: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday, 28 May 2014

Oogknipoomblikke in Berlyn

Waarom hou ek daarvan om 'n stad plat te stap?
     Voetsool of skoensool teen die grond. Kilometers op die geskiedenis...?  So sien jy nie net die argitektoniese en historiese nie, maar die alledaagse wat anders nooit deel van jou ervaring sou word nie.  Hier is 'n paar sulke oomblikke:

                                                        Bierman naby Gendarmenmarkt
                                                    Beer by ingang van die Hilton Hotel
                                             Kaasmeisie - Op Italiaanse restourantmuur


                                                      Wat soek die reus by die Hunguricum?


                                                      Sitplek naby Spittelmarkt



                                                  Bouselblou skaap op balkon
                                           Tong in die kies veiligheidsdeur - Pentzlauerberg
                                 Reklame vir fotografie-uitstalling - naby Checkpoint Charlie

                    In die Wintergarten van die Literaturhaus naby die Kathy Kolwitzmuseum
                        Die restourant is baie bekend en gewild... 'n Yskoffie  (onder) was 'n lafenis
              na 'n middag by die Story of Berlin eksposisie en 'n besoek aan 'n atoomskuiling




                                           Sout en peper (onder) van regoor die wereld 
                                 by die KaDeWe in Berlyn. Die afdelingswinkel staan bekend
                                                      as die Harrods van Duitsland
                                     
Babavoertuig in stormweer
Reuse Paashaas

Muurmosaiek naby Galleries Lafayette

Cannelorni en Lasagneby the Pasta Box naby The Circus Hostel.
Ek kan dit steeds proe...

Die Sjokolademeisie op Arkona-mark het my herinner aan die een in my sitkamer

Wednesday, 21 May 2014

Gendarmenmarkt: sieraad in Berlyn

Pragtige plein met die Franzoischer Dom, die Deutscher Dom en die Berlynse Konsert haus. Bestaan sedert die sewentiende eeu, maar is erg verwoes tydens WWII.
    Vandag in ere herstel en die monuumentale beeld van die Duitse digter Schiller, is uitstaande.


                                                Franse katedraal in agtergrond (ook onder)
                                    Dit is opgerig vir die baie Hugenote wat Berlyn toe gevlug het.
                                                    Daar is ook 'n Hugenote-museum


                                                Konsert Haus bo ... en onder met rooi tapyt...


                                                           Reuse reklamebord op die plein

Tuesday, 20 May 2014

Berlynse (vlooi)markte!

Daar is 'n rits snuffelmarkte in Berlyn en die meeste word op Sondae gehou.
    Die eerste Sondag is ek met die U-bahn na Bernauerstrasse en toe na Arkonaplatz gesoek.  Daar sien ek 'n pragte trio porseleinkoppiestel en heel week pla dit my dat ek nie nie gekoop het nie. Veral nadat ek by die befaamde Kaufhaus des Westerns gesien het hoeveel 'n Meissen-trio kos!
     Die volgende Sondag sit ek toe weer as soontoe. Maar maak eers 'n draai by die Mauer-markt. Daar is lewendige musiek en kos vir Afrika. Die handelaars verkoop van speldekkoppe tot hoendertande. Dit raaak vir my te veel toe ek mooi serpe sien en agterkom hoeveel Made in China items daar op die mark is. Dan terug na Arkona...
                                                                   Made in China
                                                                  Van Siberie of Sjina?


                                    Arkona is 'n klein markie maar daar is van alles en wat...









    Ek het nie 'n foto van die koppie geneem waarvoor ek 'n spesiale rit gemaak het nie, maar net daar
het ek tot die besef gekom dat ek te veel goeters het. Dit is oor en oor vir my in erlyn bevestig. Die laaste keer in Galleries Lafayette, die bekende Paryse winkel met tak in Berlyn.

                                                 Het reeds so'n sjokolademeisie tuis...

Monday, 19 May 2014

Een "goeie" ding uit die DDR-era

Die twee Ampelman-figuurtjies op die verkeersligte in Berlyn het 'n interessante verhaal... Te lank om hier te vertel. Gaan kyk dus by www.ampelman.de.

                                Ampelman stap en voetgangers mag die straat oorsteek...
                           ('n Paneel van die Berlyn Muur is gebruik om dit uit te beeld)

   Al wat ek gaan kwytraak is dat hulle in die DDR gebore is en na die val van die muur "gered" is omdat hulle so oulik is/was.
                                   Daar is baie simboliek in die rooi Ampelmannetjies, reken ek

    Nou het hulle ikoonstatus bereik en is daar talle winkels wat koopware aanbied... van lipysen yskasmagnete tot penne en kamerjasse. Ek het 'n washandjie en amarilstafie huistoe gebring en Ampelman lekkers vir Kia.
                                   Ampelman adverteer lipys in die winkel op die Unter den Linden
                                                            Rak met Ampelman koopware

Friday, 16 May 2014

Paasmaandag in die Berliner Dom

Ostermontag, 21 April 10 Uhr.
     Ek stap net betyds by die Festgottesdiens der Berliner Domgemeinde under der Gemeinde St. Petri-St. Marien in nadat ek vanaf my hostel vlakby Rosenthalerplatz met die U-bahn tot by Alexanderplatz gery het en daarna op Bus 100 twee stoppe verder by die Lustgarten op Museum-eiland afgeklim het.

                                  Vanaf die bushalte geneem met besoekers aan Lustgarten voor

    Die Protestantse kerk is stampvol, maar agter, naby die sarkofae van twee Pruisiese heersers Friedrich Wilhelm II en Wilhelm I,  kry ek 'n sitplek. Daar is lig en lewe in hierdie pragtige katedraal wat in die Barokstyl gebou is. Die kerk was erg beskadig gedurende WW II toe die koepel ineengestort het en omvattende restourasie is eers in 2006 voltooi. Maar waarom so lank? Na die oorlog het die verdeling van Berlyn die Dom in Oos-Duitsland geplaas. So is die gemeente ook verdeel en die stukkende gebou en die stukkende gemeente kon eers weer na die val van die Berlynse Muur herenig en herstel word.

   In die 70's wou die Oos-Duitse regering (DDR) die kerk vernietig soos hulle met ander kerke in Berlyn gedoen het. Genadiglik is die stukkende Dom gespaar en wonderbaarlik het restourasie reeds naby die einde van daardie regime begin. ('n Kwarteeu na die val van die Berlynse Muur word in November vanjaar gedenk.)
    Waar ek op hierdie mooi Maandag ver van my gemeente in hierdie helder kerk sit en my verkyk aan die mosaiekwerk in die koepelgewelf, lei die orkes die diens met Johann Sebastian Bach se Oster-Oratorim in.


  Dan gaan die Liturg voort:
                                 Im Namen des Vaters und des Sohnes und des Heiligen Geistes
                                 En die gemeente antwoord : Amen.
  Die preek kom uit 1 Korinthiers 15: 12 - 20. Met my " ein bischen Deutsch" en die omvattende handleiding wat by die ingang aan besoekers uitgedeel is, volg ek gemaklik.
   Later sing die koor uit Psalm 118:
                                 Der Herr ist auferstanden, Halluluja!
                                 Er ist wahrhaftig auferstanden, Halluluja!

                                                                     Die altaar
                                                                          Die orrel
                                                                          Na die diens...
   Die gemeente bevestig in sang. Die orrelklanke omvou my. Die Berliner Dom se orrel word beskryf as “meesterstuk”. Dit is die grootste in Duitsland en het meer as 7 000 pype. Konserte word op gereelde basis hier aangebied. Tans is daar elke aand ‘n uitvoering van die Mattheuspassie. Kaartjies kos van 20 euro op. Om die kerk buite dienstye te besoek kos 7 euro. Dan kan ‘n toeris ook die 270 trappe klim na uit uitsig-platform toe.
    S A Randreisigers voel dit aan die sak. Maar teen ‘n kollekte in die banke en by die deur, is hierdie “moet-sien toeristebestemming” ook myne. (Verbasend lyk die kollektesakkies op ‘n haar na soos ons kerk s’n)
   Ek, alleenreisiger beleef ‘n verstommende vrede en dankbaarheid. Ek voel tuis tussen gesigte van oraloor die wêreld. Ons is bo taal, etnisiteit en nasionaliteit in Christus verenig.  Wat 'n voorreg. Wat 'n genade. Sonder grense. Die Muur vernietig.
               
·        Daar is verskeie videos van die katedraal op You Tube.
     Soek net na Berliner Dom of Berlin Cathedral.



               
 

Monday, 5 May 2014

Magnetiese krag van Berlynse MUUR

In November vanjaar vier die Duitsers, en veral die Berlyners, 25 jaar van die val van die muur.
  Groot vieringe vind dan plaas en die stad is in rep en roer om 'n groot fees daarvan te maak.
  Sedert die muur tussen die DDR en die Bundesrepubliek in 1961opgegaan het, is dit 'n magneet vir toeriste en sedert die val in 1989 soveel te meer.
  Ek het tweemaal Bernauerstrasse toe gery om die loop van die muur en die dokumentering daarvan te bestudeer. Die Bernauerstrasse U-bahn stasie was een van die "spookstasies" gedurende die DDR. Dit was heeltemal geblok en toegebou. Ongeveer 9 ander stasies was ook in die sosialistiese tyd toe.

                                           Tonnel 57:   ondergrondse tonnel wat van 'n verlate                                      buitegebou in oos-Berlyn na wes-Berlyn gegrawe is en waardeur  57 mense oor 'n tydperk van 'n paar jaar ontsnap het.   Die vlugroete is vlakby die U-bahn stasie en vorm deel van die dokumentasie-sentrum.
                        Plek waar polisieman na weste gevlug het tydens bou van muur in 1961

Die pad van die muur word onthou deur hierdie ry verroeste ysters wat voorheen in die gewapende beton toegevou was.
Twee blilnde susters van Nederland "kyk" na die muur.

Hierdie voormalige wagtoring en uitkykpunt word nou opgegradeer vir die viering van 25 jaar "sonder muur" wat in November vanjaar plaasvind. Dit maak deel uit van die Bernauerstraat-dokumentasiesentrum.

BY DIE EASTSIDE GALLERY langs die Spreerivier is 1.3 km van die oorspronklike muur nou die grootste buitelug kunsuitstalling in die wereld. Maar soos ontwikkeling nou vlamvat in Berlyn sal dit seker nie vir altyd daar kan staan nie.Verskeie kunstenaars is genooi om panele te verf.   Ek het op 'n koue, winderige middag daar gaan stap ... hier is drie van die werke:



Op Potsdammer Platz - by die U-bahn uitgang -  is daar 'n stuk muur geposisioneer wat nou as fotogeleentheid vir toeriste dien...

en aan die anderkant van die plein, naby die Dali Museum het ek hierdie een gesien...
Die streep voor die twee muurpanele is die aanduiding van waar die muur was. So het ek langs. op en oor baie van die grense geloop. Die geskiedenis van verdeling en verraad en nyd en lyding vas aan my voetsole. En dankie gese vir vryheid. Hulle s'n en myne.