: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 14 November 2012

Finansies vir die reis!

Af en toe span ek my talente in en verkoop my tyd vir brandstofgeld sodat ek en Getzi Karoo toe kan ry.
       Net voor die Boekefees op Richmond werk ek vir 'n week by Die Burger. My e-pos aan vriendinne verduidelik alles:


Liewe vriendinne (miskien luister 'n vriend ook)

Die Burger vra my 'n tyd gelede om in te staan wanneer die Advertensie-afdeling se vertaler met vakansie gaan.   Voorheen het ek in 'n krisis sommer op Word 'n geregtelike kennisgewing vir hulle vertaal en dan het 'n gedienstige daar die nodige gedoen om dit deur die sisteem te voer.

Laasweek kry ek toe vir 3 ure opleiding op Adsplanet en Eidos. Die een program is vir geklassifiseerd en die ander vir vertoonadvertensies.Vanoggend val ek in en dit voel asof ek vir die eerste keer in daai stoel sit.

Toe dinge te steeks gaan kondig ek aan dat dit Internasionale Dag vir Mense van Gevorderde Leeftyd is.
Nicolette, naaste buurvrou en Bemarkingskoördineerder van DB, neem dit ter harte en help 'n bietjie.
Dit voel soos karstoot om 'n flou battery aan die lewe te kry.

Intussen kom daar ook advertensies in harde kopie deur van verteenwoordigers wat tuis op skootrekenaars werk. (Ek ontvang nie e-pos kopie nie, want Andries Taalman, het 'n "Out of Office" kennisgewing geplant).

So kom daar een deur van twee mooi skippe waarop mense kan vaar. Lekker vol foute en my rooi pen werk lustig.ekkerste fout was waar die advertensie jou uitnooi na die kaptein se Gaga-dinee. Ek werk so lekker aan daai een dat 'n oulike meisie later in my oor kom fluister dat my gesig vol penmerke is.

Ek is vinnig met my blosende gesig by die naaste kleedkamer in (nogal die een met 'n rolstoel-teken op die deur).
   
Dit het later al beter gegaan. Die hoofvrou van die Hof-advertensies kom toe agter dat ek van Middelburg af kom.    Haar pa ook.  Daar smee ons toe 'n lekker vennootskap en sy doen alles in haar vermoe dat ek die rule nisis en eksekusies  verstaan. Ook die likwidasies.  En waar ek moet F2 en F4 en al die ander F'Fe moet druk en doen sodat dit wat ek vertaal en nasien kan kom waar hulle moet kom op watter blad en in watter koerant en op watter dag.

Die lekkerste van alles is dat ek op Pharos se aanlyn woordeboek mag rondblaai.  Die woordeboeke wat van bome gemaak is en in daardie kantoor woon is horingoud, vuil en uitmekaar.  Die enigste een wat vir my 'n lewenslyn is,  is die Regswoordeboek - gedruk in my matriekjaar 1963. En in drie stukke.  Met die inskripsie: Vertalers, Oosterlig.  Daar verlang ek toe snuiwend na Cawoodstraat, Noordeinde. Toe ek mooi en maer was. En ook "on top of it".

Ek moes julle vertel...

  Trudie   

                                              Die Burger se woordbronne uit die vorige eeu!

No comments:

Post a Comment