: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Thursday 19 April 2012

Parkeer gou en kyk ...

Male sonder tal ry ek by kunsmuseums en galerye verby met die plan om in te gaan wanneer ek meer tyd het.
    Stop ek toe so by ARTEC in Sentraal, PE om die einde van die Paasuitstalling Karoo Katedraal te "vang" want ek weet dit sal my gees goed doen.
    Visuele dinkwerk kry ek toe ... meer as wat ek ooit verwag het...

Marius Lourens, predikant en kunstenaar, se Blomme by die Kruis 

Ook van Marius Lourens:   Uit optelstukke gemaak en vlekvrye staal doringkroon bygewerk. Met teksdoek op agtergrond

In die week van kreatiwiteit

Leonardo da Vinci se verjaardag word 'n week van kreatiwiteit en innovering vertel die media my.
    Daar ritz ek onverwags hierdie maatskappyvoertuig raak in die buitewyke van Port Elizabeth waar ek weinig kom. En herdenk ek ook sommer die herinnering aan my pers Volksie wat ek in 1971 met muurpapier "oorgetrek" het as 'n reklame-foefie toe ek Walton Wallpaper Company se PE-tak bestuur het.

 

Treurige koek op 'n rommel-tiep

Goeie vriendinne vertel altyd waar nuwe kuierplekkies oopmaak/opskiet hier in Algoabaai.

      So word ons toe gister na Walmer genavigeer waar twee manne 'n saak van "collectables" en koffie begin het. Daar ontdek ek toe dat die Guys hulle saak in my tandarts van baie jare se vorige gebou huisves. Waar pyn was, nou plesier!
       Ina, wat ons genooi het en strewe na 'n Zen-irige leefstyl, vertel in haar sms dat sy 'n "rommeltiep" ontdek het met twee tafels vir koffie ...



Ina, Helena en Tinie kyk die kat uit die boom ...

      Op die oog af 'n eklektiese fees - van kaktusse tot veerpoothoenders - maar by nadere ondersoek is daar 'n paar treurige koekies onder 'n net en drie varsgebakte brode wat ingeval het.  Troos is darem dat daar 'n Griekse sjokoladekoek is wat een van die susters uit Athene seker gebak het.

Kelner sonder spyskaart ...
Alles en nog wat!
Hoenders, kompos en koffie - 'n wenresep?
       Ek het net koffie bestel. Te flou na my smaak, maar die ervaring en ambiance van die plek  was wel die moeite werd.
Vriendelik is die manne beslis ...







Thursday 12 April 2012

Altyd iets nuuts op Graaff-Reinet

Die opwinding by die binnery van sekere Karoodorpe verlaat my nooit.
    Op Graaff-Reinet wag daar altyd iets nuuts. So ontdek ek vir Polka en verlustig my in die klein binnehof van die restourant waar 'n aangepaste windpomp sy waterstraal uitstoot.


Dan kom daar 'n vriendelike kelner te voorskyn en later 'n skyf suurlemoentert uit die boeke ...
Eet met al jou sintuie ...

Langsaan doen The Windmill sake ...   Die plafon van Acacia Karoo se dorings het my asem weggeslaan.


En die kombuiskas is so retro as kan kom.  Ons het 'n groene gehad in Middelbur se kombuis.

Die "cute" roomyskar versier sommer die sypaadjie en nooi jou binne ...


Langsaan verkoop 'n vindingryke persoon toebroodjies...

Saturday 7 April 2012

Vrydag in Jerusalem

Vir baie jare al wens ek dat ek tydens Pase in Jerusalem kan wees om die Via Dolorosa te stap.
   Einde 2010 kry ek die geleentheid om vir een dag in Jerusalem te wees saam met Emile en Liezel. Ek het hard probeer om 'n geestelike ervaring daarvan te maak, maar die wyse waarop toerisme die belewing verander het, het my ontnugter gelaat.
   Gister, ten tye van die Goeie Vrydag kerkdiens, kon ek my besoek aan die Olyfberg en die Lydensweg in 'n mate weer "heilig" maak. Die preek was oor Josef van Arimitea wat sy graf vir Jesus se gebroke liggaam afgegee het. Wanneer jy op die Olyfberg staan is die "rykes" se grafte duidelik sigbaar.
"Rykes" bespreek en bou steeds grafte aan die voet van die Olyfberg 

Emile op die Olyfberg met uitsig oor Jerusalem 
Die vallei onder die Olyfberg
Om saam met 'n bombastiese Joodse toergids Jerusalem binne te gaan is 'n skok vir die sisteem. Voeg dan die doolhoof van die ou Jerusalem en "aan wie behoort watter deel nou" by die mengsel dan slaan ontnugtering jou van jou voete af.  Uiteindelik staan jy op Christus se lydensweg ...
'n Groep uit Afrika sing terwyl hulle saam met lede van 'n monnikke-orde aan die gratis Vrydag-toer van die Via Dolorosa deelneem
Die Via Dolorosa - tot oorlopens toe vol mense ...
'n Geldwisselaar in 'n markstegie langs die Via Dolorosa 

Tuesday 3 April 2012

Palm Sondag in Parys

Vir Kia se 10de verjaardag kry sy 'n reis na Europa. Ons het gedink (gehoop?) dat sy 'n loopbaan in kuns sal volg en wat is dan beter as 'n kunstoer na die grootste en vernaamste museums ...
    So val ons besoek aan Parys in 1995 toe saam met die viering van Jesus se intog in Jerusalem. Saam met 'n menigte Christene kies ons die dag koers na die Notre-Dame op die Ile de la Cite. Wat ek veral sal onthou was die talle sigeuners wat palmtakke verkoop het. Wat 'n prentjie ... die vroue en kinders kleurvol gerok en gedoek wat die takke aanbied en hulle aaneen geteem om dit verkoop te kry.  Ongelukkig was dit voor die tyd toe ek 'n digitale kamera gehad het.


    Die besoek aan die binnekant van die katedraal was erg teleurstellend. Die lang toue besoekers is vir omtrent 5 minute toegelaat om vanaf  'n afgesperde gebied na die pragtige loodglasvensters en Gotiese interieur te kyk.  Gelukkig is daar soveel boeke en beeldmateriaal van die Notre Dame beskikbaar dat ons vir ure self kan toer ...
Maar die murmer van die sigeuners sal altyd vir my die agtergrondmusiek van daardie dag in April 1995 bly.