: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Monday 6 August 2012

Eiffel-hoender herinner aan Parys

Bietjie meer as 100 jaar nadat die Eiffel-toring in Parys verrys het, besoek ek en Kia die wereldbekende landmerk. Dit is April 1995 en ons was so bevoorreg om 'n uitspanplekkie by Guenaelle Pavec te kry. Sy en 'n paar Franse jongmense het in Augustus die vorige jaar 'n nag by ons oorgebly.
       Die lughawebus ry ons op 'n lente-Saterdagmiddag van Charles de Gaulle af na 'n terminus in die stad. Wel bewus van ons begroting besluit ons om na Guenaelle se woonstel toe te stap al neem dit ook ure want 'n busskedule op 'n paal en 'n aktiewe dogtertjie is nie pasmaats nie.  Kaart in die hand en koffer met onwillige wiele sypaadjie ons in die rigting van Gustave Eiffel se staaltoring.
      Onderstaande foto kry ek pas van vriende Jo en Georgie van Tarkastad wat laasmaand in Parys was.
So kom die herinnering van Guenaelle, 'n Engelse onderwyseres, se hoendergereg weer aan die bod.


              Op my drie besoeke aan Parys was 'n stappie op die Champ de Mars 'n moet

     Toe ons uitendelik, moeg en mateloos taaldeurmekaar by ons gasvrou se apartement in die Ave de la Bourdanais aankom, is sy rustig besig om aandete te berei want sy gaan uit. Daar in haar piepklein kombuis - met uitsig op die punt van die toring - het sy hoenderborsfilette gebraai en eenkant gesit. In die pan sidder daar opgesnyde streepspek en gesnipperde pruimedante. Ek skrik eers vir die kombinasie, maar sy roer ongeveer 100 ml vars room deur en plaas die hoenderborsies terug in die pan. Voila, roep sy uit, dit is julle aandete saam met mengelslaai en vars baguette.
     Kia het daardie gereg so gekyk en laat weet dat sy 'n gebraaide hoender soek. Terwyl Guenaelle regmaak vir haar afspraak het ek en Kia in die buurt gaan stap en gelukkig 'n "poulet ferme" gevind by 'n klein braaiwinkeltje. Ook 'n paar aarbeie wat die markvrou uitgesoek het en talle groenes bygesit omdat ons toeriste is.
      Tuis, met Guenaele weg, het ek twee porsies van die gereg ge-eet en dit summier Eiffel-hoender gedoop. So bestaan dit steeds 17 jaar later ... en die resep het elke keer sy weg gevind na 'n gas wat dit aan ons tafel ge-eet het.
      My kind se "ferme" hoender het ek uit Guenaelle se aanskoue in die yskas gehou en dit was die volgende dag se padkos na die Louvre en Tuilleries-tuine.

No comments:

Post a Comment