: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Monday, 5 May 2014

Magnetiese krag van Berlynse MUUR

In November vanjaar vier die Duitsers, en veral die Berlyners, 25 jaar van die val van die muur.
  Groot vieringe vind dan plaas en die stad is in rep en roer om 'n groot fees daarvan te maak.
  Sedert die muur tussen die DDR en die Bundesrepubliek in 1961opgegaan het, is dit 'n magneet vir toeriste en sedert die val in 1989 soveel te meer.
  Ek het tweemaal Bernauerstrasse toe gery om die loop van die muur en die dokumentering daarvan te bestudeer. Die Bernauerstrasse U-bahn stasie was een van die "spookstasies" gedurende die DDR. Dit was heeltemal geblok en toegebou. Ongeveer 9 ander stasies was ook in die sosialistiese tyd toe.

                                           Tonnel 57:   ondergrondse tonnel wat van 'n verlate                                      buitegebou in oos-Berlyn na wes-Berlyn gegrawe is en waardeur  57 mense oor 'n tydperk van 'n paar jaar ontsnap het.   Die vlugroete is vlakby die U-bahn stasie en vorm deel van die dokumentasie-sentrum.
                        Plek waar polisieman na weste gevlug het tydens bou van muur in 1961

Die pad van die muur word onthou deur hierdie ry verroeste ysters wat voorheen in die gewapende beton toegevou was.
Twee blilnde susters van Nederland "kyk" na die muur.

Hierdie voormalige wagtoring en uitkykpunt word nou opgegradeer vir die viering van 25 jaar "sonder muur" wat in November vanjaar plaasvind. Dit maak deel uit van die Bernauerstraat-dokumentasiesentrum.

BY DIE EASTSIDE GALLERY langs die Spreerivier is 1.3 km van die oorspronklike muur nou die grootste buitelug kunsuitstalling in die wereld. Maar soos ontwikkeling nou vlamvat in Berlyn sal dit seker nie vir altyd daar kan staan nie.Verskeie kunstenaars is genooi om panele te verf.   Ek het op 'n koue, winderige middag daar gaan stap ... hier is drie van die werke:



Op Potsdammer Platz - by die U-bahn uitgang -  is daar 'n stuk muur geposisioneer wat nou as fotogeleentheid vir toeriste dien...

en aan die anderkant van die plein, naby die Dali Museum het ek hierdie een gesien...
Die streep voor die twee muurpanele is die aanduiding van waar die muur was. So het ek langs. op en oor baie van die grense geloop. Die geskiedenis van verdeling en verraad en nyd en lyding vas aan my voetsole. En dankie gese vir vryheid. Hulle s'n en myne.

Sunday, 13 April 2014

Saterdag in Potsdam

Ek het gesien hoe hierdie sap uitgedruk word

                Na 'n rit met die S-Bahn deur die Grunewald en verby die Wannsee, was hierdie vars verkwikking in 'n klein sapkafee in die Hollandse buurt van Potsdam 'n ware verkwikking.Ek het een euro vir hierdie heerlike lemoensap betaal.
                                                           Boukuns in Hollandse buurt
 
    Hollandse ambagsmanne is in die tyd van die Pruisiese heersers ingevoer en daar is vir hulle voorsiening gemaak in 'n buurt wat spesiaal vir hulle aangele is. Vandag is dit 'n lewendige toeristegebied met kunsgalerye, 'n mark, boetieks en restourante. Hier is 'n klompie oomblikke in daardie buurt....

                                                                     





Dit is die poort tussen die Hollandse buurt en die hedendaagse woongebiede. 

Reklame vir kunsuitstalling op motordeur

Ek neem 'n tram en ry om te gaan kyk hoe die dorp verder lyk... Met die omdraai by die terminus kom ek op 'n artisties-geverfde elektriesiteit-substasie af. Ek moes dit vasvang...



'n Bus neem my na San Soucci en die paleisbuurt buite die dorp....Hierdie poskaarte illustreer iets van my uitstappie!


Die Universiteit van Potsdam is ook in die paleisbuurt gesetel.

Logo van restourant in een van die paleistuine

Berlynse verblyf: Wombats en The Circus

                                  My eerste verblyf in Berlyn... saam met 5 meisies in 'n slaapsaal. 
       Gerieflik en aangenaam. Louisiana Kid is die restourant langsaan waar ek elke oggend 'n 
                                                   uitgebreide ontbyt vir R60 kon geniet.
                                                 Blik op die televisietoring vanaf Wombats


                                                    Lentetoneel op straat vlakby Wombats
                                         The Gift Box om die eerste draai. Gee iets en neem iets...
                                                            oop op straat en onbeman!

      Na 8 dae verhuis ek na The Circus. Nie omdat Wombats nie aangenaam is nie, maar ek het die bespreking reeds vanuit SA gemaak en wou iets meer van hostellewe ervaar...Ek trek my wiele in Torstrasse af... Nogal 'n lang trek maar ek vat dit stadig oor die keistene.  Nou is ek regoor die Rosenthaler Platz U-bahn.

                                             The Circus is aan die agterkant van hierdie gebou ...
                                                 ook in die voormalige DDR soos Wombats


                                          Op die klein terras voor The Circus en  (onder)
                                                           die nar bokant die hysbak

Brandenburg Tor en omgewing

Stap van Museuminsel deur Unter den Linden na die Brandenburghek was nie vir my besonder: opwindend nie... dit is dit omdat ek so 'n romantiese voorstelling gehad het uit al die boeke wat ek daaroor gelees het.maar tog, om dit sonder die muur te sien het die metafoor van vryheid laat seevier.  Daar is soveel konstruksie aan die gang.  Die grootste daarvan sekerlik die U-bahn wat onder die straat gebou word.


Daarna het ek in die rigting van Potsdammer Platz gestap en probeer om die loop van die muur te volg.. verby die aandoenlike monument aan die vermoorde Jode. 
                Hierdie stuk muur is op Potsdammer Platz staangemaak as herinnering.Nou is dit 'n ideale foto geleentheid vir besoekers.  Onder: tulpe op ParizerPlatz vlakby die Tor.


Gasmaskers is oral te koop. Toeriste dink hulle kom uit WW2 of DDR tydperk.             Dit en ander memorabilia is meestal replikas. Ek is oortuig die Chinese maak dit. 

                Onder:  een van die vele Berlynse bere. Hierdie een is op die Unter den Linden

Chinese kunstenaar se omvangryke uitstalling

Liliom en Chrissie nooi my na die Martin Gropius Bau toe. Dit is n bekende kunsgslery waar Ai Weiwei uitststal.
Hy is beeldhouer, grafiese kunstenaar, fotograaf,  argitek ... maar bowenal politieke aktivis.
My 7-dag vervoerpas/Berlin Welcome Card kom handig te pas.  Nou kan ek direk op die U-bahn van Rosa Luxemburg na Potsdammerplatz
ry. Daarna is dit maklik om die asnwysings te volg. Dit is bitter koud en my gesig is rooi van die hooikoors. 

NS  21  maande na besoek bygevoeg..

soek gerus vir Weiwei op die internet. Hy beplan n enorme installasie
 met Lego in 2016

Eerste ontmoeting met Berlyn



Ja, ek is in die Europese Unie!

Na ontbyt die eerste oggend van Wombats na Alexanderplatz toe gestap.
 Lekker koue wind wat ore laat opstaan. Hier onder is die wereld tyd horlosie wat die Oos-Duitsers op Alexander Platz gebou het.



So met die stap af in Alte ScSchoenhauser Allee kom ek op hierdie rigtingwyser aan. Systraat afgestap vir geruime afstand maar kon egter nie die winkel vind nie. Dink dit is iets soos 'n Aprilgrap...Maar Waahnsin onder was 'n tydelike werklikheid met 'n winkelmeisie op die sypaadjie die reen..



   
Motorfietsmuseum se advertensiebord...

     Elektriese motor word op straat gelaai!

Tydens my eerste metrorit vanaf Rosa Luxumburg, sien ek hierdie advertensie vir Afrika-jive!


By poskaartstalletjie en (onder) boekhandelaar...


Monday, 25 November 2013

Turkye storie van lank gelede wen trofee


Toe vat ek die full package is 'n storie wat in 2009 "gebeur" het, maar eers in 2010 geskryf is (Die Burger). 
     Onlangs het ek 'n paar reisverhale ingeskryf vir SKOP se jaarlikse skryfkompetisie (kategorie: Prosa). Vrydagaand ontvang ek toe 'n blinkgevryfde trofee daarvoor....
                                                                                                                                                         

My liewe kinders aan die suidpunt van Afrika....

                                                Ek skryf vir julle die brief uit Kappadocië in Turkye. 

Hierdie streek word ook die land van die mooi perde genoem. Miskien vir julle bekend saam met die provinsies Galasië en Pamfilië in die Klein-Asië van julle katkisasietyd.  Ook nie baie ver wes van berg Ararat waar Noag na die vloed voet aan wal gesit het nie..Die Tigris en Eufraat-riviere is ook in die omtrek.

Dis hier in Kappadocië waar vroeë Christene kerke gekerf het uit die tufa van millennia gelede se vulkaniese geroggel van berg Erciyes en berg Hasan. En dis hier waar busvragte toeriste kom kyk na die surrealistiese omgekeerde roomyskeël-landskap en oorblyfsels van die Bisantynse tydperk. Toeriste staan daagliks net na dagbreek tou om in ‘n lugballon te klim en oor die buitengewone landskap te sweef.

En my liewe kinders, julle wat daar in die suide al die winter aan julle lywe voel, sal nie glo watse onnoembare hitte julle ma hier in die laat lente getref het toe sy vir die full package betaal het nie.    So met die ry deur Kappadocië, dit is ‘n streek van ongeveer 90 x 60 kilometer,
beveel ons Turkse gids, Halit, aan dat diegene wat ‘n Turkse bad wil troef
dit in die Dedeman Hotel, ons oornagstaanplek in Nevsehir, hoofdorp van die streek, kan doen.
Julle ken my as ‘n vrou wat inligting weeg en oorweeg, maar sedert ek twee dae gelede ‘n groeptoermens geword het, is dit so lekker dat andere die las van logistiek op hulle neem, dat julle ma nou vakansie hou en op bevel net In en Uit op die luukse bus of by ‘n besienswaardigheid of by ‘n oorstaning vir die nag.

   Halit se verduideliking van die bad se full package gaan my dus so’n bietjie verby want ek sein die televisie van my verbeelding in en verlusting my aan die voorstellings van die Turkse bad wat ek van die Eyewitness Guide en ander reisgidse onthou. Sonder om dus die dienstekaart by die ontvangstoonbank aan te vra staan ek gou saam met vier ander voornemende Suid-Afrikaanse badders  in die tou vir bespreek en betaal.
   Die 64 Turkse lire maak ‘n noemenswaardige duik in my begroting, maar ek troos my dat dit ‘n onvergeetlike ervaring gaan wees.  Die prys is ongeveer R330. Nogal grootgeld vir ‘n bad, hoewel hierdie een tradisioneel is en “not to be missed”, volgens die hotelreklame.
Afdaal na vloer H
So kom dit toe dat ek en ‘n VLV- vrou van Calvinia om 20:00 vanaand op vloer H (onder grondvlak) ingeboek het. Beide met die heerlike Turkse buffet goed merkbaar in en aan ons lywe, ontklee ons tot op bikinivlak en kry elk ‘n paar plastiek Pep Stores plakkies en ‘n geruite Turkse katoenhanddoek – ‘n tradisionele pestemal. My handdoek moes sedert vervaardiging erg gekrimp het, of so voel dit vir my toe ek die omvang van my lyf daarmee wou toemaak..
    Die eerste stasie is ‘n sauna. Ek is onkant gevang. Die gidsboeke vertel van die 18de eeuse hamams wat ‘n “hotroom” het maar hierdie vrekwarm Finse uitvindsel laat my net daar in my Pep-voetspore vries. “Ten minutes” sê Ohmaa, die Balinese badsersant vir ons en my badmaat uit die Hantam spring in daardie helse hitte in asof sy dit elke dag doen.
    Tien sekondes agter daardie deur, my liewe kinders, toe maak dit vir my sin dat ons op vlak H is.  Ek dag ek is in die voorhalle van die hel, soos burgemeester Genis daai tyd toe PG du Plessis se Korporasiestories gesinsvermaak op televisie was. Julle onthou mos hoe Genis gaan wynproe het in die Kaap en te ordentlik was om die proesels uit te spoeg. Die arme man het toe so in sy wynwaansin in ‘n sauna beland en die water waarna hy so naarstigtelik gevra het, het elke keer op die klippe beland. Wees egter verseker, julle ma was deur hierdie ervaring in totale nugterheid.
Die vuurherd se venster
Iets moet Ohmaa met my doen want ek staan daar soos Lot se vrou en kyk hoe my gedissiplineerde badmaat deur daai vuurherd se venster vraend na my kyk. (Sy sê later die ding se koorspen het 84 grade gewys, maar haar slagter-hartlam, ‘n man wat kos en karkasse ken, sê mens kan al ‘n maaltyd op daai temperatuur voorberei.)
     Toe stop Ohmaa my in die stoomkamer waar my porieë kastig sal oopgaan. “Ten minutes” is die instruksie weer. Ek hou 20 sekondes uit terwyl die vergete vulkane van Kappadocië hulle nat koorsigheid en hittige mistigheid oor my stuur. Baie gedagtes en vrae het deur my kop geloop: Sal ek ongeskaad hier uitkom?  Of sal ek volgens die fynskrif op my reispolis horisontaal terug Suid-Afrika toe?
     Ohmaa se raad met my raak op. “My liewe Balinese badsersant, my porieë is al vir 62 jaar toe. Ek is hitte-intolerant en ek wil nou net op die gidsboek se lou-warm marmer-maagklip lê en met jou skuurpapier kese-lap en olyfseep geskrop word en die res van my “full package” vat met dien verstande dat dit al die pad onder 30 grade is,” sê ek in duidelike en baie stadige Engels.
     'Helderheid oorval daardie eilandgesiggie en sy lei my onder haar klein linkervlerkie weg na die plek van die groot skrop en beduie dat ek moet sit en kyk hoe twee volnaakte Duitse tantes bewerk word.

Draad-loos in die bad se binnekamer
Draad-loos wieg die twee Baie Groot Europese liggame onder die skuurpapier bewegings en beelde van winterse varkslag en driebeenpotte oor knettervure in die Karoo vul my gedagtes in die Turkse badkamer op vlak H van die Dedeman Hotel.
   Ons beurt het gekom. Ek en my Hantam-toermaat is geskuur en ingeseep en ons Afrikastof is afgeskilfer. En dit was lekker. Die lekkerste toe die badsersant ‘n groot kaasdoek, soos uit my kindertyd, in ‘n oulike emmertjie doop. Dit dan soos ‘n sirkus-artieste deur die lug swaai en tot ons verbasing wonderskuimbolle oor ons rooigeskuurde lywe loslaat.  Nie een keer nie, maar drie keer.
    Ons het soos paddaprinsesse gelyk, met bolle sperm van oraloor op ons uitgestort. Die afspoel was net so lekker. Ohmaa gebruik die mooiste plat koper-kommetjies water, vlytig-vinnig gemeng en geskep uit warm en koue krane tegelyk sodat die temperatuurwisseling jou verkwik en regmaak vir die volgende stap: ‘n lekker pommelende massering met olie… Maar helaas masseer sy net my rugkant. Het ek die “fool’s package” gevat, wonder ek?
     Teen die tyd is ek en Ohmaa dik pêlle en sy vertel my hoe sy na haar familie doer ver verlang. Tyd vir ‘n lekker appeltee in die camekan, oftewel portaal, soos die gidsboeke andui wag op my, dink ek. Maar die manlike bestuurder met sy skootrekenaar en oorvol asbak groet my dikbek daar.  Van die teebelofte kom niks.   
Beautipul woman
Die vreemdeling badsersant stap saam na waar my mooi Hantam-vriendin voor die spieël staan en in Afrikaans kla oor haar geruïneerde hairdos. “En dit in ‘n baie sterre-hotel!”  Nuuskierig wil Ohmaa weet wat aan die gang is en ek vertaal dat die “beautiful woman” ontevrede is met die stand van haar kapsel. 
                  “No, she no worry, she very, very beautipul.” (stet: beautipul is reg!)
    En so verlaat ons die hamam. Die hittestryder uit die binne-Karoo en haar “beautipul” Hantam-badmaat. Duur skoongeskrop en baie dors.
     So groet ek julle hier uit my kamer in Kappadocië, my liewe drie kinders. Ek is dankbaar dat ek oorleef het om die hittige storie met julle te kan deel. Glo my, ek is ook wyser as voor die woeste warmte.

Julle ma