: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Friday 16 March 2012

Dag van langstaan vir koninklike kuier

e-pos aan my mense in SA - 2006 ...
kaalvoet in die paleis
Date: Saturday, September 9, 2006, 4:03 PM

Gister dink ek dit is weer hoogtyd dat ek Buckingham toe gaan. Was in 1977 daar om die koninklike kunsversameling te sien. Sedert 1993 gooi tante Liesbet haar staatskamers oop vir die publiek wanneer sy vir twee maande lank die prins en haar Corgi's Skotland toe neem.

Op die internet sê die skakelmense 'buy your ticket online to avoid queing', maar Maandag is mos wasdag en daar behoort nie soveel mense buite te wees nie, is my redenasie. Van Victoria-stasie loop ek af in Buckingham Palace Road en dink hoeveel kopsere die 80-jarige vrou moet he oor die ou huis van haar met die 600 kamers en of sy ook aan die dak moet laat werk soos ek by my stofpaleis in die Baai.

Daar loop ek my vas in ‘n dik pak mense wat op pad is om - soos ek - die 19 staatskamers te gaan besigtig.  Vriende, in soveel toue het ek nog nooit gestaan om in n plek in te kom nie, en soveel personeel -  gelukkig is party seisoenaal, anders was daardie koningshuis bankrot aan salarisse betaal!  Elkeen met n navy-blou pakkie doen ietsie en party speel skelmpies Soduko.

Uiteindelik, toe ek opdaag by een van die 6 betaalpunte, het ek soveel verouder dat ek vir die mannetjie sê ek soek 'n 'over-60' kaartjie en toe spaar en een en ‘n halwe pond.
Dit is toe 12:15 en my kaartjie wys dat ek met 180 ander mense om 13:15 mag begin tou by die ambassadeurs-ingang.

Ek gaan julle nie verveel deur te vertel wat ek alles in die uur gedoen het nie, maar gelukkig is Whittards daar naby - hulle is die teemense en is besig met ‘n promosie van hulle ystee-reeks. Toe laaf ek myself ‘n paar keer daar en gaan staan weer geduldig in die tou waar ons drie maal - tou intakt - weer verskuif is totdat een van die blou pakkies uitskree dat almal nou hulle vloeistowwe moet drink of met bottel en al in die weggooisakke moet gooi want tannie Liesbet soek dit vir haar herwinningsprojek.

Daarna volg die groot sekuriteitsaksie - iets soos op Heathrow - en die vroue met die baie duur hoëhakskoene en kettings om al hulle vasmaakplekke beep erg en aanhoudend en hulle word weggelei vir verdere ondersoek.

Maar Gertruida is op haar gelukkigste deesdae as haar koffer haar huis is en sy loop net met haar dokumentsakkie om haar lyf in die strate van die wêreld rond.  Dus kry ek net n 'nod' toe my 3de wereld-houer deur die X-masjien kom en daar gee ‘n nuwe bloupakkie vir my ‘n stel oorfone om my oudio-gereed te maak.

Van die prag en die praal en die geskiedenis kan julle maar gaan Google. onderaan sal Teen die tyd dat ek kon begin kyk en luister  daar by die GRAND STAIRCASE  en die GREEN ROOM, dink ek maar ‘n mens moet darem iets van jou hier los en die gereedste wat ek toe het is nael van die middeltoon op die linkervoet.

Omdat Liesbet 80 is, word daar ook 80 van jaar werksrokkies uitgestal in ‘n spesiale uitstalling onder die titel DRESS for the OCCASION. Daar sien ek toe wat die Engelse met die klein stukkies van die Cullinan-diamant gemaak het ... net soos ek gedink het ... opgebruik tot by die laaste splintertjie om by hulle queen se werksklere te pas.

In hierdie lokaal was daar talle oorblyfsels van groepe voor my 180 mensies want hulle kon natuurlik nie ophou kyk na Hartnell en Amies se kreasies van die 40tiger-jare af toe Liesbet ‘n planklyfie gehad nie nie.  So begin my voete seer word van die wag om alles te kan sien in die tollende massa mense. (LW ek dra praktiese Clarks sandale). Die beste raad was uittrek en dra ... en was dit nou lekker, ook toe ek saam met ‘n medemens voor een van die reuse tabberdverkoelers uitgevind het dat die masjien ook n ysboks het.

Die mooiste kamer vir my was die MUSIC ROOM, dit is ook hier waar 3 van Liesbet se kleintjies asook William en Harry gedoop is.  In die BALLROOM waar die queen se swaard gebere word wat sy gebruik om die gewone mense te tik wat oulike goed gedoen het kon ons op goue stoele met rooi bekleedsels sit om te wag om weer te tou om die insignia te besigting. Daar bere hulle ook haar ORDE VAN GOEIE HOOP wat sy in 1995 by onse Nelson gekry het ... ag en te fraai,  ‘n prentjie van haar en Madiba toe sy haar orde by een van haar werksrokkies gedra het toe hy vir haar in 1996 gaan kuier het.

Foeitog, dis toe dat ek opmerk dat die rooi mat op plekke al lelik deurgeskuur is en voel sommer skuldig oor die een en n half pond wat hulle te min van my gekry het. Maar nou-ja, kan ook nie die Britse Ryk se probleme myne maak nie.

Ons het ook in ‘n geheim gedeel ... daar naby die musiek-kamer is daar ‘n verskuilde deur waardeur Liesbet van haar eie kwartiere af kan kom - so as't ware 'n uit die bed uit by die werk situasie.  Toe ek klein was het die grootmense altyd van ‘n nuwe uitvindsel of verskynsel gese:  Die Engelse is darem maar slim.  Gister het ek dit met eie oë gesien.  Slim, of slim om na te maak - wat is die verskil nou in die groot skema?

Die bloupakkies het ons netjies tuin toe gestuur aan die einde van ons staatskamertoer en gelukkig het Liesbet daar ‘n oulike ablusie laat oprig vir die gewone mense wat ook jaarliks haar tuinpartye bywoon.  So, dit het my nuwe respek vir haar gegee.  Ons kon ook nog ‘n entjie deur die suidekant van die 20 hektaar tuintjie stap en daar koninklike roomys eet teen die 'rip-off' prys van £2. Toe voel ek nie meer sleg oor my premature 60 nie.

Daar was nie nog tyd om Clarens Huis toe te gaan om vir Charles en Camilla te gaan kuier soos ek die oggend nog van plan was nie.  Die getouery het baie tyd verorber en ek het ‘n afspraak gehad om vir Eon en sy huismaats te kook.  Dus is ek terug stasie toe en met die Victorialyn suid. Ooorgeklim op Stockwell op die Noordlyn en by Tooting Broadway afgeklim en huistoe gehardloop.

Hulle het nog nooit saam om die tafel gesit en eet nie, vertel die 5 huismaats my toe ons die knoffelhoender met baguette en mengelslaai vir intreegereg eet nie. Die beesrol met uie, vars aartappeltjies, gestoofde pruime uit die agtertuin en soetwortels het hulle lam gehad ... dit was moeilik om tot skottelgoedwas te kom.

So kom hierdie Britse verblyf – en my eerste ervaring van ‘n Nanny vir ander mense se kinders wees - tot ‘n einde. Nou is dit Heathrow toe met my koffer op sleeptou.

No comments:

Post a Comment