: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 31 October 2012

Getzi tot redding na brug wegspoel

Na vriende Jo en Georgie se hulpkreet die Sondag na die groot reen in St Francis, het ek en Getzi die volgende dag in die pad geval.
     So vind ons hulle onder die vlagpaal - klaar deur die rivier en rustig aan die wag. Die een kaalbeen en die ander uitgevat in stewels en mus.

                                                                        Jo en Georgie Els

  Ek kon nie nalaat om na die "gat" te gaan kyk wat 'n dag voor die tyd 'n brug was nie. Daar was 'n troep motors en mense ... kompleet soos by 'n plaasbasaar.
     Twee manne met reenklere en waterskoene het deurgestap, elk met 'n stapel koerante.   Hulle is hartlik aan die ander kant ontvang. Sp stuur ek die onderstaande foto na Die Burger toe, asook 'n snapsie nuus oor Tarkastad se magistraat wat terug werk toe haas... en daar word dit toe 'n bladsy 3 berig op 17 Okt.

                                                               Nuus vir die afgesnydes




Salami op Taaiboschfontein

Lank-lank gelede het ek met plaasvleis gewerk. Stadslewe neem my ook weinig na 'n regte, tradisionele slaghuis, maar laasweek, net voor die Boekefees op Richmond kon ek na hartelus maal en stop!
    Gasvrou Annette Erasmus is bekend vir haar geurige gekookte salami. Ons moes eers die pad vat Victoria-Wes toe om topgehalte varkvleis en spek te gaan koop. Tuis in die goed-toegeruste vleiskamer het die koedevleis ontdooi en die speserye en vleisbakke gereed gestaan.

Die fotos vertel die verhaal van salami-maak. Dit is 'n langdurige proses ...     Begin deur blokkies koedoe met blokkies varkvleis en spek te meng. Hoe kouer die vleis is hoe beter. Ek gee nie die kwantiteite nie, wil nie gasvrou se geheim ontbloot nie. Hierby kom salpeter en salami speserye. Meng dan goed.


'n Elektriese vleismeul doen die nodige ...

Die stopper werk egter met die hand. Ek is die onsigbare slingerdraaier aan die regterkant, terwyl Annette die Salami "kous" hanteer. Sy weet net wanneer die regte hoeveelheid gestop is. Dan draai sy die "kous" toe en staan ek reg met die vasbind-tou...

So tussen die stoppery deur moet ons vuurmaak om kole vir die rookproses te maak.
Hier steek Annette die vuur aan...
Salami word in roker gehang. Die kole kom in die stofie langsaan wat met skoorsteen verbind is aan die ou dieseltenkie wat nou 'n nuwe funksie gekry het. 

Nou hang al die salami en word die eikehoutsaagsels op die kole geplaas sodat die proses kan begin.
Nou begin die "babasittery"... Die vuur moet aanhou kole maak en elke uur moet ons die saagsels vervang en
nuwe kole in die stofie sit.   Gelukkig dat ons kole het, want toe kon ons tjoppies braai vir aandete!

Intussen moet die stoompot (ook 'n plaas-uitvindsel) water kry en aangeskakel word. Na drie ure in die roker, is dit tyd om die salami te stoom. Dit neem ongeveer 90 minute om die regte hitte te bereik. Wanneer die temperatuur binne in die salami 69 grade C is, word die elektrisiteit afgeskakel.




Na sowat 30 minute word dit uitgehaal en in die vleiskamer gehang om oornag af te koel. Die volgende oggend by ontbyt mag 'n gas al proe.  Heerlik.



Graaff-Reinet se beker loop oor!

Lentereens in die Karoo het die dam buite Graaff-Reinet meer as volgemaak.  Ek het op 22 Oktober daar verbygery op Pad Richmond toe en op 29 Oktober teruggekom, toe loop die dam steeds oor. Wat 'n gesig! Ek het dit nog net een keer vantevore gesien - verder was dit meestal 'n groot droee pan.



Boekefees op Richmond

Einde Oktober elke jaar is boeketyd op Richmond, die Boekedorp van Suid-Afrika.
   Swaargewigte soos Deon Meyer en David Kramer het hierdie jaar se fees gravitas gegee, en ander skrywers soos Karin Brynard, Ashwin Desai, Darryl David en Welma Odendaal het gewis gesorg vir 'n belewenis.  Gwen Fagan met haar  Roseboek oor die ou Kaapse rose het gesorg vir oorverdowende applous van waardering vir hierdie navorsing.

  Hier is fotoflitse van die naweek:



                                             Boekhandelaar John Donaldson se boekwurm...
  Duisend gebruikte boeke op die sypaadjie en verbygangers mag 'n paar boekies uitkies en gratis wegneem

                                                     

                             Boekwinkels vol boeke en interessate historiese prente en adverensies


Gwen Fagan was daar om haar roosboek bekend te stel
                           Aandete by die Supper Klub en Georgie en Annette ruik aan Karoorose

                                  Vriend Casper Erasmuskyk na die boeke in een van die kamers
                                                    van die Supper Klub-restourant (2011)

Uit my Poolse dagboek


Een van die e-posse wat ek uit Krakow - my geliefkoosde stad in Pole -gestuur het:

"God bless South Africa" het 'n student gistermiddag vir my voor die 16de eeuse Mariakerk op die stadsplein van Krakow gese waar sy boekmerke met die gesig van Jana Pawla (oorlede pous Johannes Paulus II) uitgedeel het.
    Sy "teenwoordigheid" is nog voelbaar in die stad waar hy as Karol Wojtyla gestudeer het en biskop van Krakow was voordat hy pous geword het. Ek stap verby die Biskopale paleis wanneer ek van my verblyf na die ou stadspein gaan.
    Die mooi stad wat sy oorsprong in die 10de eeu het maar  vanjaar 750 jaar gelede deur die ROYAL CHARTER stadstatus gekry het, is nie net 'n visuele fees nie, maar 'n stad wat veral ‘n alleen-reisiger  soos 'n spons absorbeer. Gelukkig maklik om te navigeer en wanneer ek verdwaal beskou ek dit as 'n kreatiewe oefening!
    Ek is presies twee weke in Pole en het 18 Mei met die bus van Tychy af hier aangekom waar ek by die ouers van 'n Poolse dokter wat sedert 1991 in SA werk, gekuier het.
   Stap is die enigste ware manier op Krakow te ontdek en hoewel my voetsole flenters is, kan ek nie ophou om die Hemelse Vader te dank vir die voorreg om hierdie ryk geskiedenis en asembenewende argitektuur mee te maak nie. Hierdie brief is nie 'n geskiedenisles nie, eerder my belewenis van wat gewone mense doen. Daar is 800 000 van hulle, waaronder 170 000 studente is.
    Gisteroggend vroeg  tot by die tradisionele mark noord van die ou stad gestap. Wens julle kon hierdie vrugte en groente sien. 'Fruit and Veg' kan nie kompeteer nie. Rondom die mark het dit soos 'n kwekery gelyk en dan op die buitewyke staan die mense wat nie stalletjies kan beskostig nie.
     Dit was vir my pynlik om te sien hoe ou krom en deurgeleefde vroutjies hulle skamele ware uithou na die kopende publiek: kombuisvadoeke, onderklere, 'n bossie pers irisse, 'n paar potskuurders... 
    'n Artikel in die Krakow Post   (naam vet kursief asb)          het my gemotiveer om na die herwinningsfees op die Blania, 'n groen long 2km suid van die ou stad te stap. Nog nooit so-iets beleef nie. Van springkastele tot sosaties en vodka en baie, baie rommel: die inwoners krakend en steunend onder die gewig van hulle weggooigoed. 
     'n Span jongmense van ongeveer 30 sterk ontvang rommel wat wissel van koerante tot plastiek, glas en ou batterye en die publiek word beloon met jong bome, struike en blomsaad asook eko-vriendelike inkoopsakke.
    'n Bouspan van studente, argitekte en ingenieurs is verantwoordelik vir die omskepping van die rommel in 'n lewensgrootte replika 9ongeveer 25 meter hoog0 van "St Florian's Gate" - 'n 15de eeuse struktuur wat as toegang tot Krakow gedien het.  Ek het nog nooit so-iets beleef nie.
    Hier is soveel om te doen. Omdat ek na die rommelfees (wat 3 dae duur) gegaan het, kon ek nie by die 6de internasionale sopfees uitkom nie.  Gelukkig het ek vandag in die Joodse distrik die klein restaurantjie besoek wat verlede jaar die wenner was. 
    Dus het my middagete bestaan uit 'n bord groenolyf-sop met franse broodjies met 'n swartolyf-tapenade. Smaaklik verby. 
    Onder in my straat staan die enorme Jubilat wat 70,000 vk m beslaan. Dit is in die 70's deur die Kommunistiese regering gebou as 'n "hipermoderne" winkel in die Soviet-Realistiese styl. In die 80's was kos en goedere so skaars volgens die inwoners, dat dit soos 'n spookhuis gevoel het waar honderde mense per dag vir ure in lang toue gestaan het
met die hoop dat daar iets sou wees om te koop.
     In die tyd is die verkoop van drank streng gereguleer, maar was daar 'n lewendige sjebeen-handel. hier in Pole word so'n onwettige vodk-stasie 'n 'melina' genoem.
    Vanoggend 'n gedeelte van die Katolieke mis in die kerk van die Heilige Katherine - 'n Gotiese gebou, met 'n besonderse Barok-altaar - meegemaak. Dit was oplettend hoeveel families met kinders in stootwaens die diens bygewoon het. Gelukkig is die kerk op so'n groot skaal gebou dat 'n moederskamer nie nodig is nie!
    Die 19:00 diens in die enigste "gereformeerde" kerk in krakow bygewoon. Die 'bouwerk aan die Reformati" het vanaf 1622 tot 1673 geduur. Wat onmiddelik opmerkbaar was, was die Christusbeeld aan die kruis by die altaar en nie die maria-en-kind-beeld soos in die 149 katolieke kerke in die stad nie.
    Ek groet eers ... ek moet stadsplein toe. daar wag elke aand 'n verrassing, of 'n militere optog of dokumentere rolprente op 'n 3m x 2 m skerm.  En natuurlik al die straatmusikante... Om 21:00 sorg ek dat ek in my kamer is, dan is dit sterk skemer.

Sunday 21 October 2012

Ou skoolmaat op Jeffreysbaai

Begrafnis bygewoon op J baai en toe vir Johanna Kruger gaan opsoek in haar "nostalgiese" winkeltjie. Ons was saam op skool in Middelburg.

     Die winkeltjie is 'n belewenis::  iets tussen negosie, museum en welsyn. Dit kos mooitrap en lyfdraai om alles te sien en niks af te stamp nie.  En dit is nou nie asof ek nie "clutter" gewoond is nie.



   Om vir Johanna te help om haar voorraad minder te maak het ek twee mooi hoede gekoop. Sal later hulle prentjies wys.
   Nadese het ek nodig gehad om in 'n ander ruimte te wees en afgesit Infood toe, waar daar 'n versameling teepotte is en 'n klant se tert op 'n pragtige beenporseleinbordjie bedien word.


'n Verposing in die rustige teetuin het hierdie beelde opgelewer:






Sweedse gaste en boerebasaar

Boekvriendin Karlien kry toe twee gaste uit Swede, Gunvor en Marianne, en Tinie-met-wortels-in-Gamtoos laai ons almal in haar Citroen vir 'n uitstappie na die NG-Kerk Gamtoosvallei se boerebasaar in 'n massiewe sitruspakstoor.

     Ons het veel meer as basaar en veiling van hoenders en skape gesien. Eers deur die ou Van Stadenspas met die mooiste bome, fynbos en Wisterias langs die padsome (naby Woodrige). Daarna was dit 'n ontmoeting met 'n trop boerbokke by Hankey se Uitkyk.

Dan sluit ons by die menigte aan in Espie Ferreira se pakstoor. Daar hang die valleivroue uit met blomme op koektafels en versierings wat lyk asof dit deur partytjiebeplanners uit Gauteng gedoen is.



  

   Die teetafels was ook opgetooi en elkeen se fokuspunt was 'n teepot vol rose. Hier sit Estelle en Kobus Kok en slimstories praat ...

     Met al ons inkope gelaai het ons by Andrieskraal gaan draai en op die terugpad Padlangs besoek.






Thursday 11 October 2012

Fees vir die oog op Cradock

Die lewe spoed voort en ek kry nou eers tyd om die fotos af te laai wat ek tydens die Schreiner-fees in Augustus geneem het.
   Op 'n straatwandeling met die fokus op die grootwordplekke van Guy Butler, sluit Michael Antrobus hulle privaat woonhuis in Breestraat vir ons oop ...  dit was op sigself 'n fees ...

Boeke op die koffietafel
                                                                       Buffet in eetkamer
                                                     Met die hand-beskilderde plafon...