: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Sunday 15 July 2012

Sneeu in Slowenie

Ons land is tans in 'n greep van koue, vloed en sneeu gewikkel.  Passe met name in my kindertyd is gesluit; Lootsberg tussen Middelburg en Graaff-Reinet asook die Wapadsbergpas tussen Nieu-Bethesda en Cradock. 
     Op TV sien ek die sneeulandskap tussen Drie Susters en Richmond waar voertuie tot stilstand gedwing word en mense laat oornag op die pad.
     Dan onthou ek die eerste ontmoeting met sneeu. Dit was op die einste Loodsberg toe ek ongeveer 10 jaar oud was. Die enigste keer wat en sneeu op Middelburg gesien het - en 'n egte sneeuman gemaak het -  was die jaar na Matriek (1964)  toe ek by Volkskas (bank) gewerk het.
     My laaste ervaring van sneeu was in die lente van 2010 op berg Vogel in Slowenie. Die ervaring is hier onder in 'n montage saamgevat. 
     Die eerste keer egter wat ek Europese sneeu meegemaak het was aan die einde van November 1977. Nadat die Luxavia vlug in Luxembourg geland het is ons per bus na Amsterdam. Daar was sneeu tot op die noordgrens van Belgie. Daarna was daar talle winterervaringe van sneeu in die Noorde. Die koudste van daardie ervaringe was in Januarie 2001 by Suid-Afrikaanse vriende in Pickering, Noord-Yorkshire. Suid-Afrikaanse wintersklere was nikswerd teen die aanslag. Gelukkig was daar uitkoms in welsynswinkels want die Rand se knie het toe behoorlik geswik op die wereld se geldmark. (R19 vir 'n pond sterling)

Berg Vogel: op die Oostenrykse grens met Slowenie
        Ek en my reismaat Ursula Cloete was saam op die berg met Anna Smuts van Stellenbosch se toergroep. Die twee fotos regs bo herinner aan die knus restourant naby die kabelkarstasie op die berg waar ons die heerlikste sop ge-eet het. Die nagereg van appeltert en tuisgemaakte vla se smaak huiwer nog op my tong!

No comments:

Post a Comment