: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 31 October 2012

Uit my Poolse dagboek


Een van die e-posse wat ek uit Krakow - my geliefkoosde stad in Pole -gestuur het:

"God bless South Africa" het 'n student gistermiddag vir my voor die 16de eeuse Mariakerk op die stadsplein van Krakow gese waar sy boekmerke met die gesig van Jana Pawla (oorlede pous Johannes Paulus II) uitgedeel het.
    Sy "teenwoordigheid" is nog voelbaar in die stad waar hy as Karol Wojtyla gestudeer het en biskop van Krakow was voordat hy pous geword het. Ek stap verby die Biskopale paleis wanneer ek van my verblyf na die ou stadspein gaan.
    Die mooi stad wat sy oorsprong in die 10de eeu het maar  vanjaar 750 jaar gelede deur die ROYAL CHARTER stadstatus gekry het, is nie net 'n visuele fees nie, maar 'n stad wat veral ‘n alleen-reisiger  soos 'n spons absorbeer. Gelukkig maklik om te navigeer en wanneer ek verdwaal beskou ek dit as 'n kreatiewe oefening!
    Ek is presies twee weke in Pole en het 18 Mei met die bus van Tychy af hier aangekom waar ek by die ouers van 'n Poolse dokter wat sedert 1991 in SA werk, gekuier het.
   Stap is die enigste ware manier op Krakow te ontdek en hoewel my voetsole flenters is, kan ek nie ophou om die Hemelse Vader te dank vir die voorreg om hierdie ryk geskiedenis en asembenewende argitektuur mee te maak nie. Hierdie brief is nie 'n geskiedenisles nie, eerder my belewenis van wat gewone mense doen. Daar is 800 000 van hulle, waaronder 170 000 studente is.
    Gisteroggend vroeg  tot by die tradisionele mark noord van die ou stad gestap. Wens julle kon hierdie vrugte en groente sien. 'Fruit and Veg' kan nie kompeteer nie. Rondom die mark het dit soos 'n kwekery gelyk en dan op die buitewyke staan die mense wat nie stalletjies kan beskostig nie.
     Dit was vir my pynlik om te sien hoe ou krom en deurgeleefde vroutjies hulle skamele ware uithou na die kopende publiek: kombuisvadoeke, onderklere, 'n bossie pers irisse, 'n paar potskuurders... 
    'n Artikel in die Krakow Post   (naam vet kursief asb)          het my gemotiveer om na die herwinningsfees op die Blania, 'n groen long 2km suid van die ou stad te stap. Nog nooit so-iets beleef nie. Van springkastele tot sosaties en vodka en baie, baie rommel: die inwoners krakend en steunend onder die gewig van hulle weggooigoed. 
     'n Span jongmense van ongeveer 30 sterk ontvang rommel wat wissel van koerante tot plastiek, glas en ou batterye en die publiek word beloon met jong bome, struike en blomsaad asook eko-vriendelike inkoopsakke.
    'n Bouspan van studente, argitekte en ingenieurs is verantwoordelik vir die omskepping van die rommel in 'n lewensgrootte replika 9ongeveer 25 meter hoog0 van "St Florian's Gate" - 'n 15de eeuse struktuur wat as toegang tot Krakow gedien het.  Ek het nog nooit so-iets beleef nie.
    Hier is soveel om te doen. Omdat ek na die rommelfees (wat 3 dae duur) gegaan het, kon ek nie by die 6de internasionale sopfees uitkom nie.  Gelukkig het ek vandag in die Joodse distrik die klein restaurantjie besoek wat verlede jaar die wenner was. 
    Dus het my middagete bestaan uit 'n bord groenolyf-sop met franse broodjies met 'n swartolyf-tapenade. Smaaklik verby. 
    Onder in my straat staan die enorme Jubilat wat 70,000 vk m beslaan. Dit is in die 70's deur die Kommunistiese regering gebou as 'n "hipermoderne" winkel in die Soviet-Realistiese styl. In die 80's was kos en goedere so skaars volgens die inwoners, dat dit soos 'n spookhuis gevoel het waar honderde mense per dag vir ure in lang toue gestaan het
met die hoop dat daar iets sou wees om te koop.
     In die tyd is die verkoop van drank streng gereguleer, maar was daar 'n lewendige sjebeen-handel. hier in Pole word so'n onwettige vodk-stasie 'n 'melina' genoem.
    Vanoggend 'n gedeelte van die Katolieke mis in die kerk van die Heilige Katherine - 'n Gotiese gebou, met 'n besonderse Barok-altaar - meegemaak. Dit was oplettend hoeveel families met kinders in stootwaens die diens bygewoon het. Gelukkig is die kerk op so'n groot skaal gebou dat 'n moederskamer nie nodig is nie!
    Die 19:00 diens in die enigste "gereformeerde" kerk in krakow bygewoon. Die 'bouwerk aan die Reformati" het vanaf 1622 tot 1673 geduur. Wat onmiddelik opmerkbaar was, was die Christusbeeld aan die kruis by die altaar en nie die maria-en-kind-beeld soos in die 149 katolieke kerke in die stad nie.
    Ek groet eers ... ek moet stadsplein toe. daar wag elke aand 'n verrassing, of 'n militere optog of dokumentere rolprente op 'n 3m x 2 m skerm.  En natuurlik al die straatmusikante... Om 21:00 sorg ek dat ek in my kamer is, dan is dit sterk skemer.

No comments:

Post a Comment