: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Monday 25 November 2013

Turkye storie van lank gelede wen trofee


Toe vat ek die full package is 'n storie wat in 2009 "gebeur" het, maar eers in 2010 geskryf is (Die Burger). 
     Onlangs het ek 'n paar reisverhale ingeskryf vir SKOP se jaarlikse skryfkompetisie (kategorie: Prosa). Vrydagaand ontvang ek toe 'n blinkgevryfde trofee daarvoor....
                                                                                                                                                         

My liewe kinders aan die suidpunt van Afrika....

                                                Ek skryf vir julle die brief uit Kappadocië in Turkye. 

Hierdie streek word ook die land van die mooi perde genoem. Miskien vir julle bekend saam met die provinsies Galasië en Pamfilië in die Klein-Asië van julle katkisasietyd.  Ook nie baie ver wes van berg Ararat waar Noag na die vloed voet aan wal gesit het nie..Die Tigris en Eufraat-riviere is ook in die omtrek.

Dis hier in Kappadocië waar vroeë Christene kerke gekerf het uit die tufa van millennia gelede se vulkaniese geroggel van berg Erciyes en berg Hasan. En dis hier waar busvragte toeriste kom kyk na die surrealistiese omgekeerde roomyskeël-landskap en oorblyfsels van die Bisantynse tydperk. Toeriste staan daagliks net na dagbreek tou om in ‘n lugballon te klim en oor die buitengewone landskap te sweef.

En my liewe kinders, julle wat daar in die suide al die winter aan julle lywe voel, sal nie glo watse onnoembare hitte julle ma hier in die laat lente getref het toe sy vir die full package betaal het nie.    So met die ry deur Kappadocië, dit is ‘n streek van ongeveer 90 x 60 kilometer,
beveel ons Turkse gids, Halit, aan dat diegene wat ‘n Turkse bad wil troef
dit in die Dedeman Hotel, ons oornagstaanplek in Nevsehir, hoofdorp van die streek, kan doen.
Julle ken my as ‘n vrou wat inligting weeg en oorweeg, maar sedert ek twee dae gelede ‘n groeptoermens geword het, is dit so lekker dat andere die las van logistiek op hulle neem, dat julle ma nou vakansie hou en op bevel net In en Uit op die luukse bus of by ‘n besienswaardigheid of by ‘n oorstaning vir die nag.

   Halit se verduideliking van die bad se full package gaan my dus so’n bietjie verby want ek sein die televisie van my verbeelding in en verlusting my aan die voorstellings van die Turkse bad wat ek van die Eyewitness Guide en ander reisgidse onthou. Sonder om dus die dienstekaart by die ontvangstoonbank aan te vra staan ek gou saam met vier ander voornemende Suid-Afrikaanse badders  in die tou vir bespreek en betaal.
   Die 64 Turkse lire maak ‘n noemenswaardige duik in my begroting, maar ek troos my dat dit ‘n onvergeetlike ervaring gaan wees.  Die prys is ongeveer R330. Nogal grootgeld vir ‘n bad, hoewel hierdie een tradisioneel is en “not to be missed”, volgens die hotelreklame.
Afdaal na vloer H
So kom dit toe dat ek en ‘n VLV- vrou van Calvinia om 20:00 vanaand op vloer H (onder grondvlak) ingeboek het. Beide met die heerlike Turkse buffet goed merkbaar in en aan ons lywe, ontklee ons tot op bikinivlak en kry elk ‘n paar plastiek Pep Stores plakkies en ‘n geruite Turkse katoenhanddoek – ‘n tradisionele pestemal. My handdoek moes sedert vervaardiging erg gekrimp het, of so voel dit vir my toe ek die omvang van my lyf daarmee wou toemaak..
    Die eerste stasie is ‘n sauna. Ek is onkant gevang. Die gidsboeke vertel van die 18de eeuse hamams wat ‘n “hotroom” het maar hierdie vrekwarm Finse uitvindsel laat my net daar in my Pep-voetspore vries. “Ten minutes” sê Ohmaa, die Balinese badsersant vir ons en my badmaat uit die Hantam spring in daardie helse hitte in asof sy dit elke dag doen.
    Tien sekondes agter daardie deur, my liewe kinders, toe maak dit vir my sin dat ons op vlak H is.  Ek dag ek is in die voorhalle van die hel, soos burgemeester Genis daai tyd toe PG du Plessis se Korporasiestories gesinsvermaak op televisie was. Julle onthou mos hoe Genis gaan wynproe het in die Kaap en te ordentlik was om die proesels uit te spoeg. Die arme man het toe so in sy wynwaansin in ‘n sauna beland en die water waarna hy so naarstigtelik gevra het, het elke keer op die klippe beland. Wees egter verseker, julle ma was deur hierdie ervaring in totale nugterheid.
Die vuurherd se venster
Iets moet Ohmaa met my doen want ek staan daar soos Lot se vrou en kyk hoe my gedissiplineerde badmaat deur daai vuurherd se venster vraend na my kyk. (Sy sê later die ding se koorspen het 84 grade gewys, maar haar slagter-hartlam, ‘n man wat kos en karkasse ken, sê mens kan al ‘n maaltyd op daai temperatuur voorberei.)
     Toe stop Ohmaa my in die stoomkamer waar my porieë kastig sal oopgaan. “Ten minutes” is die instruksie weer. Ek hou 20 sekondes uit terwyl die vergete vulkane van Kappadocië hulle nat koorsigheid en hittige mistigheid oor my stuur. Baie gedagtes en vrae het deur my kop geloop: Sal ek ongeskaad hier uitkom?  Of sal ek volgens die fynskrif op my reispolis horisontaal terug Suid-Afrika toe?
     Ohmaa se raad met my raak op. “My liewe Balinese badsersant, my porieë is al vir 62 jaar toe. Ek is hitte-intolerant en ek wil nou net op die gidsboek se lou-warm marmer-maagklip lê en met jou skuurpapier kese-lap en olyfseep geskrop word en die res van my “full package” vat met dien verstande dat dit al die pad onder 30 grade is,” sê ek in duidelike en baie stadige Engels.
     'Helderheid oorval daardie eilandgesiggie en sy lei my onder haar klein linkervlerkie weg na die plek van die groot skrop en beduie dat ek moet sit en kyk hoe twee volnaakte Duitse tantes bewerk word.

Draad-loos in die bad se binnekamer
Draad-loos wieg die twee Baie Groot Europese liggame onder die skuurpapier bewegings en beelde van winterse varkslag en driebeenpotte oor knettervure in die Karoo vul my gedagtes in die Turkse badkamer op vlak H van die Dedeman Hotel.
   Ons beurt het gekom. Ek en my Hantam-toermaat is geskuur en ingeseep en ons Afrikastof is afgeskilfer. En dit was lekker. Die lekkerste toe die badsersant ‘n groot kaasdoek, soos uit my kindertyd, in ‘n oulike emmertjie doop. Dit dan soos ‘n sirkus-artieste deur die lug swaai en tot ons verbasing wonderskuimbolle oor ons rooigeskuurde lywe loslaat.  Nie een keer nie, maar drie keer.
    Ons het soos paddaprinsesse gelyk, met bolle sperm van oraloor op ons uitgestort. Die afspoel was net so lekker. Ohmaa gebruik die mooiste plat koper-kommetjies water, vlytig-vinnig gemeng en geskep uit warm en koue krane tegelyk sodat die temperatuurwisseling jou verkwik en regmaak vir die volgende stap: ‘n lekker pommelende massering met olie… Maar helaas masseer sy net my rugkant. Het ek die “fool’s package” gevat, wonder ek?
     Teen die tyd is ek en Ohmaa dik pêlle en sy vertel my hoe sy na haar familie doer ver verlang. Tyd vir ‘n lekker appeltee in die camekan, oftewel portaal, soos die gidsboeke andui wag op my, dink ek. Maar die manlike bestuurder met sy skootrekenaar en oorvol asbak groet my dikbek daar.  Van die teebelofte kom niks.   
Beautipul woman
Die vreemdeling badsersant stap saam na waar my mooi Hantam-vriendin voor die spieël staan en in Afrikaans kla oor haar geruïneerde hairdos. “En dit in ‘n baie sterre-hotel!”  Nuuskierig wil Ohmaa weet wat aan die gang is en ek vertaal dat die “beautiful woman” ontevrede is met die stand van haar kapsel. 
                  “No, she no worry, she very, very beautipul.” (stet: beautipul is reg!)
    En so verlaat ons die hamam. Die hittestryder uit die binne-Karoo en haar “beautipul” Hantam-badmaat. Duur skoongeskrop en baie dors.
     So groet ek julle hier uit my kamer in Kappadocië, my liewe drie kinders. Ek is dankbaar dat ek oorleef het om die hittige storie met julle te kan deel. Glo my, ek is ook wyser as voor die woeste warmte.

Julle ma