Februarie kuier ek op Henningsfontein tussen Middelburg en Steynsburg. Connie en Kobus van der Walt was my tweede stel ouers en ek ken die plaas al 60 jaar.Weinig daar gekom toe werk en gesin prioriteite was.
My kuier van 5 dae is gekenmerk deur modder waar daar in my geheue stof was. Twee heerlike donderstorms en 'n volmaanaand wat deur wolke verskans is...
Veldstap was brandstof vir liggaam en siel. Laatmiddag het die wolke soos spookasem gelyk en die kleure 'n simfonie. Om laatsomerveldplante te sien juig, 'n groot heerlikheid.
Windpompe bly vir my verstommende strukture. Hierdie een was steeks vir 'n paar dae maar twee werkers het dit gou weer in rat gekry! |
Vingerpol soos ek hom nog nooit gesien het nie |
Die Bulbinella in al sy glorie ... ek noem hom Lieweheerspleister |
Blommetjie gedenk aan my ... |
Die een loer vir alles en almal wat verbykom ... |
En die miere maak reg vir winter ... Kyk hoe rus die druppel op die bolplant (onder) se groen gesig...
Kleintyd het ek kaalvoet hier gehardloop. Nou is dit wys om my tante se kierie op stap te neem ...
No comments:
Post a Comment