: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Monday 26 March 2012

'n Baie lang busrit in Tel Aviv

e-Nuus uit Israel ..
Sent: Tuesday, October 5, 2010 8:25 PM

Liewe mense

 Skoondogter Liezel is vanoggend net na 7 weg met 'n toer na die Dooie See en Masada. Ek het by 'n vorige geleentheid aan die Jordanie-kant van die Dooie See "geswem". Een keer in daardie soutwater is genoeg. Tot by weet-jy-waar gebrand van die pekelwater.
    Emile het al ligdag gaan eet want hy en sy seminaargenoot uit Afrika (nou wonend in Parys) moet 'n gesamentlike aanbieding doen en  hulle groot uur van voorbereiding was van 7 - 8 vanoggend.
     Ek het na 'n uitgebreide ontbyt van vrugte, vis, brood, kaas en koffie deur die Kafr Maccabiah Hotel se tuine geloop en vogelsang geluister voordat ek die concierge by ontvangs gevra het om vir my' n busroete uit te werk na die Eretz Israel Museum naby die Universiteit van Tel Aviv.
                                            Die busroete loop deur die besige hospitaalkompleks
                                         Verbode om jou voete op die bus se sitplek te rus!

     Het die mannetjie vir my 'n reuse toer beplan! Alles het so eenvoudig op sy papiertjie gelyk.  Eers ry ons in 'n oostelike rigting na die Sheba Hospitaalkompleks vanwaar ek bus 45 sou kry.  Ons moes deur 'n "checkpoint" waar 'n soldaat die bus kom inspekteer het vir 'n selfmoordbomdraer of skelm van 'n soort.   Aksiebelaai, soos in die flieks.
    Daarna deur 'n klein village met pragtige landerye en tonnels. Heel landelik - het gelyk soos 'n Toskaanse toneel (miskien maar net so mooi na die skok van die soldaat!).
    Ek het omtrent 'n hele toer van die hospitaal "kampus" gehad. Oral afdelings wat name dra van donateurs (seker hoofsaaklik uit Amerika). Baie netjies - en oral jong mense in weermaguniforms wat diensplig doen in die hospitaal.
     Toe wag ek lank saam met 2 ortodokse jongmanne met hulle wangkrulle. Nie een sprak Engels nie en hulle weier om in my gesig te kyk. Ek bid maar ek gaan op die regte bus klim. Mense, daar wag toe 'n toer der toere op my saam met 'n busdrywer wat glo weet waar ek moet afklim.
    Twee en 'n kwart ure nadat ek die hotel verlaat het kom ek by my bestemming aan.  Ek is tot ver noord na die Universiteitskampus se busstasie vervoer.waar my bestuurder hande in die lug gegooi het toe hy my sien.  Daar het die man my aan 'n ander drywer afgegee wat soos 'n generaal gebulder  het dat ek moet SIT.
  Uiteindelik het hy sy bus opgestart en koudgewaai en toe verby my geverfde kop tot diep in my plooie gekyk en gevra of en 'n PEHN SOH NER is. Nouja, so het hierdie lang toer my baie min gekos en in die proses het ek die helfte van Tel Aviv se populasie op en af sien klim en skoenmodes bestudeer - van die baie senior tante met die pienk crocs tot by 'n ortodokse baby met aaklige bruin grootmensskoene aan sy stokkiesdun beentjies.
     Die hele spulletjie het my ongeveer R20 gekos. Die wereld is vol avonture ..

                                                         In die portaal van die museum ...
                                            'n Afdeling van die museum word gewy aan die 
                                                   geskiedenis van die posdiens in Israel

                                            Niks met die posdiens te doen nie. Inderdaad 
                                               "gevaar"in Hebreeus soos ek kon aflei.
     Ek was huiwerig om die terugtog met die bus aan te pak en die museum se inlligtingsbeampte was so gaaf om 'n taxi te bel. 
     Dit is R180 later - vir 'n taxirit van ongeveer 25 minute - en nou het ek pas 'n heerlike aandhappie (lamsmaalvleis in filo met tamatie en pistaccioslaai) in die hotel se kroeg-eetkamer geniet.  My kinders het die strate gevat om te gaan uiteet. Hulle is vandag 2 jaar en 9 maande getroud.

No comments:

Post a Comment