: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Saturday 27 April 2013

Lekker op Plett ontspan


  Uitsig vanaf die Beacon Isle Hotel in die rigting Robberg
Plettenbergbaai is nou maar 'n aangename kusdorp, maar wanneer 'n mens nog kan lekker bly in die mooiste pophuis, dan is dit ekstra lekker.
   Vir twee nagte het ek Delphine van Eeden se pophuis gedeel. So onthou ek al die oulike hoekies en visuele opkikkers...



Friday 19 April 2013

Harkerville se Saterdagmark

Wat 'n verrassing ... altyd op die N2 naby Plett gery en dan die terrein van die mark gesien.
   Onlangs was ek op die regte dag in Plett en vriendin Delphine het my op 'n heerlike bewolkte oggend
mark toe geneem...




Ons het die mark van kant tot hoek verken en hier geproe en daar gesels. En toe: die vonds van die dag ...
'n vrou wat geld maak uit mis.  Ek vertel altyd vir mense wat my vra wat ek na aftrede doen, dat ek k*k droogmaak maar hier het ek 'n vrou ontmoet wat dit regtig doen. Sy meng olifantmis met beesmis en sit dan 'n geheime bestandeel by wat die posisie hou van 'n potjie wat sy vorm enn droogmaak. Plant 'n steggie of saailing daarin en  vir maande kry die plant lekker voedsame kos.
So al laggende staan sy by haar potjies en maak dan nog geskenksakkies uit reklamebladsye.

Wednesday 3 April 2013

Oggend op Babylonstoren

Tussen Franschoek en Paarl, naby Pniel, is daar die mooiste "eetbare" plaastuin wat oop is vir besoek teen net R10.
  Babylonstoorn is eintlik 'n klein boetiek-oord met baie luukse verblyf teen ongeveer R4 000 per nag. Besoek jy die tuin, is jy baie bewus van jou finansiele status en oral is daar diskrete kennisgewings wat die tuinbesoeker "afsper" van die hotelgaste.  Vir my was die ervaring honderde rande werd en dit was 'n oggend van diep asemhaal en 'n organiese belewenis.  En ek was daar met my rooi sandale en blou sonhoed...


Daar is elke oggend om 10 uur 'n georganiseerde rondleiding.  Die luukse egter, was om net te stap en na die kwerslanings (op Europese wyse bedraad), persimmonbome, verskeidenheid tamaties, en pampoenanke te kyk. Onder die druiweprieele en groot vrugtebome is daar koelte-sitplek.'n Verkwikking soos min.




'n Glaskweekhuis is gedeeltelik omskep tot tuinkafee met baie sitplek buite vir klein onthale. Daar kan jy vrugtesap bestel, keuse: groen, geel of rooi... ek het dadelik vir my die groen een by die huis kom maak met spinasie, grasuie en kruie uit my eie tuin. Probeer dit. Voeg aie komkommer en tamatiesap by...





Die winkel en wynproelokaal was my laaste stop, maar eers moes ek badkamer toe. Soveel ruimte vir een mens op 'n keer het my verstand te bowe gegaan: individuele handdoekies, olyfseep en velroom se weelde was nog 'n 'n paar uur saam met my.







Ek sou hierdie plaas weer wou besoek wanneer ek 'n dag met blanko agenda het!