Van my herinneringe verwoord ek 10 jaar later in 'n artikel vir die Gereformeerde Kerk se kwartaalpublikasie, Die Pluimsaad:
Onlangs lees
ek die bekende Baaise skryfster Annelie Botes se nuutste boek Lugkasteel (2016) oor haar
werkswedervaringe by ‘n adellike gesin in Engeland in 2006.
Haar kasteellewe blyk een van swaarkry en
tandekners te wees. Sy moet haar eie kos
verskaf; haar breekgoed is in die kas onder die wasbak; die beddegoed nie goed
genoeg vir ‘n welsynskenking nie, die kasteel
koud en die vier kinders onregeerbaar.
Sy beskryf hoedat sy vir oorlewing die
pappot uitlek, hondepille eet en hoendereiers steel en dit dan rou sluk. Ek voel empatie met die skryfster en
terselfdertyd kom staan ‘n 3-maande versorgingskontrak wat ek ook 10
jaar gelede op die grens van Wes-Sussex en Hampshire in Elizabeth II se land
ervaar het, helder voor my.
ROGATE in WES SUSSEX
My verblyf was nie ‘n koue, onvriendelike
kasteel nie, maar ‘n stewige, stylvolle adres op die platteland met die naam
Parsonage Farmhouse, buite die “village” Rogate (met kerk, kroeg, klein algemene
handelaar en posagentskap) Die werkgewer was ‘n 91-jarige afgetrede diplomaat
en sy 86-jarige vrou, in die eerste stadium van Alzheimer se siekte. Die oue heer was ‘n moeilike man omdat hy
nie kon of wou verstaan dat sy vrou nie meer kon onthaal nie, nie meer kon
onthou nie, nie meer ja en amen sê vir hom nie.
Maar die twee oumense het na 60 jaar in
die huwelik iets in gemeen: hulle hou van eet.
Twee smulpape. So maer soos kraaie en so lank soos telefoonpale, maar
ons eet van 8vm ontbyt af dwarsdeur tot by “dinner at eight”. Een maal per week
ry ek saam met hom Petersfield (Hampshire country) toe. Dan is dit 5 myl van hartkloppende spoed
met Mozart in die CD-speler teen maksimum volume.
Ons doen net kruideniers-aankope by Waitrose,
want ons is van die wieg af al ‘n kos-snob.
Vir Woensdae en naweek braaistukke is daar ‘n spesialis-slagter en die
assistant by die drankwinkel buig omtrent as ons binnekom (die Suid-Afrikaanse
slavin dra elke week twee sakke leë bottels saam en twee swaar sakke vol
bottels terug motor toe).
SPENS IS LARDER IN OPPERE ENGELS, NIE PANTRY NIE...
In Annelie se boek is die spens ‘n wêreld
wat sy nie mog betreë nie. Proviand agter slot en grendel. By Parsonage Farmhouse word ek die heerseres
van die spens. Nie ‘n spens van my kinderdae nie, maar een met blikkies,
boksies en flessies uit onder andere Harrods en Fortnum & Mason. Eksotiese speserye en Franse kruie. Sommige uit die vorige eeu, wat ek helaas op
instruksie van die oudste dogter, moes weggooi.
Soos Annelie verhonger het en vel en
been geword het in haar onvriendelike kasteel, het ek geblom van geen tekort
nie. Ek het ‘n reuse-aandeel in die
opstel van kruidenierslysies en die binnebring van die proviand. Daar het in
die drie maande 8kg aan my reeds duidelike figuur kom sit. En dit sit steeds.
My werksroetine is duidelik gekommunikeer.
Dus geen ruimte vir twyfel nie. Om 7vm word die oggendkoerant, The Times, afgelewer. So saam met
hawermoutpap maak op die AGA-stoof, moet ek die koerantopskrifte skandeer en
onder andere nuus oor Suid-Afrika soek. My werkgewer was vir drie jaar
diplomaat in Pretoria en steeds geinteresseerd in gebeure in ons
Suiderland.
So met die lees en paproer saam dek ek die
ontbyttafel in die ruim gesellige kombuis. Vir sy plek benodig ek ‘n
liniaal. As sy eetgereedskap, servet,
vrugtesap en pillebottels ‘n sentimeter uit plek is, hoor ek dit. Gewoonlik het sy ontbyt goed afgeloop. Ek het
myself oortref deur in rekordtyd dit reg te kry om ‘n kalfsoog-eier na sy smaak
te berei.
Vir die mevrou was dit nie ‘n kwessie
nie… Sy was meestal vrolik en dankbaar
vir alles al was dit nou net flou blaretee, bruin roosterbrood en marmalade. Wanneer sy die koerant klaar gelees het,
vertel sy vir my van al die doodsberigte.
Meestal van die “lords en ladies”, belangrike skrywers en
teatermense. Dan kom daar ook lekker
verhale van hulle dae in Kensington, London waar hulle drie dogters grootgeword
het. Hulle was so te sê bure van
Buckingham Paleis. “Ons kinders was speelmaats,” het sy menigmaal vertel en
omdat haar langtermyngeheue nog intakt was, kon ek my ‘n wêreld met
kinderpartytjies en uitstappies saam met prinses Anne en prins Charles
voorstel.
ROETINE
Oumeneer het sy oggende in die “Morning
Room” deurgebring waar sy groot lessenaar met stapels rekeninge en dokumente
hom besig laat lyk het. Ek en mevrou het die aandetespyskaart bespreek, in die
tuin gewerskaf, wasgoed versorg en gou was dit 10:30: OXO-tyd vir ‘n kits
kalsium en ander mineraal-inname.
Middagete het klokslag 12:35 plaasgevind. Om
12:20 kon ek die gerinkel van die sjerriebottels in die sitkamer hoor. Droog
vir haar en medium vir hom. Die ligte
ete het gewoonlik sonder insident verloop behalwe die middag met die sappige
pruime. Vir nagereg moes daar elke dag
vars vrugte wees. Dit word met mes en
vurk ge-eet. Ek doen dit asof ek dit van
moederskoot in die Karoo al doen.
Oumeneer vra waar ek die pruime kry want
hy kan nie onthou dat ons dit by Waitrose gekoop het nie. “Tesco,” antwoord ek.
“Gister op my busuitstappie na die buurdorpie Midhurst.” Eers raak hy rooi en
hou op kou. Toe gooi hy sy servet neer en uiter baie woorde. Baie slegte woorde
en hy staan op. Mense van hulle staning
koop nie by ‘n supermark wat die laer stande bedien nie. Hy wil hê ek moet dit begryp en vlug na sy
“Morning Room”. Mevrou begin giggel en
onstwee mes-en-vurk voort aan die pruime.
Smiddae kry ek 90 minute aftyd. As dit
slegte weer is rus ek op my bed anders stap ek Rogate toe. Dis voor slimfoontyd
en ek mag die kruidenier se rekenaar gebruik. Maar 4 uur is ek weer op diens
vir die middagtee om 4:30. Altyd met gebak voorgesit wat ek meestal in die
oggende berei het. Soms het ons brugmiddae gehad, soms net gaste uit die
omgewing of die dogters wat kom inspeksie doen het van ouerlike huis en haard.
Altyd is ek met respek behandel. Hulle
het my tot vertrou om om hulle pa se “memoirs” op te skryf. Daarom was my
empatie met die skryfster van Lugkasteel so
groot. Die kinders het haar sommer “stupid housemaid” genoem.
Aandete moes stiptelik om 8nm voorgesit
word. Dit het nogal fyn berekening gekos
want die AGA het maar sy grille en temperatuurswaaie gehad. Net mevrou het die
stoof se streke geken en ek het geweet dit laat haar goed voel wanneer sy tot
my redding kon kom.
Oumeneer was altyd grommig wanneer ek
aankondig dat die braaistuk nog nie gaar is wanneer die klok slaan nie. Dan
dryf dit hom tot nog ‘n sopie Whiskey. Mevrou kry nog ‘n Gin en ek blaas die
AGA warmer want hy, die Huisman, is die voorsnyer en opdiener. Hoe meer glasies hy gebruik het, hoe erger
behandel hy my pynlik voorbereide geregte wat op die buffet uitgestal
word.
Teen die tyd dat ons nagereg geniet
het, het ons al die koerantnuus van die dag bespreek en oor nog ‘n lekker
klompie diplomatieke onthougoed uit hulle dae in die Ooste, Rome en Pretoria
gesels.
In drie maande kom sit mense naby jou
vel. So was dit met die twee oumense, hulle dogters, bure, die Anglikaanse
predikant en gemeentelede… My agent wou
die kontrak verleng maar ek het myself belowe dat ek versorging doen bloot vir
die eenmalige ervaring. (En natuurlik pond Sterling verdien vir ‘n volgende
reis).
Dit was ‘n ervaring op vele vlakke. My
verhaal hierbo eintlik net die gastronomiese sy!