: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Tuesday 12 June 2012

Koningin se uitnodiging

Nou met Elizabeth II se diamant-jubileum kom daar soveel herinneringe van haar hoogheid se 60ste huweliksjaar by my op.
     In 2007 word ek 'n versorger van twee geriatriese siele in die suide van Engeland. Om presies te wees, die "village"  Rogate, 5 myl buite Petersfield.  Ek arriveer einde September by Parsonage Farmhouse - 'n maand na my werkgewers 60 jaar getroud is.
     Ruth Walker Sloan is 'n dierbare mens. Sy is 85 en gediagnoseer met Alzheimer se siekte. Haar man is die moeilike een. Hy is al meer as 9 dekades op aarde en beheer die aardbol se draaie. Ook die son se op en ondergaan! Moeilik!
      Maar ek en Ken Walker Sloan kom redelik oor die weg. Eintlik goed, want toe Elizabeth II se verteenwoordiger in Wes-Sussex hulle uitnooi na Chichester-katedraal om die huweliksherdenking van haar en Prins Phillip by te woon, word ek by die paleispapiere as gas ingesluit.



     Daardie jaar is daar in elke "county" in Engeland dank betuig vir hierdie koninklike huwelik en al die egpare wat in 1947 getroud is, word genooi.
     Nat en koud, maar ons ry Chichester toe. Gelukkig is Sasha, hulle oudste dogter, ook genooi en sy's agter die stuur. Dit is 'n 4nm diens en daar is blom of orrerklank uit plek in die manjifieke gotiese bousel nie.
 Die grootsheid van die 900-jaar oue katedraal sal my altyd bybly.


      Die koningin het haar gesante beveel om die gaste van Wes-Sussex mildelik te trakteer. Die hele kongregasie is na die diens na twee sale genavigeer.  Dit was 'n gedruk en gesteun van mense met kieries, loopringe, rystoele en invalide "buggies".  Ons het tot op die trappies van ons aangewese saal gevorder toe Ruth aankondig dat sy by haar eie huis onthaal wil word.
       Ek het haar soms as my koningin aangespreek en sy het dit altyd geniet.  Op die aand voldoen ons soos een man aan my koningin se versoek. Tot my 91-jarige baas was inskiklik. Dit was 'n gedoente om ons motor in die nat stad op te spoor en die paadjies huistoe donker, nat en nou.
      Tuis het ons in die ruim warm kombuis, voor die Agastoof, partytjie gehou...


    Die Walker Sloans en hulle versorger uit Afrika 
    Ruth se afskeidsgeskenk aan my was paslik... 'n geskenkbewys by Petersfield se boekwinkel. Die meneer moes die bewys gaan koop (eintlik ek, want my bene was beter as syne). Op 'n ander dag het ek en my koningin dorp toe gegaan om my geskenk te gaan uitsoek.  Sy opgewonde saam boekwinkel toe.
   

 Monarchy: The Royal Family at Work het in 2007
verskyn en dit word toe my geskenk.
 
                                    Ruth se afskeidskaartjie aan my binne in die boek...

                                         

No comments:

Post a Comment