: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Saturday 7 June 2014

Magiese momente in die Zionskirche

Op Paas Sondagmiddag stap ek in die bibberkoue lenteweer met my rooi verkouegesig uit die gesellige sitkamer van The Circus Hostel op soek na 'n kerk. Dis grou buite en flou reendruppels dwarrel op die wind. Van Rosenthalerplatz af lei die tramspore my die woonbuurt in.
     Dan gewaar ek dit ...


                                      Die Zionkerk (later geneem... toe daar sonskyn was)

      Agter lowergroen bome steek 'n kerktoring uit en ek swaai my kompas daarheen. Ek is in die voormalige DDR tussen Mitte en Prenzlauerberg. Op 'n klein pleintjie waar restourasie duidelik aan die gang is  staan 'n kerkgebou in die Neo-Romantiese styl ... tipiese kerkargitektuur uit die Historiese beweging in Duitsland.  Dis die Luthers-Protestantse kerk van Zion. In 1872 opgerig. 

     Dit is doodstil op die Zionplein. Die buitemure wat soos herfsblare afdop nooi my binne. Die kerkdeur staan oop. Vir 'n Suid-Afrikaner is dit vreemd.

     Daar is 'n ruiker vars blomme in die voorportaal en inligtingstukke net in twee tale: Spaans en Nederlands. Tot my verbasing lees ek dat dit die kerk van Dietrich Bonhoeffer was.Ek het so baie van hom by my Nederlandse skoonouers gehoor.  Hy was 'n predikant wat in die 30's in die Protestantse gemeente gewerk het en was 'n groot teenstander van Hilter se beleid en  uitgesproke oor die Nazi's se beleid ten opsigte van die Jode.

                                     Bonhoeffer                          Detail : Ingang tot Zionskirche

     Binne is die kerk stil. Net 'n jong paartjie met 'n energieke klein dogtertjie wat kerse aansteek naby die altaar. Dit is skaars 15:00 en dit voel of die grouheid tot in my binneste kruip en my terug wil dwing straattoe. Tog verbly ek my in hierdie terloopse ontdekking en dit oorweldig my. Hou my vasgevang.


        Daar is 'n groot foto van Bonhoeffer agter in die gebou met beskrywing van sy lewensloop tydens die Derde Ryk. Ek probeer my indink hoe dit voel om jou lewe te waag vir geregtigheid.

      Sy swaer Hans von Dohnanyi, het in die Rykskanselier se Deptartement van Justisie gewerk en hulle twee het komplotte beplan om Hilter te kniehalter. Onsuksesvol natuurlik. Maar net hulle deursettingsvermoet is heelwat Jode uit Duitsland na veiligheid in Switzerland geneem in n aksie wat as Operasie 7 bekendgestaan het.
  
     Die twee mans is in April 1940 gevange geneem... en eensame aanhouding het gevolg.  Bonhoeffer is eers in die Gestapo hoofkwartier in Berlyn aangehou en gemartel en toe na Flossenburg baby Buchenwald geneem. Hy het bly skryf. sy pen het nie opgedroog nie. Sy lig het nie verflou nie.

   Adolf Hitler het self die doodsvonnis gevel. Hulle is 'n paar weke voor die einde van die oorlog gehang. Dit was 9 April 1945. Bonhoeffer was 39.

   Tydens WWII is die kerk gebombardeer en daarna geplunder vir vuurmaakhout.  In die 80's het mense in die gepynigde skelet van die gebou ontmoet om teen die DDR-regime te protesteer.

    Na uitgebreide restourasiewerk is die kerk eers in 2002 geopen.  En nou is daar weer restourasie aan die gang. Asof die donker verlede afgekrap en uitgevee moet word met vredesverf.  Hoeveel restourasie was daar oor die eeue heen in die psige van die mens? Hoeveel nou. Die Berlyners en die hele Duitsland maak reg vir die kwarteeu herdenking van die val van die Muur. 

    Ek gaan terug na Vryheidsdagvieringe in my land. Twintig jaar van demokrasie. Maar hoeveel mure moet nog val? Hoeveel donker dinge moet oorwin word op hierdie aarde?   
    
     So staan ek geanker in geskiedenis en skielik word dit lig om my. 'n Groot genadige kwas verf 'n magiese streep helderheid oor die marmer doopvont. 

    



================================================
Lees 'n kort biografie oor Bonhoeffer by:   http://www.jewishvirtuallibrary.org/jsource/biography/Bonhoeffer.html

No comments:

Post a Comment