: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Thursday 29 March 2012

Die ritz-gene het oorgespoel

Gaaf om te weet - en te ervaar - dat al my kinders padkaarte in hulle bloed het.
      Ek was bevoorreg om saam met aldrie oorsee te reis. Vandag dink ek spesifiek aan Eon se tye saam met my ... en ook hoe maklik hy hier te lande op 'n motorfiets klim met hangmat en kampeerstofie in sy bagasie.

                                       Vroegoggend voor ons huis in PE. Eon gereed vir die pad -
                                                                    ek is nog in my nagklere.

                                                   In 'n restourant in Winchester, Engeland


Voor die Anglikaanse kerk opdie dorpsplein in Petersfield, Hampshire 

Wednesday 28 March 2012

Eerste wittebrood herdenk

Veertig jaar gelede - platsak student - kry ek 'n werksopdrag wat weinig aan die bod kom!
       "Kom saam met ons Karoo toe en koordineer ons huweliksvieringe daar," stel Colin Bowker, deeltydse boer, aan my.
       Spysenier, bruidsuitruster, haarkapster, geselskapsdame ens.  Dit word ek toe in die winter van 1972. Die bruidegom skeer sy skape, die bruid leer Frans en ek kook op 'n antrasietstoof wat elke oggend aan die gang gebid moet word.  
        Vriende en bure kom uit alle oorde van die kontrei. Dit word 'n uitgerekte fees soos daar weinig in die distrik gebeur. Na 'n week sluit ons af met 'n moeder van 'n kaggelparty.
       Ek word genooi om langer te bly sodat ek kan uitrus. Af en toe kom daar nog 'n gas aan dan kom die boer uit die skuur en die nuwe vrou skink tee ..

Die bruid van 40 jaar gelede leer nie meer Frans nie.
Sy kyk na die gevleuldes met die hulp van 'n verkykyer.

        Onlangs volg ek weer die spore waar my pers Volksie van doerietyd gery het. Ver anderkant Cradock, voor jy die hoogte na Witkransrek vat, draai jy af op die Hofmeyer-pad. Wanneer Koffiebus en Teebus helder in die visier kom, is daar 'n links afdraai na Doornberg.  Dan is jy goed op pad Whiteridge toe.\
 
          Die jong deeltydse boer - Colin se seun Duncan - ontvang my hartlik. Weer doen ek die kookwerk. Hierdie keer gekoppel aan ESKOM se kraglyne.

         Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit (byna) dieselfde...

                                                           Leer by die dam op die werf.

                                                    Nieshoutheining om die werftuin te beskerm
  Hoe lank neem dit om tot in vergetelheid op te roes? 

                                             


   Verlate huis by die veepos ...

                    Skape wei nie meer hier nie, maar goue wildebeeste het dit hulle tuiste gemaak

Monday 26 March 2012

'n Baie lang busrit in Tel Aviv

e-Nuus uit Israel ..
Sent: Tuesday, October 5, 2010 8:25 PM

Liewe mense

 Skoondogter Liezel is vanoggend net na 7 weg met 'n toer na die Dooie See en Masada. Ek het by 'n vorige geleentheid aan die Jordanie-kant van die Dooie See "geswem". Een keer in daardie soutwater is genoeg. Tot by weet-jy-waar gebrand van die pekelwater.
    Emile het al ligdag gaan eet want hy en sy seminaargenoot uit Afrika (nou wonend in Parys) moet 'n gesamentlike aanbieding doen en  hulle groot uur van voorbereiding was van 7 - 8 vanoggend.
     Ek het na 'n uitgebreide ontbyt van vrugte, vis, brood, kaas en koffie deur die Kafr Maccabiah Hotel se tuine geloop en vogelsang geluister voordat ek die concierge by ontvangs gevra het om vir my' n busroete uit te werk na die Eretz Israel Museum naby die Universiteit van Tel Aviv.
                                            Die busroete loop deur die besige hospitaalkompleks
                                         Verbode om jou voete op die bus se sitplek te rus!

     Het die mannetjie vir my 'n reuse toer beplan! Alles het so eenvoudig op sy papiertjie gelyk.  Eers ry ons in 'n oostelike rigting na die Sheba Hospitaalkompleks vanwaar ek bus 45 sou kry.  Ons moes deur 'n "checkpoint" waar 'n soldaat die bus kom inspekteer het vir 'n selfmoordbomdraer of skelm van 'n soort.   Aksiebelaai, soos in die flieks.
    Daarna deur 'n klein village met pragtige landerye en tonnels. Heel landelik - het gelyk soos 'n Toskaanse toneel (miskien maar net so mooi na die skok van die soldaat!).
    Ek het omtrent 'n hele toer van die hospitaal "kampus" gehad. Oral afdelings wat name dra van donateurs (seker hoofsaaklik uit Amerika). Baie netjies - en oral jong mense in weermaguniforms wat diensplig doen in die hospitaal.
     Toe wag ek lank saam met 2 ortodokse jongmanne met hulle wangkrulle. Nie een sprak Engels nie en hulle weier om in my gesig te kyk. Ek bid maar ek gaan op die regte bus klim. Mense, daar wag toe 'n toer der toere op my saam met 'n busdrywer wat glo weet waar ek moet afklim.
    Twee en 'n kwart ure nadat ek die hotel verlaat het kom ek by my bestemming aan.  Ek is tot ver noord na die Universiteitskampus se busstasie vervoer.waar my bestuurder hande in die lug gegooi het toe hy my sien.  Daar het die man my aan 'n ander drywer afgegee wat soos 'n generaal gebulder  het dat ek moet SIT.
  Uiteindelik het hy sy bus opgestart en koudgewaai en toe verby my geverfde kop tot diep in my plooie gekyk en gevra of en 'n PEHN SOH NER is. Nouja, so het hierdie lang toer my baie min gekos en in die proses het ek die helfte van Tel Aviv se populasie op en af sien klim en skoenmodes bestudeer - van die baie senior tante met die pienk crocs tot by 'n ortodokse baby met aaklige bruin grootmensskoene aan sy stokkiesdun beentjies.
     Die hele spulletjie het my ongeveer R20 gekos. Die wereld is vol avonture ..

                                                         In die portaal van die museum ...
                                            'n Afdeling van die museum word gewy aan die 
                                                   geskiedenis van die posdiens in Israel

                                            Niks met die posdiens te doen nie. Inderdaad 
                                               "gevaar"in Hebreeus soos ek kon aflei.
     Ek was huiwerig om die terugtog met die bus aan te pak en die museum se inlligtingsbeampte was so gaaf om 'n taxi te bel. 
     Dit is R180 later - vir 'n taxirit van ongeveer 25 minute - en nou het ek pas 'n heerlike aandhappie (lamsmaalvleis in filo met tamatie en pistaccioslaai) in die hotel se kroeg-eetkamer geniet.  My kinders het die strate gevat om te gaan uiteet. Hulle is vandag 2 jaar en 9 maande getroud.

Friday 23 March 2012

Ritz op stadsroete

Kyk soms verby binnestad-verval, dwelmhandelaars, prostitute en bedelaars, dan sien jy jou eie stad met nuwe oog...
      Roete 67 is onlangs bekendgestel na 'n opgradering van Port Elizabeth se bekende Donkin-reserwe. Ek en Rose Roth het gaan kennis maak met Nelson Mandela wat deel van die Mandela Bay Develoipment Agency se hernuwing geword het.





                         Die bekende lighuis - dit huisves nou die toerismekantoor asook 'n koffiewinkel





                                                             Saam met Rose by Nelson

Tuesday 20 March 2012

Reisgenote uit die vorige eeu

Aan die begin van die 70's het die reisgogga my behoorlik begin byt.
     Na 'n onvergeetlike twee weke in Suidwes-Afrika (Namibie) saam met 'n groep vriende en drie voertuie, kry ek altyd 'n onverklaarbare gevoel op die krop van my maag wanneer wiele regmaak vir die lang pad. Miriam Terblanche en De Wet Luttig was saam in die winter van 1973 toe ons via die Kalahari Gemsbokpark na Ethosa toe gereis het.
     In Windhoek en Swakopmund het die kontinentale atmosfeer en boustyl my so aangegryp dat ek geweet het ek gaan eendag ver rondloop. Toe was ek maar net 'n student was moes werk om te oorleef. Na daardie toer het ek en Miriam vele SSA's gedoen. Ons het ons (kampeer)toere na onder andere die Transkei,  Natal en die Oos-Transvaal Sien Suid-Afrika uitstappies genoem.
      Saam met Tinie Malan het ek die Gamtoos-vallei ontdek, het ons saam in Nederland swaar gekry op die (hande)arbeids-mark en in Munchen bier gedrink.
        De Wet het my een keer saamgenooi Buffelsbaai toe. Nie om enige romantiese rede nie - nee, ek moes help om 'n groot opgeblaasde binneband op die dak van sy Anglia (?) vas te hou. My arm was vir weke daarna lam en toe gaan staan en sonnebak ek so erg dat sy ma se vriendin my rooi vel met brandewyn moes bedruip - nes 'n Krismispoeding.
       Die grootste vreugde is natuurlik dat ons steeds vriende is ... en tientalle skreeusnaakse herinneringe deel. Reis? 'n Uitgawe? Nee, definitief 'n geheue-belegging.



Tinie, Miriam, De Wet en ek op Stellenbosch - Maart 2012  

Monday 19 March 2012

Woordfees op Stellenbosch

Inderdaad 'n fees van woorde en mense vir wie ek omgee ..
     Die Getzi was by die duikklopper in die Baai en ek het in my vriendin Tinie Malan se Citroen geklim vir die geleentheid in die Boland. My afpakplek was by vriendin Miriam Terblanche. Ons vriendskap kom van 1971 af en dit was heerlik om hartlik ontvang te word.Die tema van die fees het om GROEN gedraai en die lesings oor "om die droogte groen te skryf", van "groentjie tot skrywer" en die EKOGEDIG was inspirerend.
      Om na die lewens van groot vroue in die Afrikaanse letterkunde, teater en joernalistiek - os MER, Nerina Ferreira en Rykie van Reenen te luister was 'n bonus.
      By die Plataankafee het RSG hiernatoe en daarnatoe gediskoers en met skrywers gepraat. Ek het die eerste praatjie bygewoon ... om 'n groen mens te wees is my ding, dus het ek "hoe leef mens groen" waardeer. Die "bottom line" arm mense leef groener want hulle het minder gemors... maar dit is nie die laaste woord nie. Ek het elke dag by 'n redelik lae-koste behuisingsbuurt verbygestap, en die robbies groei geil.




      Die Sasol Kunsmuseum, waar dit gekook het tydens die fees - Plataankafee,
Boektent en Uitgewerstent.
 


  'n Rytjie teaterstoele by die Antiques Warehouse 


 Benewens woorde het die kuns my geroer. 'n Besoek aan die Rupert-museum was 'n sintuiglike opheffing - die permanente versameling sowel as die beelde van Willem Strydom.. Kan ook nie nalaat om 'n welsynswinkel en antiek-emporium te besoek nie.  Pier Rabie se Antiques Warehouse was 'n fees.  'n Uitstalling onder die titel OBJEK deur bekende Stellenbosche kunstenaars, het die tema groen omhels.


    Om 'n installasie in wording te sien was interessant. Rye en rye hangende appels het 'n "statement" gemaak vir 'n boek oor mishandeling wat vrygestel sou word.   Daar was nie 'n programaanduiding nie maar vir vir my het dit kreatiwiteit en durf voorgestel ...
     Die dorp was feestig... gevoel of ek op 'n filmstel vertoef het:  Straatbeelde, studente, vername mense, knus kafees...en bowenal 'n vredige gevoel in my gemoed.

Friday 16 March 2012

Dag van langstaan vir koninklike kuier

e-pos aan my mense in SA - 2006 ...
kaalvoet in die paleis
Date: Saturday, September 9, 2006, 4:03 PM

Gister dink ek dit is weer hoogtyd dat ek Buckingham toe gaan. Was in 1977 daar om die koninklike kunsversameling te sien. Sedert 1993 gooi tante Liesbet haar staatskamers oop vir die publiek wanneer sy vir twee maande lank die prins en haar Corgi's Skotland toe neem.

Op die internet sê die skakelmense 'buy your ticket online to avoid queing', maar Maandag is mos wasdag en daar behoort nie soveel mense buite te wees nie, is my redenasie. Van Victoria-stasie loop ek af in Buckingham Palace Road en dink hoeveel kopsere die 80-jarige vrou moet he oor die ou huis van haar met die 600 kamers en of sy ook aan die dak moet laat werk soos ek by my stofpaleis in die Baai.

Daar loop ek my vas in ‘n dik pak mense wat op pad is om - soos ek - die 19 staatskamers te gaan besigtig.  Vriende, in soveel toue het ek nog nooit gestaan om in n plek in te kom nie, en soveel personeel -  gelukkig is party seisoenaal, anders was daardie koningshuis bankrot aan salarisse betaal!  Elkeen met n navy-blou pakkie doen ietsie en party speel skelmpies Soduko.

Uiteindelik, toe ek opdaag by een van die 6 betaalpunte, het ek soveel verouder dat ek vir die mannetjie sê ek soek 'n 'over-60' kaartjie en toe spaar en een en ‘n halwe pond.
Dit is toe 12:15 en my kaartjie wys dat ek met 180 ander mense om 13:15 mag begin tou by die ambassadeurs-ingang.

Ek gaan julle nie verveel deur te vertel wat ek alles in die uur gedoen het nie, maar gelukkig is Whittards daar naby - hulle is die teemense en is besig met ‘n promosie van hulle ystee-reeks. Toe laaf ek myself ‘n paar keer daar en gaan staan weer geduldig in die tou waar ons drie maal - tou intakt - weer verskuif is totdat een van die blou pakkies uitskree dat almal nou hulle vloeistowwe moet drink of met bottel en al in die weggooisakke moet gooi want tannie Liesbet soek dit vir haar herwinningsprojek.

Daarna volg die groot sekuriteitsaksie - iets soos op Heathrow - en die vroue met die baie duur hoëhakskoene en kettings om al hulle vasmaakplekke beep erg en aanhoudend en hulle word weggelei vir verdere ondersoek.

Maar Gertruida is op haar gelukkigste deesdae as haar koffer haar huis is en sy loop net met haar dokumentsakkie om haar lyf in die strate van die wêreld rond.  Dus kry ek net n 'nod' toe my 3de wereld-houer deur die X-masjien kom en daar gee ‘n nuwe bloupakkie vir my ‘n stel oorfone om my oudio-gereed te maak.

Van die prag en die praal en die geskiedenis kan julle maar gaan Google. onderaan sal Teen die tyd dat ek kon begin kyk en luister  daar by die GRAND STAIRCASE  en die GREEN ROOM, dink ek maar ‘n mens moet darem iets van jou hier los en die gereedste wat ek toe het is nael van die middeltoon op die linkervoet.

Omdat Liesbet 80 is, word daar ook 80 van jaar werksrokkies uitgestal in ‘n spesiale uitstalling onder die titel DRESS for the OCCASION. Daar sien ek toe wat die Engelse met die klein stukkies van die Cullinan-diamant gemaak het ... net soos ek gedink het ... opgebruik tot by die laaste splintertjie om by hulle queen se werksklere te pas.

In hierdie lokaal was daar talle oorblyfsels van groepe voor my 180 mensies want hulle kon natuurlik nie ophou kyk na Hartnell en Amies se kreasies van die 40tiger-jare af toe Liesbet ‘n planklyfie gehad nie nie.  So begin my voete seer word van die wag om alles te kan sien in die tollende massa mense. (LW ek dra praktiese Clarks sandale). Die beste raad was uittrek en dra ... en was dit nou lekker, ook toe ek saam met ‘n medemens voor een van die reuse tabberdverkoelers uitgevind het dat die masjien ook n ysboks het.

Die mooiste kamer vir my was die MUSIC ROOM, dit is ook hier waar 3 van Liesbet se kleintjies asook William en Harry gedoop is.  In die BALLROOM waar die queen se swaard gebere word wat sy gebruik om die gewone mense te tik wat oulike goed gedoen het kon ons op goue stoele met rooi bekleedsels sit om te wag om weer te tou om die insignia te besigting. Daar bere hulle ook haar ORDE VAN GOEIE HOOP wat sy in 1995 by onse Nelson gekry het ... ag en te fraai,  ‘n prentjie van haar en Madiba toe sy haar orde by een van haar werksrokkies gedra het toe hy vir haar in 1996 gaan kuier het.

Foeitog, dis toe dat ek opmerk dat die rooi mat op plekke al lelik deurgeskuur is en voel sommer skuldig oor die een en n half pond wat hulle te min van my gekry het. Maar nou-ja, kan ook nie die Britse Ryk se probleme myne maak nie.

Ons het ook in ‘n geheim gedeel ... daar naby die musiek-kamer is daar ‘n verskuilde deur waardeur Liesbet van haar eie kwartiere af kan kom - so as't ware 'n uit die bed uit by die werk situasie.  Toe ek klein was het die grootmense altyd van ‘n nuwe uitvindsel of verskynsel gese:  Die Engelse is darem maar slim.  Gister het ek dit met eie oë gesien.  Slim, of slim om na te maak - wat is die verskil nou in die groot skema?

Die bloupakkies het ons netjies tuin toe gestuur aan die einde van ons staatskamertoer en gelukkig het Liesbet daar ‘n oulike ablusie laat oprig vir die gewone mense wat ook jaarliks haar tuinpartye bywoon.  So, dit het my nuwe respek vir haar gegee.  Ons kon ook nog ‘n entjie deur die suidekant van die 20 hektaar tuintjie stap en daar koninklike roomys eet teen die 'rip-off' prys van £2. Toe voel ek nie meer sleg oor my premature 60 nie.

Daar was nie nog tyd om Clarens Huis toe te gaan om vir Charles en Camilla te gaan kuier soos ek die oggend nog van plan was nie.  Die getouery het baie tyd verorber en ek het ‘n afspraak gehad om vir Eon en sy huismaats te kook.  Dus is ek terug stasie toe en met die Victorialyn suid. Ooorgeklim op Stockwell op die Noordlyn en by Tooting Broadway afgeklim en huistoe gehardloop.

Hulle het nog nooit saam om die tafel gesit en eet nie, vertel die 5 huismaats my toe ons die knoffelhoender met baguette en mengelslaai vir intreegereg eet nie. Die beesrol met uie, vars aartappeltjies, gestoofde pruime uit die agtertuin en soetwortels het hulle lam gehad ... dit was moeilik om tot skottelgoedwas te kom.

So kom hierdie Britse verblyf – en my eerste ervaring van ‘n Nanny vir ander mense se kinders wees - tot ‘n einde. Nou is dit Heathrow toe met my koffer op sleeptou.

Wednesday 14 March 2012

Op soek na Groot Vallei

Groot Vallei in Swaershoek tussen Cradock en Somerset-Oos was my oupa en ouma Smith se adres tot 1938. Ek was nog nooit daar nie maar het al soveel stories oor die gesin se wedervaringe gehoor dat ek moes gaan kyk
    Vriend David van Cradock het my een Sondagmiddag in sy veteraan Chev-bakkie oor die Swaershoek-pas geneem. Die plaas is 40 myl van die dorp af en ek kon nie die man se ruimhartigheid tot op die bodem beproef nie. Dit was tog lekker om te sien wat my ma (toe op Rocklands op skool) gesien het in my oupa Hans se ou 1936 Plymouth.


In die Swaershoek pas ... die pad is vir Cowboys gemaak. 

                                                          ... waar die kranse antwoord gee ...

My grootouers het elke ses weke Cradock toe gery. Hulle was nader aan Somerset maar moes altyd 'n draai maak by mnr. Andrew Schoeman van Grootdam, naby die pas. Hulle was sy voormense.

                        So lyk dit wanneer jy deur die pas is en afdaal in die vlaktegebied...
                                                byna soos die Vrystaat op plekke.

Nog 'n uitsig vanaf die pas in die rigting Somerset-Oos


My oupa Hans Smith (agter, middel) met sy agt kinders. My ma Gerty Thomspon, 
voorheen Labuscagne (nee Smith) staan regs van hom 


Na 'n gesprek in Jan 2012 met my tante Connie van der Walt (op die foto staan sy voor my oupa) ek ek die volgende geskryf:

 Connie het op Klipplaat skoolgegaan. (plaas het aan die Mullers behoort)  Dit was 5 myl van Grootvlei af en die treppie is ingespan (een perd) om hulle (sy, de Klerk  en Ben) heen en weer te neem.

Een oggend was die mak merrie dood. Toe word Bismarck ingespan. Die hings wou niks weet nie.  Baldadig.   Middae het hulle self die perd ingebreek.  Die rit skooltoe was ‘n skrikkerige besigheid.   Soggens word sy mudsak voer opgelaai en die kinders se kos ook. Netjies agterop die treppie saam met die skoolboeke – soms ‘n koffertjie, soms in n papiersak of ‘n meelsak.   Sus en Daan en ‘n “vaal exercise boek” en ‘n paar potlode.
By die skool het hulle met lei en griffie gewerk.   

Op 'n dag was Bismarck  aggressief met die inspan.  Tannie Connie het die mooiste navy woljassie aangehad – ‘n geskenk van 'n  niggetjie in die stad.   Bismarck het haar aan die skouer beetgekry. Sy tande dwarsdeur die jas geboor tot in die 8-jarige skouertjie.

Dit was nie die einde van Bismarck se stories nie. Met die drie kinders op die treppie en Hannes as “bestuurder” en De Klerk die houer van die sweep, het die perd vir lusernlaaiers langs die pad geskrik en op hol gegaan. Hannes het eerste afgeval en die leisels het gespat. In die dolle vaart  het die sweephouer ook gou afgeval. Klein Connie het die bankie vasgehou en haar voetjies teen die “dashboard” gestut…

Kerktoe een keer elke ses weke op Zuurfontein met die groen Plymouth. Ou oom Coetzee het daar gebly. Die poskantoor en bushalte was ook daar.   Somers word daar onder die bome kerk gehou. Daarna eet die gelowiges uit piekniekmandjies.

Dit is die enige kere wat die kinders in die kar mag ry. Net kerktoe.   Maar een midddag toe die oumense na middagete gaan rus het, het Connie en Ben skelmpies in die kar gaan speel. In die vrolikheid word Ben se vingers in die deur toegeklap. Sy gekerm en Connie se weemoedige weeklaag oor haar daad het oupa Hans laat uitkom. Albei het  houe met oupa se groot hand saam met die seer vingers en weemoed  gekry.

Later is Connie en de klerk Middelburg se hoerskool toe. Daar uitgevind dat Klipplaat se standaarde maar laag was onderwys-gewys.   Hannes het skool gelos na standerd 6 en op die plaas gehelp.   Met ouma wat baie siek was van al die breuke wat van tyd tot tyd uitgepop het en geopereer moes word, moes die twee hoerskoolkinders teruggaan plaastoe om te gaan help.  Ouma was lang tye bedleend.   Maar gelukkig moes die twee hoerskoolkinders nie ‘n skoolstanderd herhaal nie. “Skool was daardie tyd maklik” se tannie Connie.


Hulle het van die lande af geleef.    Koring gestamp en gekook.  Die res na die meule om in verskillende grade gesif te word vir brood.  Koekmeel het hulle self tuis deur ‘n sif gevryf.   Al koek wat die kinders geken het was ‘n slapkoek wat in ‘n vierkantige emaljebak gebak is.

Broodpanne is gemaak van halwe paraffienblikke. Lekker vet gesmeer voor die deeg ingesit is.    Bakoond is gestook met asbos tot verlangde hitte en dan is die askole versprei en die hitte lekker in die stene van die oond ingetrek.    Een uur later is die brood gaar.













Om 'n ou liefde raak te ritz


Hoe lank is lank?  Miskien is 48 tog in 'n mens se beloofde 70 of so jare...
     Januarie 2012 "stap" ek in by Fred Jordaan se plaas De Keur tussen Schoombee en Middelburg.. Hy is nou 'n afgetrede boer.
      Ons was goed bevriend in sy studentejare op Grootfontein Landboukollege (1964). Dit is 'n warm somerdag maar De Keur is se plaashuis verskaf koelte en gasvryheid. Rosemarie, Fred se vrou en ma van 4, ontvang my gul (altans, ek hoop so!).  Sy luister graag na ons "oiu" stories en die mense wat ons geken het.

Ek en Fred by sy jongste seun James se rivierplesier-plek langs die Groot-Brakrivier 
Hoeweel nie meer aktief betrokke by die boerdery nie, maak Fred nou tuin en kaas!
 Ek het die laaste proesel kaas opge-eet maar daar was baie van die tuin oor om af te neem ...

                                                Sonneblomme in die Karoo ...

                                         Veerpoot se lekker lewe in lushof langs die Groot-Brak


                            Brug oor die Groot-Brak tussen De Keur en Doornberg van John Bowker.
                                      Dis hier waar James Jordaan se "river rafting" plaasvind


By Daggaboersnek is daar lewe

Wanneer jy die N10 uit Port Elizabeth na Middelburg neem, is daar die uitsien na 'n stoppie by die Daggaboer-padstal anderkant Cookhouse.

     Roosterkoek met biltong wag daar en dan word 'n stoepsit met uitsig oor deeltjie van die Karoo brandstof vir die siel en sinne.  Stoepstories wag ook want mede-eienaar Charl Pansegrauw, 'n oud-joernalis onder andere, maak stories van sy "gaste" bymekaar vir publikasie later vanjaar.

     Dis nie verniet dat die plek onlangs as beste SA padstad aangewys is nie. 

     Wanneer jy onder die skadu van die parkeerruimte uitstap is dit onmoontlik om die "uitnodiging" vir 'n veldfluit (dit is as jy manlik is!) te ignoreer nie.    
     Die meisies se plek is diskreet weggesteek en sondernaam. Ek het Fort Fanny voorgestel om die geel deur te versier. Hoop dit word in my ritztyd aangebring.
             

      Daggaboer se kafeekat het 'n unieke bestaan.  Wanneer die gaste te veel aandag gee, klim sy in 'n winkelmandjie

                
                                   Hoe vry kan 'n fluit wees?

Tuesday 13 March 2012

Hulle kom van lank gelede ...

My mense van die aarde waar ek van droogtes en deugde geleer het ...
     Kleintyd het ek Henningsfontein - tussen Middelburg en Steynsburg - as my tweede ouerhuis beskou. My ouers het hulle plaas El Dorado naby Rosmead verkoop toe ek ongeveer 4 jaar oud was en op Henningsfontein het my "plaasbloed" aanhou loop.

Connie van der Walt (84 - my ma se suster) en haar seun Gert (Mossie). Hy is my neef en kort op my hakke wat ouderdom betref. Een van die eerste studente aan UPE wat 'n Ph. D in Wol en Tekstielwetenskap verwerf het. Ongelukkig het 'n beroerte 'n paar jaar gelede sy loopbaan in die wiele gery.

Niggie Gerda Vrey en Gert se vrou Essie

My tante is my enigste skakel met die verlede wat my ma se Smith-familie betref. Ons gesels kopstukke en ek kuier graag. Daar is ook 'n dorpshuis op Middelburg wat altyd tot my beskikking is.


Connie met Bankberg rose van Cradock


My klein-nefies Luan en Andre wat op die plaas grootgeword het.
Hulle is tans studente op Kovsies.



My ook Kobus van der Walt rus al ongeveer 21 jaar onder 'n granietklip in die begraafplaas op Middelburg. My pa Dan Labuscagne is ook daar.  In hierdie perdestal het oom Kobus sy geliefde Amerikaanse saalperd aangehou onthou ek uit my kleinjare.

Na reen in die Karoo ...




Februarie kuier ek op Henningsfontein tussen Middelburg en Steynsburg. Connie en Kobus van der Walt was my tweede stel ouers en ek ken die plaas al 60 jaar.Weinig daar gekom toe werk en gesin prioriteite was. 
     My kuier van 5 dae is gekenmerk deur modder waar daar in my geheue stof was.  Twee heerlike donderstorms en 'n volmaanaand wat deur wolke verskans is...


      Veldstap was brandstof vir liggaam en siel. Laatmiddag het die wolke soos spookasem gelyk en die kleure 'n simfonie.  Om laatsomerveldplante te sien juig, 'n groot heerlikheid.


Windpompe bly vir my verstommende strukture.
Hierdie een was steeks vir 'n paar dae maar twee werkers het dit gou weer in rat gekry!
 


Vingerpol soos ek hom nog nooit gesien het nie



Die Bulbinella in al sy glorie  ... ek noem hom Lieweheerspleister

Blommetjie gedenk aan my ...


Die een loer vir alles en almal wat verbykom ...



En die miere maak reg vir winter ...    Kyk hoe rus die druppel op die bolplant (onder) se groen gesig...
Kleintyd het ek kaalvoet hier gehardloop. Nou is dit wys om my tante se kierie op stap te neem ...


Wanneer die wandeling eindig is daar die vreugde van afdaal na die agterkant van die bekende plaaswerf...