: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Monday 7 May 2018

Heerseres van 'n Engelse spens

In 2007 kry ek 'n kontrak om vir 3 maande 'n Alzheimerspasient in die suide van Brittanje op te pas. 
 
 Van my herinneringe verwoord ek 10 jaar later in  'n artikel vir die Gereformeerde Kerk se kwartaalpublikasie,  Die Pluimsaad:


Onlangs lees ek die bekende Baaise skryfster Annelie Botes se nuutste boek Lugkasteel (2016) oor haar werkswedervaringe by ‘n adellike gesin in Engeland in 2006.
   Haar kasteellewe blyk een van swaarkry en tandekners te wees.  Sy moet haar eie kos verskaf; haar breekgoed is in die kas onder die wasbak; die beddegoed nie goed genoeg vir ‘n welsynskenking nie, die kasteel  koud en die vier kinders onregeerbaar.
     Sy beskryf hoedat sy vir oorlewing die pappot uitlek, hondepille eet en hoendereiers steel en dit dan rou sluk.   Ek voel empatie met die skryfster en terselfdertyd  kom staan  ‘n 3-maande versorgingskontrak wat ek ook 10 jaar gelede op die grens van Wes-Sussex en Hampshire in Elizabeth II se land ervaar het, helder voor my.

                                                                    ROGATE in WES SUSSEX

     My verblyf was nie ‘n koue, onvriendelike kasteel nie, maar ‘n stewige, stylvolle adres op die platteland met die naam Parsonage Farmhouse, buite die “village” Rogate (met kerk, kroeg, klein algemene handelaar en posagentskap) Die werkgewer was ‘n 91-jarige afgetrede diplomaat en sy 86-jarige vrou, in die eerste stadium van Alzheimer se siekte.   Die oue heer was ‘n moeilike man omdat hy nie kon of wou verstaan dat sy vrou nie meer kon onthaal nie, nie meer kon onthou nie, nie meer ja en amen sê vir hom nie.
       Maar die twee oumense het na 60 jaar in die huwelik iets in gemeen: hulle hou van eet.  Twee smulpape. So maer soos kraaie en so lank soos telefoonpale, maar ons eet van 8vm ontbyt af dwarsdeur tot by “dinner at eight”. Een maal per week ry ek saam met hom Petersfield (Hampshire country)  toe. Dan is dit 5 myl van hartkloppende spoed met Mozart in die CD-speler teen maksimum volume. 
     Ons doen net kruideniers-aankope by Waitrose, want ons is van die wieg af al ‘n kos-snob.  Vir Woensdae en naweek braaistukke is daar ‘n spesialis-slagter en die assistant by die drankwinkel buig omtrent as ons binnekom (die Suid-Afrikaanse slavin dra elke week twee sakke leë bottels saam en twee swaar sakke vol bottels terug motor toe).

                         SPENS IS LARDER IN OPPERE ENGELS, NIE PANTRY NIE...

     In Annelie se boek is die spens ‘n wêreld wat sy nie mog betreë nie. Proviand agter slot en grendel.  By Parsonage Farmhouse word ek die heerseres van die spens. Nie ‘n spens van my kinderdae nie, maar een met blikkies, boksies en flessies uit onder andere Harrods en Fortnum & Mason.  Eksotiese speserye en Franse kruie.  Sommige uit die vorige eeu, wat ek helaas op instruksie van die oudste dogter, moes weggooi.
        Soos Annelie verhonger het en vel en been geword het in haar onvriendelike kasteel, het ek geblom van geen tekort nie.  Ek het ‘n reuse-aandeel in die opstel van kruidenierslysies en die binnebring van die proviand. Daar het in die drie maande 8kg aan my reeds duidelike figuur kom sit.  En dit sit steeds.
     My werksroetine is duidelik gekommunikeer. Dus geen ruimte vir twyfel nie. Om 7vm word die oggendkoerant, The Times, afgelewer. So saam met hawermoutpap maak op die AGA-stoof, moet ek die koerantopskrifte skandeer en onder andere nuus oor Suid-Afrika soek. My werkgewer was vir drie jaar diplomaat in Pretoria en steeds geinteresseerd in gebeure in ons Suiderland. 
     So met die lees en paproer saam dek ek die ontbyttafel in die ruim gesellige kombuis. Vir sy plek benodig ek ‘n liniaal.  As sy eetgereedskap, servet, vrugtesap en pillebottels ‘n sentimeter uit plek is, hoor ek dit.  Gewoonlik het sy ontbyt goed afgeloop. Ek het myself oortref deur in rekordtyd dit reg te kry om ‘n kalfsoog-eier na sy smaak te berei. 
     Vir die mevrou was dit nie ‘n kwessie nie…  Sy was meestal vrolik en dankbaar vir alles al was dit nou net flou blaretee, bruin roosterbrood en marmalade.   Wanneer sy die koerant klaar gelees het, vertel sy vir my van al die doodsberigte.  Meestal van die “lords en ladies”, belangrike skrywers en teatermense.  Dan kom daar ook lekker verhale van hulle dae in Kensington, London waar hulle drie dogters grootgeword het.  Hulle was so te sê bure van Buckingham Paleis. “Ons kinders was speelmaats,” het sy menigmaal vertel en omdat haar langtermyngeheue nog intakt was, kon ek my ‘n wêreld met kinderpartytjies en uitstappies saam met prinses Anne en prins Charles voorstel.

                                                                  ROETINE

      Oumeneer het sy oggende in die “Morning Room” deurgebring waar sy groot lessenaar met stapels rekeninge en dokumente hom besig laat lyk het. Ek en mevrou het die aandetespyskaart bespreek, in die tuin gewerskaf, wasgoed versorg en gou was dit 10:30: OXO-tyd vir ‘n kits kalsium en ander mineraal-inname. 
      Middagete het klokslag 12:35 plaasgevind. Om 12:20 kon ek die gerinkel van die sjerriebottels in die sitkamer hoor. Droog vir haar en medium vir hom.   Die ligte ete het gewoonlik sonder insident verloop behalwe die middag met die sappige pruime.  Vir nagereg moes daar elke dag vars vrugte wees.  Dit word met mes en vurk ge-eet.  Ek doen dit asof ek dit van moederskoot in die Karoo al doen.
     Oumeneer vra waar ek die pruime kry want hy kan nie onthou dat ons dit by Waitrose gekoop het nie. “Tesco,” antwoord ek. “Gister op my busuitstappie na die buurdorpie Midhurst.” Eers raak hy rooi en hou op kou. Toe gooi hy sy servet neer en uiter baie woorde. Baie slegte woorde en hy staan op.  Mense van hulle staning koop nie by ‘n supermark wat die laer stande bedien nie.  Hy wil hê ek moet dit begryp en vlug na sy “Morning Room”.   Mevrou begin giggel en onstwee mes-en-vurk voort aan die pruime.
     Smiddae kry ek 90 minute aftyd. As dit slegte weer is rus ek op my bed anders stap ek Rogate toe. Dis voor slimfoontyd en ek mag die kruidenier se rekenaar gebruik. Maar 4 uur is ek weer op diens vir die middagtee om 4:30. Altyd met gebak voorgesit wat ek meestal in die oggende berei het. Soms het ons brugmiddae gehad, soms net gaste uit die omgewing of die dogters wat kom inspeksie doen het van ouerlike huis en haard. Altyd is ek met respek behandel.  Hulle het my tot vertrou om om hulle pa se “memoirs” op te skryf. Daarom was my empatie met die skryfster van Lugkasteel so groot. Die kinders het haar sommer “stupid housemaid” genoem.
      Aandete moes stiptelik om 8nm voorgesit word.  Dit het nogal fyn berekening gekos want die AGA het maar sy grille en temperatuurswaaie gehad. Net mevrou het die stoof se streke geken en ek het geweet dit laat haar goed voel wanneer sy tot my redding kon kom.
      Oumeneer was altyd grommig wanneer ek aankondig dat die braaistuk nog nie gaar is wanneer die klok slaan nie. Dan dryf dit hom tot nog ‘n sopie Whiskey. Mevrou kry nog ‘n Gin en ek blaas die AGA warmer want hy, die Huisman, is die voorsnyer en opdiener.  Hoe meer glasies hy gebruik het, hoe erger behandel hy my pynlik voorbereide geregte wat op die buffet uitgestal word. 
        Teen die tyd dat ons nagereg geniet het, het ons al die koerantnuus van die dag bespreek en oor nog ‘n lekker klompie diplomatieke onthougoed uit hulle dae in die Ooste, Rome en Pretoria gesels.
       In drie maande kom sit mense naby jou vel. So was dit met die twee oumense, hulle dogters, bure, die Anglikaanse predikant en gemeentelede…  My agent wou die kontrak verleng maar ek het myself belowe dat ek versorging doen bloot vir die eenmalige ervaring. (En natuurlik pond Sterling verdien vir ‘n volgende reis).  

      Dit was ‘n ervaring op vele vlakke. My verhaal hierbo eintlik net die gastronomiese sy!
     


No comments:

Post a Comment