: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Friday 16 May 2014

Paasmaandag in die Berliner Dom

Ostermontag, 21 April 10 Uhr.
     Ek stap net betyds by die Festgottesdiens der Berliner Domgemeinde under der Gemeinde St. Petri-St. Marien in nadat ek vanaf my hostel vlakby Rosenthalerplatz met die U-bahn tot by Alexanderplatz gery het en daarna op Bus 100 twee stoppe verder by die Lustgarten op Museum-eiland afgeklim het.

                                  Vanaf die bushalte geneem met besoekers aan Lustgarten voor

    Die Protestantse kerk is stampvol, maar agter, naby die sarkofae van twee Pruisiese heersers Friedrich Wilhelm II en Wilhelm I,  kry ek 'n sitplek. Daar is lig en lewe in hierdie pragtige katedraal wat in die Barokstyl gebou is. Die kerk was erg beskadig gedurende WW II toe die koepel ineengestort het en omvattende restourasie is eers in 2006 voltooi. Maar waarom so lank? Na die oorlog het die verdeling van Berlyn die Dom in Oos-Duitsland geplaas. So is die gemeente ook verdeel en die stukkende gebou en die stukkende gemeente kon eers weer na die val van die Berlynse Muur herenig en herstel word.

   In die 70's wou die Oos-Duitse regering (DDR) die kerk vernietig soos hulle met ander kerke in Berlyn gedoen het. Genadiglik is die stukkende Dom gespaar en wonderbaarlik het restourasie reeds naby die einde van daardie regime begin. ('n Kwarteeu na die val van die Berlynse Muur word in November vanjaar gedenk.)
    Waar ek op hierdie mooi Maandag ver van my gemeente in hierdie helder kerk sit en my verkyk aan die mosaiekwerk in die koepelgewelf, lei die orkes die diens met Johann Sebastian Bach se Oster-Oratorim in.


  Dan gaan die Liturg voort:
                                 Im Namen des Vaters und des Sohnes und des Heiligen Geistes
                                 En die gemeente antwoord : Amen.
  Die preek kom uit 1 Korinthiers 15: 12 - 20. Met my " ein bischen Deutsch" en die omvattende handleiding wat by die ingang aan besoekers uitgedeel is, volg ek gemaklik.
   Later sing die koor uit Psalm 118:
                                 Der Herr ist auferstanden, Halluluja!
                                 Er ist wahrhaftig auferstanden, Halluluja!

                                                                     Die altaar
                                                                          Die orrel
                                                                          Na die diens...
   Die gemeente bevestig in sang. Die orrelklanke omvou my. Die Berliner Dom se orrel word beskryf as “meesterstuk”. Dit is die grootste in Duitsland en het meer as 7 000 pype. Konserte word op gereelde basis hier aangebied. Tans is daar elke aand ‘n uitvoering van die Mattheuspassie. Kaartjies kos van 20 euro op. Om die kerk buite dienstye te besoek kos 7 euro. Dan kan ‘n toeris ook die 270 trappe klim na uit uitsig-platform toe.
    S A Randreisigers voel dit aan die sak. Maar teen ‘n kollekte in die banke en by die deur, is hierdie “moet-sien toeristebestemming” ook myne. (Verbasend lyk die kollektesakkies op ‘n haar na soos ons kerk s’n)
   Ek, alleenreisiger beleef ‘n verstommende vrede en dankbaarheid. Ek voel tuis tussen gesigte van oraloor die wêreld. Ons is bo taal, etnisiteit en nasionaliteit in Christus verenig.  Wat 'n voorreg. Wat 'n genade. Sonder grense. Die Muur vernietig.
               
·        Daar is verskeie videos van die katedraal op You Tube.
     Soek net na Berliner Dom of Berlin Cathedral.



               
 

No comments:

Post a Comment