: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 14 March 2012

Op soek na Groot Vallei

Groot Vallei in Swaershoek tussen Cradock en Somerset-Oos was my oupa en ouma Smith se adres tot 1938. Ek was nog nooit daar nie maar het al soveel stories oor die gesin se wedervaringe gehoor dat ek moes gaan kyk
    Vriend David van Cradock het my een Sondagmiddag in sy veteraan Chev-bakkie oor die Swaershoek-pas geneem. Die plaas is 40 myl van die dorp af en ek kon nie die man se ruimhartigheid tot op die bodem beproef nie. Dit was tog lekker om te sien wat my ma (toe op Rocklands op skool) gesien het in my oupa Hans se ou 1936 Plymouth.


In die Swaershoek pas ... die pad is vir Cowboys gemaak. 

                                                          ... waar die kranse antwoord gee ...

My grootouers het elke ses weke Cradock toe gery. Hulle was nader aan Somerset maar moes altyd 'n draai maak by mnr. Andrew Schoeman van Grootdam, naby die pas. Hulle was sy voormense.

                        So lyk dit wanneer jy deur die pas is en afdaal in die vlaktegebied...
                                                byna soos die Vrystaat op plekke.

Nog 'n uitsig vanaf die pas in die rigting Somerset-Oos


My oupa Hans Smith (agter, middel) met sy agt kinders. My ma Gerty Thomspon, 
voorheen Labuscagne (nee Smith) staan regs van hom 


Na 'n gesprek in Jan 2012 met my tante Connie van der Walt (op die foto staan sy voor my oupa) ek ek die volgende geskryf:

 Connie het op Klipplaat skoolgegaan. (plaas het aan die Mullers behoort)  Dit was 5 myl van Grootvlei af en die treppie is ingespan (een perd) om hulle (sy, de Klerk  en Ben) heen en weer te neem.

Een oggend was die mak merrie dood. Toe word Bismarck ingespan. Die hings wou niks weet nie.  Baldadig.   Middae het hulle self die perd ingebreek.  Die rit skooltoe was ‘n skrikkerige besigheid.   Soggens word sy mudsak voer opgelaai en die kinders se kos ook. Netjies agterop die treppie saam met die skoolboeke – soms ‘n koffertjie, soms in n papiersak of ‘n meelsak.   Sus en Daan en ‘n “vaal exercise boek” en ‘n paar potlode.
By die skool het hulle met lei en griffie gewerk.   

Op 'n dag was Bismarck  aggressief met die inspan.  Tannie Connie het die mooiste navy woljassie aangehad – ‘n geskenk van 'n  niggetjie in die stad.   Bismarck het haar aan die skouer beetgekry. Sy tande dwarsdeur die jas geboor tot in die 8-jarige skouertjie.

Dit was nie die einde van Bismarck se stories nie. Met die drie kinders op die treppie en Hannes as “bestuurder” en De Klerk die houer van die sweep, het die perd vir lusernlaaiers langs die pad geskrik en op hol gegaan. Hannes het eerste afgeval en die leisels het gespat. In die dolle vaart  het die sweephouer ook gou afgeval. Klein Connie het die bankie vasgehou en haar voetjies teen die “dashboard” gestut…

Kerktoe een keer elke ses weke op Zuurfontein met die groen Plymouth. Ou oom Coetzee het daar gebly. Die poskantoor en bushalte was ook daar.   Somers word daar onder die bome kerk gehou. Daarna eet die gelowiges uit piekniekmandjies.

Dit is die enige kere wat die kinders in die kar mag ry. Net kerktoe.   Maar een midddag toe die oumense na middagete gaan rus het, het Connie en Ben skelmpies in die kar gaan speel. In die vrolikheid word Ben se vingers in die deur toegeklap. Sy gekerm en Connie se weemoedige weeklaag oor haar daad het oupa Hans laat uitkom. Albei het  houe met oupa se groot hand saam met die seer vingers en weemoed  gekry.

Later is Connie en de klerk Middelburg se hoerskool toe. Daar uitgevind dat Klipplaat se standaarde maar laag was onderwys-gewys.   Hannes het skool gelos na standerd 6 en op die plaas gehelp.   Met ouma wat baie siek was van al die breuke wat van tyd tot tyd uitgepop het en geopereer moes word, moes die twee hoerskoolkinders teruggaan plaastoe om te gaan help.  Ouma was lang tye bedleend.   Maar gelukkig moes die twee hoerskoolkinders nie ‘n skoolstanderd herhaal nie. “Skool was daardie tyd maklik” se tannie Connie.


Hulle het van die lande af geleef.    Koring gestamp en gekook.  Die res na die meule om in verskillende grade gesif te word vir brood.  Koekmeel het hulle self tuis deur ‘n sif gevryf.   Al koek wat die kinders geken het was ‘n slapkoek wat in ‘n vierkantige emaljebak gebak is.

Broodpanne is gemaak van halwe paraffienblikke. Lekker vet gesmeer voor die deeg ingesit is.    Bakoond is gestook met asbos tot verlangde hitte en dan is die askole versprei en die hitte lekker in die stene van die oond ingetrek.    Een uur later is die brood gaar.













No comments:

Post a Comment