: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 31 October 2012

Salami op Taaiboschfontein

Lank-lank gelede het ek met plaasvleis gewerk. Stadslewe neem my ook weinig na 'n regte, tradisionele slaghuis, maar laasweek, net voor die Boekefees op Richmond kon ek na hartelus maal en stop!
    Gasvrou Annette Erasmus is bekend vir haar geurige gekookte salami. Ons moes eers die pad vat Victoria-Wes toe om topgehalte varkvleis en spek te gaan koop. Tuis in die goed-toegeruste vleiskamer het die koedevleis ontdooi en die speserye en vleisbakke gereed gestaan.

Die fotos vertel die verhaal van salami-maak. Dit is 'n langdurige proses ...     Begin deur blokkies koedoe met blokkies varkvleis en spek te meng. Hoe kouer die vleis is hoe beter. Ek gee nie die kwantiteite nie, wil nie gasvrou se geheim ontbloot nie. Hierby kom salpeter en salami speserye. Meng dan goed.


'n Elektriese vleismeul doen die nodige ...

Die stopper werk egter met die hand. Ek is die onsigbare slingerdraaier aan die regterkant, terwyl Annette die Salami "kous" hanteer. Sy weet net wanneer die regte hoeveelheid gestop is. Dan draai sy die "kous" toe en staan ek reg met die vasbind-tou...

So tussen die stoppery deur moet ons vuurmaak om kole vir die rookproses te maak.
Hier steek Annette die vuur aan...
Salami word in roker gehang. Die kole kom in die stofie langsaan wat met skoorsteen verbind is aan die ou dieseltenkie wat nou 'n nuwe funksie gekry het. 

Nou hang al die salami en word die eikehoutsaagsels op die kole geplaas sodat die proses kan begin.
Nou begin die "babasittery"... Die vuur moet aanhou kole maak en elke uur moet ons die saagsels vervang en
nuwe kole in die stofie sit.   Gelukkig dat ons kole het, want toe kon ons tjoppies braai vir aandete!

Intussen moet die stoompot (ook 'n plaas-uitvindsel) water kry en aangeskakel word. Na drie ure in die roker, is dit tyd om die salami te stoom. Dit neem ongeveer 90 minute om die regte hitte te bereik. Wanneer die temperatuur binne in die salami 69 grade C is, word die elektrisiteit afgeskakel.




Na sowat 30 minute word dit uitgehaal en in die vleiskamer gehang om oornag af te koel. Die volgende oggend by ontbyt mag 'n gas al proe.  Heerlik.



No comments:

Post a Comment