: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 4 May 2016

Met ope arms in Gozo...

My tweede Couchsurfing adres was by Jolita en Gordon in Xlendi op die "baba"eiland Gozo.
   Van die oomblik dat Jolita my by die Mgarr veerboothawe ontmoet het totdat sy my 5 dae later weer daar besorg het, was dit asof ons mekaar dekades lank ken.
    Die rusbank in hulle moderne huis in Xlendi is uit die boonste rakke, maar ek kry 'n privaatkamer en my eie sleutel.
                                en ek word hartlik deur Pupu, die ses-weke oue Persiese kat verwelkom...
                                                   
Pupu hou wag in Gordon se plakkies voor my kamerdeur
Meubelstel vir die terras word afgelewer tydens my besoek...
en ons wy die nuwe meubels in met Fitura, bier en wyn!

Jolita is 'n sake-administrateur van Lithaue en al 5 jaar met Gordon getroud.
Hy is 'n Maltees en 'n toegewyde gim-onderwyser in Victoria, hoofstad van Gozo.


My klein geskenkies uit SA..
Hulle eetkamer met trappe na hoofslaapkamer en terras
Seniorkat Katyte se huis
Ek is elke aand verwen met 'n sjokolade uit hierdie doos!

Uitsig oor Xlendibaai vanaf my gaspaar se straat

Fort aan die linkerkant van Xlendibaai

2011
2016


Gasvryheid uit die boonste rakke op Gozo  (bydrae vir Skryfkring,,,)

A stranger ‘s just a friend you do not know, sing Jim Reeves aan die einde van my skoolloopbaan in die vroee Sestigerjare.
               My Karoodorp, Middelburg, is klein en mense ken mekaar. Vreemdelinge is meestal die handelsreisigers wat verbykom en die landboustudente op Grootfontein… maar hulle raak ook ou bekendes voordat die tweejaar- diploma afgehandel is.
                Intussen verander die wereld en ek raak katvoet vir onbekendes wat swendel en met die grootmaak van kinders is daar veldtogte wat waarsku:   Don’t talk to strangers.
                Tussen die twee “pole” bevind ek my met die aanpak van alleenreise die vreemde in.   Geen groot gevare beval my nie en so beland ek in my eerste dekade van senior-wees op ‘n internasionale reisigers “vriendekring” met die titel COUCHSURFING.  Alles op aandrang van my dogter en gou kry ons versoeke van vreemdes om ‘n nag of twee op die gastebed in ons Stofpaleis deur te bring.
               Die afgelope jare speel ons gasvrou vir reisigers uit alle windrigtings.  Waneer hulle na ‘n nag of drie vertrek, voel dit soos afskeid van familie.  Met heelwat van die mense voer ek en Kia nog  kuber-korrespondensie.
              Nooit in die tyd, oorweeg  ek dit om ‘n gratis rusbank of  opslaanbed  oorkant die water te soek nie.  Totdat my dogter haar voet neersit met die reel van my onlangse reis na Malta. 
             Daar sit ek toe een besige Vrydagmiddag by die veerboot-terminaal  in Mgarr op Gozo in die Middellandse see en wag vir Jolita. Gozo is ‘n 40-minute bootvaart van die noordelikste punt van Malta.  14km x 7km klein,  en nie eers  ‘n speldeprik op die wereldkaart nie….
             Van die oomblik dat ek die pragtige vrou van Litaue ontmoet, gaan dit klopdisselboom. Jolita het ‘n meestersgraad in Sake-administrasie aan die universiteit van Malta kom doen, het gebly, en is vyf jaar gelede met Gordon, ‘n Liggaamsopvoeding en Biologie-onderwyser getroud.  Gordon is ‘n boorling van Gozo en een van 30 000 inwoners op die eiland. Hulle verkies om Gozitane genoem te word.
             Gordon en Jolita woon in die pragtige seedorpie Xlendi, aan die suid-weste van die eiland, en terwyl  Jolita my heldergroen koffer uit die kattebak voor hulle huis haal, kom Gordon, Katyte en Pupu my ontmoet.  Laasgenoemde is twee Persiese katte.
            ‘n Privaatkamer met regte bed wag op my in hulle moderne,  minimalistise huis en die geur van ‘n tuisgemaakte  oondgereg bevestig die verwelkoming.
           Vir vyf nagte is ek ‘n gas in hierdie interessante, gasvrye egpaar se huis op die veiligste plek  waar ek nog in die wereld rondgeloop het.  Hulle lei besige lewens. Jolita werk naby die lughawe op Malta en verlaat die huis weeksoggende om 5:20.  Wanneer sy na 6:30 smiddae huistoe kom is Gordon besig om aandete te berei en dan gaan sit ons op die dakterras  met uitsig oor die pragtige Xlendi-baai om die Godgeverfde sonsondergang saam met Gordon se  aandete te geniet.
     Couchsurfing is op die waardes van respek en vertroue gegrond.  Dus vra ek dadelik wat die huisreels is hoewel ek dit reeds kon agterkom op Jolita se profiel wat ek vooraf op die Internet gelees het.  Ons is susters op mekaar se golflengtes:  Laat alles net soos jy dit gevind het, of maak dit skoner!  Deel jou inkopiesak met mekaar….   By Jolita is daar ook ‘n geen skoene in die huis beleid.   Almal gebruik huispantoffels of stap op sokkies.
          Met ‘n huissleutel in die hand en ‘n betroubare busdiens kon ek vir vier dae daardie besonderse eiland deurkruis en sy geheiminisse ontdek.  Gozo is veral bekend vir die Gjantija tempels naby die dorpie Xaghra. Dit is ’n monolitiese struktuur, ouer as Stonehenge en die Giza piramimdes.
          Elke dag was ‘n verrassing.  Aprilmaand was die weer puik en die see asuur-blou.  Elke aand wou my gasheer weet hoe ek die dag geniet het en waar ek was en elke aand het ek wenke vir my volgende dagplan gekry.
         Met my vertrek ry ek saam met Jolita na die veerboothawe toe. Dis donker, maar gou is daar ‘n stralekrans  van lig wat my stomslaan. Die Citadella in die hoofstad Victoria is helder verlig… en dan nog ‘n ligbaken en nog een verskyn asof uit die niet. Dis die kerke van  Sieggewi, Zurrieg en Birzebbug wat heelnag helder verlig is.   Wat ‘n besonderse afskeidsgroet van die klein juweel-eiland.
        Jolita ry met my tot in die maag van die veerboot wat haar elke werksoggend Malta toe neem. Ek gee vir haar ‘n 5 euro noot om vir my vaart te betaal.  Saam met die kaartjie kry ek ‘n handvol kleingeld.  “ Dit is te veel,”  protesteer ek.   
        “It is  fine. See, you look like a Gozitan already!”   

No comments:

Post a Comment