: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Wednesday 16 October 2013

Land sonder spietkops en motorwagte


Kistian Martin en Jonalisa Rasmussen



My gasvrou nooi my saam na haar hoofstad. Dit is ongeveer 70 minute per motor. Sy
gaan haar niggie se begrafnis bywoon en ek kan die plek dan vir 'n paar ure verken.  

       Sy verlaat haar poorte ongegrendel. Op die stoep staan patiostoele, 'n trapfiets met
peuterstoeltjie agterop, die grassnyer en ‘n  paar items uit die kleinkinders se
speelgoedkas. Ek bied aan om dit in te neem en toe te sluit. Maar dit is nie nodig nie. 
Alles sal hier wees wanneer ons  terugkom, verseker sy my.

     Daar is geen verkeersligte in haar dorp nie. Die strate is almal geteer en sy verstaan
nie die woord “slaggat” nie. Ons is gou op die grootpad waar die spoedgrens 80 km per
uur is. Nou gaan ons deur die nuwe ondersee-tonnel ry. Dit is pas ingewy, vertel sy. Dit
is ses kilometer lank en 250 m. onder seevlak op die diepste punt. Voorheen moes hulle
vir ‘n boot wag om hulle na die volgende eiland te neem. Dan moes ‘n reis na die
hoofstad deeglik beplan wees want daar was net elke twee uur ‘n boot en tussen 20:00
en 06:00 geen seeverkeer nie.

       Maar waar is die tolhek of  betaalpunt, wil ek weet. In my land streep die motors
lang toue voor ‘n tolhek en skree die Gautengers tans blou moord oor die voorgestelde
e-toll fooie.

   Hier in die noord-Atlantiese oseaan geskied die betaling vir tolpaaie op verskeie
maniere. My gasvrou betaal vooruit. ‘n Kamera in die tonnel sal die nommerplaat  van
die voertuig afneem en ‘n rekening aan die motoris stuur as daar nie voorafbetaling was
nie. Toeriste betaal by die vulstasies aan weerskante van die toltonnel. As ‘n
voorafbetaler se krediet begin opraak, sal ‘n geel lig in die tonnel hierdie motoris
herinner dat daar weer tolgeld betaal moet word.

      Volgens my gidsboek is die maksimum  spoed in dorpsgebiede op die eilandgroep
van 16 bewoonde eilande 50 km of soms 60 km per uur. By die ingang na ‘n klein
dorpie merk ek dat  ‘n elektroniese bord die syfer 59 flits. Reg geraai, sê sy. Dit is die
spoed wat ek gery het.  Daar is egter nie ‘n boete nie. Sou sy meer as 10 km per uur te
vinnig gery het, sou daar gou-gou ‘n boetebrief in die posbus voor haar huis afgelewer
word.. As sy die spoedgrens met 30 km per uur oorskry het, sou haar rybewys
onmiddellik opgehef word.  Eers na ‘n jaar sou sy weer kon aansoek doen vir ‘n
rybewys en met die leerlingtoets begin.

       Dit is opmerklik dat daar weinig minibusse op die pad is en hulle is meestal vir
toeriste en die vervoer van goedere. Ek sien ook nie  eintlik motors wat meer as 10 jaar
oud is nie. Niemand gebruik ‘n toeter nie.  Enige verkeerspolisie?  Nee, ons sien hulle
net in ander lande, sê my gasvrou.

    Skape wei teen die steil berghange tussen die bottergeel veldblomme.  Daar is
dubbeld soveel  skape as mense in hierdie land... ‘n vet raps oor die 90 000.  Party
waag dit oor die teerpad om groen weivelde aan die anderkant te soek. Plantgroei is
skraps want die eilandgroep bestaan uit vulkaniese rots.

       “Is daar motorongelukke?” vra ek. Weinig, vertel sy.  Nou en dan ry iemand ‘n
skaap  dood. Dan word die polisie betrek en die skuldige moet die eienaar in kontant vir
die dooie dier vergoed.  In my gidsboek vind ek die polisie se  skaapnommer.

      Die padoppervlak is glad soos bababoudjies en die verkeerstrepe oral vars geverf.
Hier en daar flits ‘n waterval blink by ons verby. “Water is gratis in my land. Geen haan
 kraai daarna op die munisipaliteit se  diensterekening nie,” vertel sy.

      Ons stop by ‘n moderne vulstasie wat heeltemal verlate voorkom. Sy klim uit, neem
die pompslang en maak vol met 95. ‘n  Kredietkaartmasjien kry die geur van haar geld.
Sy sleutel die pompnommer in en  klim in die motor met betaalstrokie in die hand.

      Ons kom op die beplande tyd in die  hoofstad aan. Daar was geen padverleggings
of verkeersopeenhopings nie.   Daar is nie genoeg parkeerplek in die stadsentrum nie,
verneem ek. My gasvrou ry na die hawegebied toe. Dis naby die kerk waar sy die
begrafnis gaan bywoon. Sy parkeer op die groot netjiese terrein. Ek sien geen
parkeermeters, betaalhokkie of valhek nie. Boonop ook nie ‘n enklele  motorwag nie.

       Ons spreek ‘n tyd af om mekaar weer by die motor te ontmoet..Sy sluit nie die
voertuig nie. Ek kan enige tyd terugkom as ek moeg is van stadsverkenning. Die motor
sal oop wees as ek vir haar moet wag.  Onmoontlik! Ek bied aan om op ‘n bankie  langs
die kleinboothawe te wag.  Nooit as te nimmer! Jy is my gas, sê sy en lag. Ons stap
weg. Haar reënjas lê op die motor se agtersitplek.

    Sy ontmoet ‘n vriendin by die voetgangeroorgang en handig my aan haar sorg oor. 
By die toerismekantoor word ek georiënteer en stap verder alleen die stad in sonder om
my reishandsak vas te klem.  Die son skyn in die stadskern. Voetgangerverkeer kry
voorrang. Nuwe ma's stoot babavraggies in moderne waens. Ek sien stootwaentjies op
sypaadjies voor winkels – met babas in van ma’s wat gou by ‘n winkel ingeglip het.

    Die verkeer spin verby soos ‘n tevrede kat. Ek sien geen verkeerspersoneel nie. Op
die afgespreekte tyd soek ek die  motor in die haweparkeergebied. Ek maak die deur
oop. Die radio en CD-speler is daar. Die jas ook

     Droom of versinning?  Nee, dit is alles waar. Ek was vir ‘n oggend in een van die
kleinste hoofstede in die wêreld: Torshavn op die Faroe-eilande. Die stad se totale
inwonertal is15 000. Die hoofstad se plek op die planeet is 62 grade N, 7 grade W.

     My reis saam met Jonalisa Rasmussen was van Klaksvik, die grootste dorp op
Bordoy, een van die vyf noordelike eilande, na Torshavn, setel van die Faroe-
eilandse se parlement, op die eiland  Eysturoy.

    Die Faroes het selfregering onder die Deense kroon en is halfpad tussen Noorweë en
Ysland geleë. Die amptelike taal is Deens, maar hulle huistaal is ‘n ou Noorse dialek.
Deesdae praat die jongmense Engels wat vanaf graad 8 op skool verpligtend is.

   Op hierdie eiland-argipel waar 47 000 mense woon is die werkloosheidsyfer 2.2%. Die
visbedryf genereer 95% van die eiland se inkomste. Die Rasmussen-gesin vang
pelargiese vis op groot skaal. Hulle fabriekskip, die Christian I Grotinum, wat 800 ton vis
per geleentheid kan inbring, vaar meestal in die omgewing van Ysland waar hulle
vangkwotas het en die drie seuns almal gekwalifiseerde skippers is.

     ‘n Vriendskap wat in 1990 in Port Elizabeth begin het toe ek ‘n vrywilliger vir die
Maatskappy vir Europese Imjmigrasie was, het my 16 jaar later hierdie uitnodiging
besorg. Ek was in die hoogsomer daar en dit was net vir drie uur per 24-uur siklus effe
donker oftewel ‘twilight’. Dan maak die eilandbewoners die beste van die ligure hoewel
dit nooit baie warm word nie omdat die wind ongenaakbaar waai. Hulle kuier maklik tot
na middernag bymekaar en is baie gasvry.

   Op die aardbol is die Faroes net ‘n paar stippeltjies. Vir my is die landjie ‘n groot
helder lig van herinnering.
                                                        ervaring:: Junie 2006 








No comments:

Post a Comment