Vanoggend hoor ek oor RSG van die Turks-Afrika Mediaforum wat tans in die Turkse hoofstad plaasvind.
Meer as 300 mediamense uit Afrika woon dit by want Turkye wil meer blootstelling in die media op ons kontinent kry.
Daar kom my 24-uur besoek aan die moderne hoofstad van die land helder in my geheue. Ek was in 'n georganiseerde toergroep, en dan is - volgens ons gids Halit - die eerste stopplek die mausoleum van Ataturk, vader van moderne Turkye.
|
Die Anitkabir huisves Ataturk graf |
|
Monumentwag voor die mausoleum
|
|
Die indrukwekkende vrouebeeld by die ingang
tot die wandelpad wat na Ataturk se graf toe lei.
Links is die moderne vrou met die tradisionele,
gesluierde vrou agter haar.
|
|
Die Turkse nasionale vlag met blomme uitgebeeld!
|
|
Die Kocatepe-moskee toring bo die moderne stad uit
|
|
Swembadkompleks in boomryke voorstad -
die uitsig vanuit my hotelkamer
Ek het hierdie reisartikel vir Die Burger geskryf:
|
Besoek
aan Turkse hoofstad beslis die moeite werd
Besoek jy Ankara, die hoofstad van Turkye, is dit
verrassend om te verneem dat hierdie moderne stad ongeveer tagtig jaar
gelede ‘n “plattelandse dorp” sonder
elektrisiteit of lopende water was.
Hoewel
die stad, voorheen bekend as Ancyra en Angora, sedert 2000 vC reeds ‘n
handelsentrum van die Hittiete was, en daarna deur onder andere die Firgiërs en Romeine regeer is, dit te danke is aan
die eerste president van die Turkse
Republiek dat Ankara hoofstadstatus verwerf het en vandag ‘n inwonertal van meer as 3,5 miljoen het.
Mustafa
Kemal Atatürk, ook bekend as die vader van moderne
Turkye, was die dryfkrag agter die vooruitgang van Ankara. Hy het in 1923 aan
bewind gekom, na vyf eeue van Ottomaanse
heerskappy, en in 1930 het Angora Ankara geword. Die belangrikste redes vir die besluit was om
weg te beweeg van die ou regeringsbestel
gesetel in Istanbul, en tweedens
om ‘n sentraal geleë
hoofstad te vestig .
Ankara
lê op die Anatoliëse plato aan die Asiëse
kant van Turkye en is omtrent ewe bereikbaar vanaf al die uithoeke van die
land. Atatürk se besluit het aanvanklik nie byval gevind nie en buitelandse ambassades was bra
langtand om te verhuis. Maar deesdae is
Ankara ‘n volwaardige Europese stad, met goedbeplande uitleg, breë strate, vele parke, twee universiteite, ‘n
boomryke ambassadeursbuurt en ‘n
glad-geoliede administratiewe stelsel.
Oorblyfsels van die antieke
vesting wat bekend gestaan het as Ancyra word steeds bewaar en die ou stad of
sitadel wat om hierdie ruïnes
gebou is, word steeds bewoon. Stedelike migrasie plaas egter deesdae druk
op die infrastruktuur van Turkye se grootste stede, Istanbul, Ankara en Izmir.
Die
eerste president van Turkye is in 1938 oorlede, maar sy invloed sigbaar blywend. Nie net het hy Ankara as
hoofstad verklaar nie, maar tien jaar voor sy dood die Arabiese alfabet met die
van Latyn vervang. Hy het ook die dra van
die fez vir mans en die sluier by vroue verban.
Daarom
was ‘n besoek aan Atatürk
se praalgraf of mausouleum ‘n moet op my reisplan. Ongelukkig kon die gids my
nie help met inligting oor die omvang van die terrein waarvan die hoof-fokus
die Anitkabir (Turks vir die monument ter verering van die
vader van die nasie) is nie. Ek skat die
kompleks geboue, geleë op
‘n heuwel, en aanloop daarheen beslaan
ongeveer 15 rugbyvelde.
Diplomatieke
protokol vereis dat staatsbesoekers ‘n begeleide toer van die kompleks moet meemaak en geskat aan
die groot getal wat op die middag van my besoek daar was, glo ek gewone
toeriste voel dieselfde. Die Turke is ‘n trotse nasie en die getal skoolgroepe
tydens my besoek was verblydend. Omdat laasgenoemde meestal blomkranse
saambring , is daar gedurigdeur kransleggingseremonies in die
Anitkabir aan die gang.
Volgens die Turkse gids het al sy land se
provinsies klip geskenk vir die bou van die monument. Dit was opvallend hoeveel
marmer en graniet in die projek gebruik is. Behalwe die sarkofaag
wat die middelpunt van die
hoofsaal is, het ek die uitgebreide, goed ingerigte museum wat alle fasette van
Atatürk se lewe uitbeeld besonder insiggewend
gevind. Hy het ‘n uitgebreide boekery
gehad en sy Europese kleresmaak,
hoofsaaklik uit die Franse stal, het ‘n
blywende indruk by my gelaat.