: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Sunday 17 June 2012

Sitrusfees op Patensie

Kry gister 'n uitnodiging van vriendin Tinie om saam Patensie toe te ry. Was baie lanklaas in die Gamtoosvallei.
    Dit is 'n pragtige sonskyndag en die Sitruskooperasie wemel van mense, musiek en dinge. Heel eerste aan die beurt is 'n glasie vars lemoensap en dan die befaamde kerkbasaarpannekoek. Daarna koop ons groente vars van die lande af.   'n Kruiwavrag word kar toe gestoot.
     Na die groot werk, moet daar aan die flinke vroue se gebak geproe word.  Ons sit in die teetuin - praat met vreemdelinge en ontmoet vele ou bekendes.


Uit die predikantsvrou se hand - quiche en suurlemoentert. 

      Keuriger koek kry jy nie sommer nie!
         

  Uitvoervrugte ... die gehalte kan jy net koop wanneer jy in die buiteland reis. 
       In die vroee 90's doen ek promosiewerk vir die eerste toerismeroete in die Gamtoosvallei. Die boere wat hulle plase oopstel vir boordtoere, teetuine, wandelpaaie en oornag, betaal my met gawes uit daardie Patensiegrond. Elke Vrydag kom daar 'n aflewering by ons huis aan. Brood, konfyt, broccoli, aartappels, lemoene ...  Gister was 'n lekker verlang na daardie tye ...
       Tinie se skoonsuster Alta Malan nooi ons om haar slaaiboerdery te besigtig. Op Waterwiel word daar op groot skaal geplant, ge-oes, gesny, gewas, geweeg en verpak.  Alles volgens streng reels deur die kopers en verspreides-wetgewing daargestel.
              Alta in die tonnel waar die slaai volgens die hidroponiese metode gekweek word
                                               












Wednesday 13 June 2012

Duur meisies in Korsten

Snuffel is deel van my bestaan en so erf my mddelkind Eon daardie geen.
     So soek ons na blad vir kombuiskaste en dwaal by tweedehandse winkels in Korsten.  Een handelaar het die Amerikaanse president se van gekies vir 'n naam vir sy saak waar jy alles en wat kan bekom wat in brande gered is en moontlik by bankrotvendusies opgeraap is.
     By die Obama-plek is niks 'n winskoop nie.  Tot die winkelpoppe is duur.  Ek het nogal gedink om een saam huistoe te neem...
















Tuesday 12 June 2012

Koningin se uitnodiging

Nou met Elizabeth II se diamant-jubileum kom daar soveel herinneringe van haar hoogheid se 60ste huweliksjaar by my op.
     In 2007 word ek 'n versorger van twee geriatriese siele in die suide van Engeland. Om presies te wees, die "village"  Rogate, 5 myl buite Petersfield.  Ek arriveer einde September by Parsonage Farmhouse - 'n maand na my werkgewers 60 jaar getroud is.
     Ruth Walker Sloan is 'n dierbare mens. Sy is 85 en gediagnoseer met Alzheimer se siekte. Haar man is die moeilike een. Hy is al meer as 9 dekades op aarde en beheer die aardbol se draaie. Ook die son se op en ondergaan! Moeilik!
      Maar ek en Ken Walker Sloan kom redelik oor die weg. Eintlik goed, want toe Elizabeth II se verteenwoordiger in Wes-Sussex hulle uitnooi na Chichester-katedraal om die huweliksherdenking van haar en Prins Phillip by te woon, word ek by die paleispapiere as gas ingesluit.



     Daardie jaar is daar in elke "county" in Engeland dank betuig vir hierdie koninklike huwelik en al die egpare wat in 1947 getroud is, word genooi.
     Nat en koud, maar ons ry Chichester toe. Gelukkig is Sasha, hulle oudste dogter, ook genooi en sy's agter die stuur. Dit is 'n 4nm diens en daar is blom of orrerklank uit plek in die manjifieke gotiese bousel nie.
 Die grootsheid van die 900-jaar oue katedraal sal my altyd bybly.


      Die koningin het haar gesante beveel om die gaste van Wes-Sussex mildelik te trakteer. Die hele kongregasie is na die diens na twee sale genavigeer.  Dit was 'n gedruk en gesteun van mense met kieries, loopringe, rystoele en invalide "buggies".  Ons het tot op die trappies van ons aangewese saal gevorder toe Ruth aankondig dat sy by haar eie huis onthaal wil word.
       Ek het haar soms as my koningin aangespreek en sy het dit altyd geniet.  Op die aand voldoen ons soos een man aan my koningin se versoek. Tot my 91-jarige baas was inskiklik. Dit was 'n gedoente om ons motor in die nat stad op te spoor en die paadjies huistoe donker, nat en nou.
      Tuis het ons in die ruim warm kombuis, voor die Agastoof, partytjie gehou...


    Die Walker Sloans en hulle versorger uit Afrika 
    Ruth se afskeidsgeskenk aan my was paslik... 'n geskenkbewys by Petersfield se boekwinkel. Die meneer moes die bewys gaan koop (eintlik ek, want my bene was beter as syne). Op 'n ander dag het ek en my koningin dorp toe gegaan om my geskenk te gaan uitsoek.  Sy opgewonde saam boekwinkel toe.
   

 Monarchy: The Royal Family at Work het in 2007
verskyn en dit word toe my geskenk.
 
                                    Ruth se afskeidskaartjie aan my binne in die boek...

                                         

Wednesday 6 June 2012

Met Tchaikovsky in die Royal Albert

Sien elke jaar uit na die PROMS-konsert in ons Baaise Veremarksaal.
   Die afgelope uitvoering het baie herinneringe na vore gebring toe die 1812 Overture uitgevoer is en die gehoor moes saamspeel om die kanonskote te laat klink... onder die dirigent Richhard Cock se leiding, met opgeblaaste kardoes-sakkies!
   In die somer van 1979 het ek en Arie die buskruit geruik by die aanhoor van die slot van die overture. Kan nog onthou dat ons so'n mini-piekniek - teen die reels - saamgeneem het. Die res van die program het my ontgaan maar die overture het my bygebly.
   Ek het nooit weer 'n uitvoering daar bygewoon nie, maar tydens my laaste besoek het ek deur die openbare dele van die gebou gestap. Die TV van die verstand is 'n wonderwerk ...

In al sy glorie staan hy daar in Kensington Gore