste nat aand by 'n familie-restourant
op die eiland Santa Croce
San Marco Basilica - detail (bo en onder)
Naat duiwe op die piazza
Grand Caffe Chioggia se orkes speel voort al reen dit
Ons is net te vroeg vir die tweejaarlikse kuns biennale
Kamer te huur in stil hoekie van Cannareggio ...
Vroegoggend: Uitsig op Cannareggio vanaf Santa Croce
Vroegoggend: Vragboot op die Grand Canal
Ingang van L’imbarcadero
Ons het 'n welsynswinkel ontdek en hierdie T-hemp het saam huistoe gekom
... net omdat ons so baie van die Italiaanse vrou gehou het.
Vragboot vroegoggend
Stryd met rommel op die eilande van Venesie
No comments:
Post a Comment