: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Tuesday 20 November 2012

Ritz verby rose in die Karoo

Daar woon 'n roosboer in die "ou" deel van Cradock - met 'n erf tot teenaan die rivier. Hy pluk tans die derde seisoen se rose en bemark dit onder die Bankberg-etiket.
    Vanaf David Muller se stoep sien jy die Bankberg. Vandaar dan die naam. Hy het ongeveer 2 000 struike onder skadunet en dan is daar die bestaande rose  in die oop tuin.
    Hierdie fotos van sy rose en ander snyblomme is twee weke gelede geneem:
                                                                               Inca lelies
Leeubekkies
Delphiniums groei skouerhoogte onder 
die skadunet
Ongesteurd in die oopte ...
Ou Kaapse roos buite
David se Breestraat-tuin

Hierdie ou Kaapse rose het ek Henningsfontein 
toe geneem vir tannie Connie se verjaardag




Monday 19 November 2012

Herinneringe aan rustige Tel Aviv (2010)

Die konflik tussen Israel en die Palestyne (Hamas) van Gaza die af gelope week het my laat terugdink aan die relatief rustige tyd aan die einde van 2010 toe ek saam met Emile in Tel Aviv was.


                                  Eerste dag in Tel Aviv... heel eerste besoek ek 'n boekwinkel.

... dan die groot mark. Proe aan speserye...

In die ou stad Jaffa word troufotos geneem ...

Voor 'n Christelike kerk in Jaffa... 
nie ver van waar Jona deur die haai ingesluk is nie (!)

Die strandgebied tussen Jaffa en Tel Aviv herinner aan PE
(rustige Middelandse see.  Eon sal nie van die flou branders hou nie)

Voor die Kunsmuseum in Tel Aviv
'n Sak sement... oralin die stad is daar bou- of herstelwerk aan die gang
Onder 'n gazebo op die strand ...

'n Moderne promenade ...
.




Sunday 18 November 2012

My neef skeer skaap

Ek ry Henningsfontein toe want my tante vier haar 85ste verjaardag.

                                     Afdraai Suurberg toe uit die Middelburg-Steynsburg pad

   Neef Andre se span skeerders is pas weg, maar sy eie werkers woeker nog in die skeerhuis. Ek stap in en kry die lankvergete reuk van lanolien.
   Alles lyk nog net soos in my oom Kobus se dae toe ek 'n opgeskote enetjie was. Die hout- en draadhokkie vir die sorteer. Die tafel met sy houtrollers. Die baler. Andre het net die proses van pres verbeter.
Andre van der Walt, my tannie Connie se jongste seun


Patrick en Andries druk die wol vas in die baal

Die baal  - van sintetiese stof - word met hakies toegemaak.
Ek onthou nog die baal van going wat met 'n els en tou toegewerk is


Die bale is gemerk en reg vir die veiling in PE
Skeerhuiskat
Tannie Connie maak lekker krummelpap


Vroulike helpers Nicolette en Lucky met hulle kinders
Chandre en Suster







Saturday 17 November 2012

Voordat ek 'n gedagte was

Lank voordat ek gebore is, word my pa Dan Labuscagne uit die boere-adel geskop, Egskeiding en drankmisbruik laat Nicolaas Johannes Labuscagne van Langkloof in die Steynsburg-distrik besluit sy jongste seun is nie werd om die familieplaas en wat daarmee saamgaan, te erf nie.
    So beland hy in ongeveer 1942/3 op Brandvlei, 'n huurplaas. Die eienaar daarvan is Blinklewies van der Walt. Sy vrou, my pa se tweede oudste suster Johanna (Nannie) sou die nuwe eienares van Langkloof. word.
    Ek ken die naam Brandvlei uit my kinderdae toe ek vakansies en naweke op Henningsfontein deurgebring het. My neef Andre van der Walt neem my vroeer die week Brandvlei toe. Die grond le net agter Koperberg wat ek en my niggie en nefies gereeld geklim het.
    Die plaas is verlate. Die eienaars woon elders.
Brandvlei se opstal. Sover ek kon vasstel is die huis in die
 vroee 40's gebou
Ou kraalmuur naby die opstal
Deur van die ou plaasopstal

'n Plaasyskas uit die vorige eeu
Die solder van die ou opstal
Blombossie in Brandvlei se veld

My tannie Connie van der Walt (85) vertel dat my pa 'n bruin egpaar gehad het wat vir hom gewerk het. Toontjies was 'n kort mannetjie en 'n all-rounder. Hy het my pa se Dodge Rosmead toe bestuur wanneer my pa sosiaal gaan verkeer het. Siena, Toontjies se vrou, het gesorg vir die huis.

Laat in 1944 het my pa - saam met my oom Hannes wat op Meadows geboer het - my ma op Rosmead-stasie gaan haal. Sy het van Roberts Heights (nou Voortrekkerhoogte) gereis waar sy 'n verpleegster gedurende die oorlog was om by  haar familie te kuier.

Hulle is in die winter van 1945 getroud. My ma het nie op Brandvlei gebly nie. Pa het grond aan die Noupoortkant van Middelburg gehuur. Vetfontein is die plaas se naam. Dit is waar ek my babajare deurgebring het voordat ons Eldorado toe is.














Wednesday 14 November 2012

Finansies vir die reis!

Af en toe span ek my talente in en verkoop my tyd vir brandstofgeld sodat ek en Getzi Karoo toe kan ry.
       Net voor die Boekefees op Richmond werk ek vir 'n week by Die Burger. My e-pos aan vriendinne verduidelik alles:


Liewe vriendinne (miskien luister 'n vriend ook)

Die Burger vra my 'n tyd gelede om in te staan wanneer die Advertensie-afdeling se vertaler met vakansie gaan.   Voorheen het ek in 'n krisis sommer op Word 'n geregtelike kennisgewing vir hulle vertaal en dan het 'n gedienstige daar die nodige gedoen om dit deur die sisteem te voer.

Laasweek kry ek toe vir 3 ure opleiding op Adsplanet en Eidos. Die een program is vir geklassifiseerd en die ander vir vertoonadvertensies.Vanoggend val ek in en dit voel asof ek vir die eerste keer in daai stoel sit.

Toe dinge te steeks gaan kondig ek aan dat dit Internasionale Dag vir Mense van Gevorderde Leeftyd is.
Nicolette, naaste buurvrou en Bemarkingskoördineerder van DB, neem dit ter harte en help 'n bietjie.
Dit voel soos karstoot om 'n flou battery aan die lewe te kry.

Intussen kom daar ook advertensies in harde kopie deur van verteenwoordigers wat tuis op skootrekenaars werk. (Ek ontvang nie e-pos kopie nie, want Andries Taalman, het 'n "Out of Office" kennisgewing geplant).

So kom daar een deur van twee mooi skippe waarop mense kan vaar. Lekker vol foute en my rooi pen werk lustig.ekkerste fout was waar die advertensie jou uitnooi na die kaptein se Gaga-dinee. Ek werk so lekker aan daai een dat 'n oulike meisie later in my oor kom fluister dat my gesig vol penmerke is.

Ek is vinnig met my blosende gesig by die naaste kleedkamer in (nogal die een met 'n rolstoel-teken op die deur).
   
Dit het later al beter gegaan. Die hoofvrou van die Hof-advertensies kom toe agter dat ek van Middelburg af kom.    Haar pa ook.  Daar smee ons toe 'n lekker vennootskap en sy doen alles in haar vermoe dat ek die rule nisis en eksekusies  verstaan. Ook die likwidasies.  En waar ek moet F2 en F4 en al die ander F'Fe moet druk en doen sodat dit wat ek vertaal en nasien kan kom waar hulle moet kom op watter blad en in watter koerant en op watter dag.

Die lekkerste van alles is dat ek op Pharos se aanlyn woordeboek mag rondblaai.  Die woordeboeke wat van bome gemaak is en in daardie kantoor woon is horingoud, vuil en uitmekaar.  Die enigste een wat vir my 'n lewenslyn is,  is die Regswoordeboek - gedruk in my matriekjaar 1963. En in drie stukke.  Met die inskripsie: Vertalers, Oosterlig.  Daar verlang ek toe snuiwend na Cawoodstraat, Noordeinde. Toe ek mooi en maer was. En ook "on top of it".

Ek moes julle vertel...

  Trudie   

                                              Die Burger se woordbronne uit die vorige eeu!

Op soek na 'n klein dogtertjie

Gister het ek  by Rosmead van die Middelburg - Steynsburg teerpad afgedraai om na Eldorado te gaan soek waar ek vir die laaste keer amptelik "plaaskind" was.
    Skaars 5 toe word ek 'n dorpsdogtertjie, maar die fototjie van my voor die veranda van die Eldorado huis is nie net diep in my geheue gegraveer nie, ek sien dit gereeld.   In 2008 het ek my Karoogedigte gebundel en hierdie kind staan heel gelukkig op die voorblad van die boekie.   Swart leerskoene met bandjies oor die voet. Wit sokkies en kort rokkie met tuisgebreide truitjie. Donker hare groot gestrik.  Skaaphond daarby. Hy is net 'n bietjie uit-ge"photoshop" op die voorblad van karoobossie ek.
   Rosmead was eers 'n bedrywige spoorwegstasie. Maar ek voel die doodsheid van die plek en die verval  versteur die opgewondenheid waarmee ek die reis aangepak het. By 'n platterige blouselblou gebou draai ek links.  Dit is - of was - die Rosmead Hotel. Al lewe daar vandag is 'n deur wat my uitnooi om drank te kom koop.
    Een van my eerste onthoue was juis die reuk van drank. Brandewyn (Mellowood of Oude Meester) vir die boere en sjerrie vir hul vrouens by die Saterdagaand-dans in die hotel. Ek en maatjies het buite in die stof gespeel totdat ons moeg was. Dan het ek onder die stoele teen die muur kom le. Ek kan nie onthou wat my ma vir 'n slaapsagtigheidjie onder my dun lyfie gebruik het nie. Wat ek wel kan onthou was die tantes se hakskoene en die "turn-ups' van die ooms se flannelbroeke.
    Ek draai links by die hotel hoewel daar nie 'n padwyser van 'n soort is nie. 'n Wit bakkie kom uit die stof te voorskyn en ek flikker my lig. Vriendelike jong man stop. Harmsfontein staan op sy Toyota se deur. "Draai voor regs en ry en ry en ry. Dan sal tannie 'n toe hek kry. Daarna nog 'n toe hek voor 'n motorhek en dan ry tannie en ry tannie..."
   Ek maak so. Dit voel soos 'n ewigheid tot by die toe hek. Daar is nie 'n naambord van 'n soort nie. Die plantegroei raak al hoe dunner en verlate. 'n Steenbokkie hardloop oor die pas geskraapte pad. 'n Paar volstruise wei luierig en 'n troppie Merinos skrik vir die geluid van die motor. Daar is nie eers 'n windpomp in sig nie. Ook nie 'n boom of groot struik nie. 
   Die veld lyk vermoeid. Steekgras buig geel in die windjie. Hier is daar sien ek die pers blomkroon van 'n doringvygie. Die geel blommetjies van die ankerkaroo is lankal verdroog. Groot uitgeholde, ingevalle bruin miershope staan oopmond soos pizza-oonde in die son en bak.
   El Dorado (Spaanse spelling) is 'n plek van goud volgens die Suid-Amerikaanse legende waar die kinders met edelstene speel. Die naam het deur die jare vir my so'n romantiese geur getower.
   Sestig jaar gelede het ek vir die laaste keer die pad gery... moontlik in my pa se ou Fargo lorrietjie. Vandag gaan soek ek daardie dogtertjie...
  Oplaas maak die pad 'n regsdraaitjie na 'n driffie en daar klomp 'n populierbrigade saam. Wat 'n welkome verrassing. Dit is seker die fonteintjie wat my ma altyd met nostalgie na verwys het. Dan sien ek die plaaswerf. Nog bome om die huis. Groot denne-, bloekom en peperbome met massiewe stamme. 'n Trekker met sleepwa en 'n persoon met flaphoed en oorpak kom van die tenoorgestelde rigting en gooi 'n es voor die opstal.  Steeds geen naambord.
   Eers dink ek dit is 'n werker, maar hy stap energiek nader en ek kom agter dat dit David Bennie, die eienaar is. Sy pa - ook David - was ons buurman en een van my pa se beste vriende. Hy het tot ver in sy negentigjare geleef. My pa se hart het net tot op 60 gehou.
   Ek maak my sending bekend. Die boer van Eldorado haal sy hoed van sy gelooide gesig af. Sy voorkop is babasag wit. 'n Boere "tan" soos ek my pa op sy dorpsakkers onthou. 
     "Stoepmuurtjie ... nee, die huis is deur die Marais wat na julle hier gewoon het verander." David nooi my vriendelik binne. Sy vrou verduidelik waar die sitkamer vergroot is. Ek sien die rooi stoep aansluit by die bree vloerplanke en gaan sit aan die "stoepkant" van die groot vertrek. Familiefotos, Indiese behangsels, kunsblomme...  My voete is ineens in die swart skoentjies met die bandjies oor die voet, die wit sokkies, die maer beentjies. 
  David vertel vir sy vrou hoe hy en sy broer John en suster Christa graag by ons huis in Smidstraat gekuier het. Van my ouers se hoenderboerdery, groentetuine en later ons konynboerdery. Hoe hulle nog die laaste konyne kom haal het na my pa se dood.
  Ons stap deur die res van die huis. Die binnemure is ongeveer 40 cm dik. 'n Vreemde gevoel pak my beet toe ons die eetkamer binnestap. My ma het vertel hoedat sy  wakker geword het as dit om middernag geklink het of al haar breekgoed in skerwe van die "sideboard" in hierdie kamer afgeval het. Die volgende oggend was alles ongesteurd. Ook hoedat die swart konstabel op plaaspatrollie gevra het of hy sy koffie in die kombuis kan drink want hy voel ongemaklik in die melkkamer buite.

  Die stories het my aangegryp en in karoobossie ek verwoord ek dit so in donkerman:

Op El Dorado / loop 'n spook / hy was my luiers / kook kos, maak botter, bak brood / snags breek hy verwoed  / my ma se skottelgoed / ek hou hom dop / met my baba-oog / vir my sal hy nie soog.

   Ek vra nie die Bennies uit oor die donkerman nie.  Ons loop deur die persketuin. Verby die kweperlaning. Hulle bottel al die vrugte en eet dit in die winter. "Ek kry nie groente aan die gang nie. Dit werk nie by my nie."
    Hulle skaaphond is aan my sy.  Ek soek vergeefs na die stoepmuurtjie.
   Die voortuin is droog.  Tuindwergies staan daar tong in die kies teen die Karooson. 
   "Kyk, die sleepwa agter my trekker is jou pa se Fargo lorrie. My pa het dit by hom gekoop in 1951. Toe het dit 'n houtbak op gehad. My pa het 'n staalbak laat opsit by Groenie se garage op Middelburg. Ek gaan hom nog lank gebruik."
    Ons groet en ek ry stadig weg. Die pad is nie goud nie. Die mense wel edelstene.
    Elke jaar wag hulle vir 'n perske-oes.  Ek het nie gevra met hoeveel skape hulle boer nie. Of daar veediefstal is nie. Of hulle tevrede is met die wolprys...
    Ek het nie 'n hoender of hanslam op die werf gesien nie. Ook nie 'n werker nie. Op die agterstoep het 'n melkemmer nutteloos blink onderstebo gestaan.


                                  By Hannes Louw se plaas Harmsfontein is daar nog baie
                                    aktiwiteit.  Verder word die pad eensaam en vaal.
                                 
                                                                 El Dorado
                              Slaapkamer uit die sitkamer.Kyk hoe breed is die binnemuur
                                  Al die plafonne van die oorspronklike woning lyk so
                                Oorspronklike rooi stoep - nou deel van die nuwe sitkamer
                                     
David Bennie (59) met sy vrou en kleinkind
Meel- en suiker"bin" langs hond se kombers by agterdeur
Bas van reuse boom op werf

Uitsig na Cradock-pad se rigting
Renosterberg duidelik herkenbaar (ook Tafelberg)
                                                                    In die voortuin ...
                                              Volgens David is hierdie werktuig 'n oorblyfsels
                                                           uit my pa se tyd op Eldorado



--------------------------
Eldorado    Allan Edgar Poe (late 19th cent)
Gaily bedight,
A gallant knight,
In sunshine and in shadow,
Had journeyed long,
Singing a song,
In search of Eldorado.

But he grew old-
This knight so bold-
And o'er his heart a shadow
Fell as he found
No spot of ground
That looked like Eldorado.

And, as his strength
Failed him at length,
He met a pilgrim shadow-
"Shadow," said he,
"Where can it be-
This land of Eldorado?"

"Over the Mountains
Of the Moon,
Down the Valley of the Shadow,
Ride, boldly ride,"
The shade replied-
"If you seek for Eldorado!"