: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Saturday 17 November 2012

Voordat ek 'n gedagte was

Lank voordat ek gebore is, word my pa Dan Labuscagne uit die boere-adel geskop, Egskeiding en drankmisbruik laat Nicolaas Johannes Labuscagne van Langkloof in die Steynsburg-distrik besluit sy jongste seun is nie werd om die familieplaas en wat daarmee saamgaan, te erf nie.
    So beland hy in ongeveer 1942/3 op Brandvlei, 'n huurplaas. Die eienaar daarvan is Blinklewies van der Walt. Sy vrou, my pa se tweede oudste suster Johanna (Nannie) sou die nuwe eienares van Langkloof. word.
    Ek ken die naam Brandvlei uit my kinderdae toe ek vakansies en naweke op Henningsfontein deurgebring het. My neef Andre van der Walt neem my vroeer die week Brandvlei toe. Die grond le net agter Koperberg wat ek en my niggie en nefies gereeld geklim het.
    Die plaas is verlate. Die eienaars woon elders.
Brandvlei se opstal. Sover ek kon vasstel is die huis in die
 vroee 40's gebou
Ou kraalmuur naby die opstal
Deur van die ou plaasopstal

'n Plaasyskas uit die vorige eeu
Die solder van die ou opstal
Blombossie in Brandvlei se veld

My tannie Connie van der Walt (85) vertel dat my pa 'n bruin egpaar gehad het wat vir hom gewerk het. Toontjies was 'n kort mannetjie en 'n all-rounder. Hy het my pa se Dodge Rosmead toe bestuur wanneer my pa sosiaal gaan verkeer het. Siena, Toontjies se vrou, het gesorg vir die huis.

Laat in 1944 het my pa - saam met my oom Hannes wat op Meadows geboer het - my ma op Rosmead-stasie gaan haal. Sy het van Roberts Heights (nou Voortrekkerhoogte) gereis waar sy 'n verpleegster gedurende die oorlog was om by  haar familie te kuier.

Hulle is in die winter van 1945 getroud. My ma het nie op Brandvlei gebly nie. Pa het grond aan die Noupoortkant van Middelburg gehuur. Vetfontein is die plaas se naam. Dit is waar ek my babajare deurgebring het voordat ons Eldorado toe is.














No comments:

Post a Comment