: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Monday 16 March 2015

Vroegwinter: onthou-oomblikke in Israel

My kinders Emile en Jana se besoek aan die Abraham Hostel kort na my aankoms in November 2014 in Jerusalem...  wat 'n vreugde!

Bewolkte middag in die tuin van die Holocaust Museum ...

                                                        Helder oggend op pad na die Knesset...
                                             Hierdie menorah is deur Brittanje aan Israel geskenk...

Menorah deur Salvador Dali by die Ben Gurion-lughawe...

Kapiteel in die Dawidstad.
 Die ontwerp word op die 5 shekel muntstuk gebruik....

Tonnelkuns ... ondergrond tussen Dawidstad en die Jerusalem Argeologiese Park. 
  Die pad wat die Jode geloop het van die reinigingsbad na die Tempel ...

                                                Groot kitch keramiekmark en toeristestop naby Jericho ...

Draakvrug en granaat ...

                                              Bord by Georgie, die Armeense winkelier ...

                                            Amanda sing in die Kerk van die Heilige Anna
                                             by die Bad van Bethesda ...
                                             
                                                  Skildery in die Cardo in die Ou Stad ...

Joodse mark : eetbare robyne ...
                           
                                                     Poskaartstaander : falafel ...

By Christ Church in Ou Stad ...

Jaffastraat: spookstil op Shabbat ...

Ou bedelaar. Hy is sinoniem met Jaffastraat ...

Spotprent  in Haaretz gelees in die sitkamer van Abraham Hostel ...
Betonblok by Davidka tramstasie om te keer dat terroriste met voertuie in pendelaars inry ...

Detail op deur van die Holy Sepulchure (grafkerk)

Vodka in Rami Levi, 'n Ortodokse Supermark ...

Sitbank by Kibbutz Ginosar naby Galilea ...

Steil straat in Joodse buurt van Ou Stad ..

Besoek aan Ortodokse yeshiva saam met
 hoogswanger Gity ...
  ...Tiaan van die Vrystaat in die woesterny van Judea ...
                                                                         My kamermaat in die Solomon Hotel in Tiberias ...

Oggend op Tempelberg

Die oggend van die November-slagting van Joodse aanbidders by 'n sinagoge in Wes-Jerusalem is die atmosfeer in die Ou Stad gespanne, en meer spesifiek by "Temple Mount".  Geen Moslem mans onder die ouderdom van 50 word toegelaat nie.
     Ek en Emile word ondervra en ons paspoorte ondersoek, maar daarna kan ons vryelik rondstap. Ons word egter nie toegelaat om die "Dome of the Rock" te besoek nie. Dit en die Al Aqsa moskee  op hierdie helige berg is die derde heiligste plek vir Islam in die wereld. (naas Mekka en Medina)


                                                      Bo:  Detail van Dome of the Rock
                                                      Onder:  Detail van Al Aqsa moskee

                                                     Stam van olyfboom... 1 000 jaar oud?

Monday 2 March 2015

Om alleen te reis ...

Storie vir Pluimsaad... Februarie 2015




Uit sommige oorde hoor ek dis onverantwoordelik vir ‘n senior burger om alleen te reis;  ander mense sê weer dis braaf.   Hulle wens hulle het die moed gehad om dit te doen.
     Hoe dit ookal sy, dit is ‘n uitdaging om ‘n reisiger te wees en nie ‘n toeris nie.  Laasgenoemde het ‘n leier, ‘n toerbus,  ‘n toringhoë hotel, ‘n voorskriftelike program en toerlede meestal uit dieselfde land, taal en ouderdomsgroep met diverse pyne en klagtes wat luid aangekondig word.
      ‘n Reisiger daarenteen kies ‘n stad of land en bly geruime tyd op een plek of vertrek na ‘n dag verder,  afhangende van verskeie omstandighede. Omdat jy op jouself aangewys is, reik jy uit na medereisigers, ervaar jy verrassings waaraan jy in jou wildste drome nie gedink het nie. Meeste mense uit hierdie groep se begroting moet op kundige maniere bestuur word om die meeste waarde vir die beursie of kaarthouer  te kan gee.  Dus is die eerste en grootste oorweging VERBLYF.  ‘n Hotel of gastehuis met stergradering is uit. So is  die luukse van ‘n enkelkamer ook.
     Deesdae is hostelle baie gewild en die webtuise Tripadvisor (maar ook talle ander soos Hostelworld.com, hostels.com en hostelworld.com) lei jou na bekostigbare verblyf waar die keuse legio is. Die enigste oorweging is dat jy ‘n kamer of slaapsaal moet deel met drie of vyf of nege ander mense uit alle uithoeke van die aarde.
     So beland ek in November vir die soveelste keer alleen in ‘n hostel. Die keer in Jerusalem, Heilige Stad, ewige inspirasie vir profete, psalmskrywers, digters en ‘n gewone mens soos ek.  My verblyf is na aardsvader Abraham vernoem. Sy gasvryheid is nie ‘n kameelhaartent nie, maar ‘n stewige betongebou van drie vloere met 250 beddens op die Dawidsplein so reg in die middel van Wes-Jerusalem.  
       Die Neshir-taxi (wat 10 passasiers by Ben Gurion-lughawe inwag) laai my by Abraham se voordeur af.  ‘n Jongman uit sy nageslag doen die nodige papierwerk en trek my bankkaart deur sy masjien.  Ek neem my koffer self na die derde vloer (in die hysbak wonder ek nie oor wanneer beurtkrag inskop nie)   Kry ‘n bed saam met drie Chinese meisies, een uit Kanada en ‘n Spaanse  tante met ‘n pruik en pelskraag uit Costa Rica.  Alles is netjies en skoon, met eie stort en naggerief.  Prakties ingerig … tot by ‘n eie haardroër in die kamer waar die winterson vrolik inskyn.
      Vriendelikheid by die eerste ontmoeting van kamermaats gee jou ‘n voorsprong. Word jou glimlag en kort voorstel van jouself nie geesdriftig ontvang nie, moet jy weet jy word of nie verstaan nie, of jou kamergenote soek privaatheid. Jy hou egter altyd die glimlag gereed. 
     In die algemene sit- en eetkamer is dit anders. Daar is van ‘n goed-ingerigte kombuis tot kroegie en gesellige eet- en sitkamer in die ruimte. Mense vra uit, sit langs jou, ensovoorts. Dit is waar die aanloop van my groot verrassing gebeur toe ek my pastagereg die aand van 11 November kook. Terloops die kombuis is met yskaste ingerig waar gaste bederfbare items mag bêre (daar word mandjies met naamkaartjies vir die doel verskaf).
        Ek hoor by ‘n groepie vriendelike Chinese by die stoofplate dat hulle ‘n 4-dag Christen-konferensie bywoon.  Hulle dra almal blou armbandjies. Daar is nog twee dae oor, maar geen kaartjies toe ek navraag doen nie. Die 3,500 konferensiegangers uit 35 lande het al maande voor die tyd bespreek om die “Call 822 Gathering” by te woon.  Byna 3,000 van hulle kom uit China se ongeveer 56 stamme.

      Waarom 822, wil ek weet.  Dit is na aanleiding van Sagaria 8 vers 22, vertel hulle. Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg.
      Die volgende oggend by die selfdiens-ontbyt sit ek oorkant Michelle, ‘n Chinese meisie wat in Singapore woon.  My ‘vriendinne’ van die vorige aand lamenteer dat ek nie teenwoordig kan wees by die konferensie nie.  Britse Brian en sy Chinese vrou wat al die afgelope 25 jaar Joodse Chinese opspoor en terugbring Israel toe, is ook jammer vir my.
     Michelle haal ‘n blou armband uit haar reis-handsak. “Do you want to go to the morning session?” Minute later is ons te voet op pad (2.5 km) na die Internasionale Konferensiesentrum (so bietjie groter as ons een in Kaapstad)
                                              Logo van die Internasionale konferensiesentrum

      My blou armband moet los geheg word sodat ek dit vir die middag- en aandsessie aan Michelle se “Jewish friend” kan gee. Die ouditorium is stampvol toe ons aankom. So ook die “oorloop”-sale. Die spesifieke sessie is sonder agenda. Iedereen wat wil getuig, is welkom. Die lofprysing grens aan oorlogskrete. Die musiek ‘n dosyn desibels te luid vir my gestel.  Die Oosterlinge bid, sing, getuig, spring, gestikuleer … op die verhoog en in hulle sitplekke.  My mond wil oopval. Ek dog ek is in “Jesus se Gym”.
      Mettertyd word dit rustig en dan stap daar groepies op die verhoog om te vertel van vervolging onder die Kommunistiese regime. Ook sendelinge uit Westerse lande vertel van lang tye in die gevangenis. Van erge mishandeling in strafkampe. Tans is die Chinese regering nie intolerant teenoor gelowiges nie, maar die meeste Christene verkies steeds om in huise bymekaar te kom. Dit hoor ek telkemale van die verhoog af wanneer die Mandaryn na Engels getolk word.   “Christianity is freedom, but Chinese Christians still have restrictions. We are not completely free.”

      Michelle sorg dat ek die volgende oggend weer die armband kry. Die keer stap ek saam met kamermaat Nancy, ‘n Kanadees, wat vrywillig vir ‘n organisasie in haar land werk om Jode terug te bring na hulle beloofde land toe.
    Ons word by die Joodse mark ingehaal deur ‘n kort mannetjie in sy middeljare, ene Christopher uit Australië. Dis die werk van die blou armband: die merk van die Jesus-volgeling vir vier dae wat ons bymekaarbring. Hy het te vertelle dat God hom gewys het waar daar olie in die Negev-woestyn is.  Hy probeer om ‘n afspraak met Benjamin Nethanyahu, die Israelse eerste minister, te kry.  Christopher het ook planne vir praktiese woestynbehuising vir die werkers op die aangewese olieveld in sy aktetas.  Hulle kan dit netso kry sou hulle belangstel!
       My laaste sessie is rustiger en georganiseerd.  Die Egipties-gebore Koptiese Christen, David Demian is die voorsitter.  Hy is ‘n mediese dokter wat 20 jaar gelede sendeling geword het.  Ek en Nancy kry sitplek in ‘n “oorloopsaal”.  Die Japanese Christene kry ‘n beurt. Daar word baie gehuil op die verhoog. Ons sien dit op ‘n groot TV-skerm.
       Dan ‘n onverwagte en onvoorstelbare gebeurtenis:  Die getuienisse van Messiaanse Jode en Arabiese Christene.  Hulle vul die verhoog. Omarm mekaar soos broers en bedien Nagmaal aan die duisende teenwoordiges.
    Sou ek die gebeurtenis meegemaak het, die stories gehoor het as ek ‘n toeris was?


bron:  arise5,com
             

  Suid-Afrikaner, Liani van Wyk, het dit reggekry om die afsluitingsfunksie van die konferensie by te woon.