: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 14 November 2012

Op soek na 'n klein dogtertjie

Gister het ek  by Rosmead van die Middelburg - Steynsburg teerpad afgedraai om na Eldorado te gaan soek waar ek vir die laaste keer amptelik "plaaskind" was.
    Skaars 5 toe word ek 'n dorpsdogtertjie, maar die fototjie van my voor die veranda van die Eldorado huis is nie net diep in my geheue gegraveer nie, ek sien dit gereeld.   In 2008 het ek my Karoogedigte gebundel en hierdie kind staan heel gelukkig op die voorblad van die boekie.   Swart leerskoene met bandjies oor die voet. Wit sokkies en kort rokkie met tuisgebreide truitjie. Donker hare groot gestrik.  Skaaphond daarby. Hy is net 'n bietjie uit-ge"photoshop" op die voorblad van karoobossie ek.
   Rosmead was eers 'n bedrywige spoorwegstasie. Maar ek voel die doodsheid van die plek en die verval  versteur die opgewondenheid waarmee ek die reis aangepak het. By 'n platterige blouselblou gebou draai ek links.  Dit is - of was - die Rosmead Hotel. Al lewe daar vandag is 'n deur wat my uitnooi om drank te kom koop.
    Een van my eerste onthoue was juis die reuk van drank. Brandewyn (Mellowood of Oude Meester) vir die boere en sjerrie vir hul vrouens by die Saterdagaand-dans in die hotel. Ek en maatjies het buite in die stof gespeel totdat ons moeg was. Dan het ek onder die stoele teen die muur kom le. Ek kan nie onthou wat my ma vir 'n slaapsagtigheidjie onder my dun lyfie gebruik het nie. Wat ek wel kan onthou was die tantes se hakskoene en die "turn-ups' van die ooms se flannelbroeke.
    Ek draai links by die hotel hoewel daar nie 'n padwyser van 'n soort is nie. 'n Wit bakkie kom uit die stof te voorskyn en ek flikker my lig. Vriendelike jong man stop. Harmsfontein staan op sy Toyota se deur. "Draai voor regs en ry en ry en ry. Dan sal tannie 'n toe hek kry. Daarna nog 'n toe hek voor 'n motorhek en dan ry tannie en ry tannie..."
   Ek maak so. Dit voel soos 'n ewigheid tot by die toe hek. Daar is nie 'n naambord van 'n soort nie. Die plantegroei raak al hoe dunner en verlate. 'n Steenbokkie hardloop oor die pas geskraapte pad. 'n Paar volstruise wei luierig en 'n troppie Merinos skrik vir die geluid van die motor. Daar is nie eers 'n windpomp in sig nie. Ook nie 'n boom of groot struik nie. 
   Die veld lyk vermoeid. Steekgras buig geel in die windjie. Hier is daar sien ek die pers blomkroon van 'n doringvygie. Die geel blommetjies van die ankerkaroo is lankal verdroog. Groot uitgeholde, ingevalle bruin miershope staan oopmond soos pizza-oonde in die son en bak.
   El Dorado (Spaanse spelling) is 'n plek van goud volgens die Suid-Amerikaanse legende waar die kinders met edelstene speel. Die naam het deur die jare vir my so'n romantiese geur getower.
   Sestig jaar gelede het ek vir die laaste keer die pad gery... moontlik in my pa se ou Fargo lorrietjie. Vandag gaan soek ek daardie dogtertjie...
  Oplaas maak die pad 'n regsdraaitjie na 'n driffie en daar klomp 'n populierbrigade saam. Wat 'n welkome verrassing. Dit is seker die fonteintjie wat my ma altyd met nostalgie na verwys het. Dan sien ek die plaaswerf. Nog bome om die huis. Groot denne-, bloekom en peperbome met massiewe stamme. 'n Trekker met sleepwa en 'n persoon met flaphoed en oorpak kom van die tenoorgestelde rigting en gooi 'n es voor die opstal.  Steeds geen naambord.
   Eers dink ek dit is 'n werker, maar hy stap energiek nader en ek kom agter dat dit David Bennie, die eienaar is. Sy pa - ook David - was ons buurman en een van my pa se beste vriende. Hy het tot ver in sy negentigjare geleef. My pa se hart het net tot op 60 gehou.
   Ek maak my sending bekend. Die boer van Eldorado haal sy hoed van sy gelooide gesig af. Sy voorkop is babasag wit. 'n Boere "tan" soos ek my pa op sy dorpsakkers onthou. 
     "Stoepmuurtjie ... nee, die huis is deur die Marais wat na julle hier gewoon het verander." David nooi my vriendelik binne. Sy vrou verduidelik waar die sitkamer vergroot is. Ek sien die rooi stoep aansluit by die bree vloerplanke en gaan sit aan die "stoepkant" van die groot vertrek. Familiefotos, Indiese behangsels, kunsblomme...  My voete is ineens in die swart skoentjies met die bandjies oor die voet, die wit sokkies, die maer beentjies. 
  David vertel vir sy vrou hoe hy en sy broer John en suster Christa graag by ons huis in Smidstraat gekuier het. Van my ouers se hoenderboerdery, groentetuine en later ons konynboerdery. Hoe hulle nog die laaste konyne kom haal het na my pa se dood.
  Ons stap deur die res van die huis. Die binnemure is ongeveer 40 cm dik. 'n Vreemde gevoel pak my beet toe ons die eetkamer binnestap. My ma het vertel hoedat sy  wakker geword het as dit om middernag geklink het of al haar breekgoed in skerwe van die "sideboard" in hierdie kamer afgeval het. Die volgende oggend was alles ongesteurd. Ook hoedat die swart konstabel op plaaspatrollie gevra het of hy sy koffie in die kombuis kan drink want hy voel ongemaklik in die melkkamer buite.

  Die stories het my aangegryp en in karoobossie ek verwoord ek dit so in donkerman:

Op El Dorado / loop 'n spook / hy was my luiers / kook kos, maak botter, bak brood / snags breek hy verwoed  / my ma se skottelgoed / ek hou hom dop / met my baba-oog / vir my sal hy nie soog.

   Ek vra nie die Bennies uit oor die donkerman nie.  Ons loop deur die persketuin. Verby die kweperlaning. Hulle bottel al die vrugte en eet dit in die winter. "Ek kry nie groente aan die gang nie. Dit werk nie by my nie."
    Hulle skaaphond is aan my sy.  Ek soek vergeefs na die stoepmuurtjie.
   Die voortuin is droog.  Tuindwergies staan daar tong in die kies teen die Karooson. 
   "Kyk, die sleepwa agter my trekker is jou pa se Fargo lorrie. My pa het dit by hom gekoop in 1951. Toe het dit 'n houtbak op gehad. My pa het 'n staalbak laat opsit by Groenie se garage op Middelburg. Ek gaan hom nog lank gebruik."
    Ons groet en ek ry stadig weg. Die pad is nie goud nie. Die mense wel edelstene.
    Elke jaar wag hulle vir 'n perske-oes.  Ek het nie gevra met hoeveel skape hulle boer nie. Of daar veediefstal is nie. Of hulle tevrede is met die wolprys...
    Ek het nie 'n hoender of hanslam op die werf gesien nie. Ook nie 'n werker nie. Op die agterstoep het 'n melkemmer nutteloos blink onderstebo gestaan.


                                  By Hannes Louw se plaas Harmsfontein is daar nog baie
                                    aktiwiteit.  Verder word die pad eensaam en vaal.
                                 
                                                                 El Dorado
                              Slaapkamer uit die sitkamer.Kyk hoe breed is die binnemuur
                                  Al die plafonne van die oorspronklike woning lyk so
                                Oorspronklike rooi stoep - nou deel van die nuwe sitkamer
                                     
David Bennie (59) met sy vrou en kleinkind
Meel- en suiker"bin" langs hond se kombers by agterdeur
Bas van reuse boom op werf

Uitsig na Cradock-pad se rigting
Renosterberg duidelik herkenbaar (ook Tafelberg)
                                                                    In die voortuin ...
                                              Volgens David is hierdie werktuig 'n oorblyfsels
                                                           uit my pa se tyd op Eldorado



--------------------------
Eldorado    Allan Edgar Poe (late 19th cent)
Gaily bedight,
A gallant knight,
In sunshine and in shadow,
Had journeyed long,
Singing a song,
In search of Eldorado.

But he grew old-
This knight so bold-
And o'er his heart a shadow
Fell as he found
No spot of ground
That looked like Eldorado.

And, as his strength
Failed him at length,
He met a pilgrim shadow-
"Shadow," said he,
"Where can it be-
This land of Eldorado?"

"Over the Mountains
Of the Moon,
Down the Valley of the Shadow,
Ride, boldly ride,"
The shade replied-
"If you seek for Eldorado!" 

No comments:

Post a Comment