Storie vir Pluimsaad... Februarie 2015
Uit sommige oorde hoor ek dis onverantwoordelik vir ‘n
senior burger om alleen te reis; ander mense
sê weer
dis braaf. Hulle wens hulle het die
moed gehad om dit te doen.
Hoe dit ookal sy,
dit is ‘n uitdaging om ‘n reisiger te wees en nie ‘n toeris nie. Laasgenoemde het ‘n leier, ‘n toerbus, ‘n toringhoë hotel, ‘n voorskriftelike program
en toerlede meestal uit dieselfde land, taal en ouderdomsgroep met diverse pyne
en klagtes wat luid aangekondig word.
‘n Reisiger
daarenteen kies ‘n stad of land en bly geruime tyd op een plek of vertrek na ‘n
dag verder, afhangende van verskeie
omstandighede. Omdat jy op jouself aangewys is, reik jy uit na medereisigers,
ervaar jy verrassings waaraan jy in jou wildste drome nie gedink het nie. Meeste
mense uit hierdie groep se begroting moet op kundige maniere bestuur word om
die meeste waarde vir die beursie of kaarthouer
te kan gee. Dus is die eerste en
grootste oorweging VERBLYF. ‘n Hotel of
gastehuis met stergradering is uit. So is
die luukse van ‘n enkelkamer ook.
Deesdae is
hostelle baie gewild en die webtuise Tripadvisor (maar ook talle ander soos
Hostelworld.com, hostels.com en hostelworld.com) lei jou na bekostigbare
verblyf waar die keuse legio is. Die enigste oorweging is dat jy ‘n kamer of
slaapsaal moet deel met drie of vyf of nege ander mense uit alle uithoeke van
die aarde.
So beland ek in
November vir die soveelste keer alleen in ‘n hostel. Die keer in Jerusalem,
Heilige Stad, ewige inspirasie vir profete, psalmskrywers, digters en ‘n gewone
mens soos ek. My verblyf is na
aardsvader Abraham vernoem. Sy gasvryheid is nie ‘n kameelhaartent nie, maar ‘n
stewige betongebou van drie vloere met 250 beddens op die Dawidsplein so reg in
die middel van Wes-Jerusalem.
Die Neshir-taxi
(wat 10 passasiers by Ben Gurion-lughawe inwag) laai my by Abraham se voordeur
af. ‘n Jongman uit sy nageslag doen die
nodige papierwerk en trek my bankkaart deur sy masjien. Ek neem my koffer self na die derde vloer (in
die hysbak wonder ek nie oor wanneer beurtkrag inskop nie) Kry ‘n bed saam met drie Chinese meisies,
een uit Kanada en ‘n Spaanse tante met
‘n pruik en pelskraag uit Costa Rica.
Alles is netjies en skoon, met eie stort en naggerief. Prakties ingerig … tot by ‘n eie haardroër in
die kamer waar die winterson vrolik inskyn.
Vriendelikheid
by die eerste ontmoeting van kamermaats gee jou ‘n voorsprong. Word jou glimlag
en kort voorstel van jouself nie geesdriftig ontvang nie, moet jy weet jy word
of nie verstaan nie, of jou kamergenote soek privaatheid. Jy hou egter altyd die
glimlag gereed.
In die algemene sit- en eetkamer is dit
anders. Daar is van ‘n goed-ingerigte kombuis tot kroegie en gesellige eet- en
sitkamer in die ruimte. Mense vra uit, sit langs jou, ensovoorts. Dit is waar
die aanloop van my groot verrassing gebeur toe ek my pastagereg die aand van 11
November kook. Terloops die kombuis is met yskaste ingerig waar gaste
bederfbare items mag bêre (daar word mandjies met naamkaartjies vir die doel
verskaf).
Ek hoor by ‘n
groepie vriendelike Chinese by die stoofplate dat hulle ‘n 4-dag
Christen-konferensie bywoon. Hulle dra almal
blou armbandjies. Daar is nog twee dae oor, maar geen kaartjies toe ek navraag
doen nie. Die 3,500 konferensiegangers uit 35 lande het al maande voor die tyd
bespreek om die “Call 822 Gathering” by te woon. Byna 3,000 van hulle kom uit China se ongeveer
56 stamme.
Waarom 822, wil ek weet. Dit is na aanleiding van Sagaria 8 vers 22,
vertel hulle. Baie volke sal kom, groot
nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te
raadpleeg.
Die volgende
oggend by die selfdiens-ontbyt sit ek oorkant Michelle, ‘n Chinese meisie wat
in Singapore woon. My ‘vriendinne’ van
die vorige aand lamenteer dat ek nie teenwoordig kan wees by die konferensie
nie. Britse Brian en sy Chinese vrou wat
al die afgelope 25 jaar Joodse Chinese opspoor en terugbring Israel toe, is ook
jammer vir my.
Michelle haal ‘n blou armband uit haar
reis-handsak. “Do you want to go to the morning session?” Minute later is ons
te voet op pad (2.5 km) na die Internasionale Konferensiesentrum (so bietjie
groter as ons een in Kaapstad)
Logo van die Internasionale konferensiesentrum
My blou armband
moet los geheg word sodat ek dit vir die middag- en aandsessie aan Michelle se
“Jewish friend” kan gee. Die ouditorium is stampvol toe ons aankom. So ook die
“oorloop”-sale. Die spesifieke sessie is sonder agenda. Iedereen wat wil
getuig, is welkom. Die lofprysing grens aan oorlogskrete. Die musiek ‘n dosyn
desibels te luid vir my gestel. Die
Oosterlinge bid, sing, getuig, spring, gestikuleer … op die verhoog en in hulle
sitplekke. My mond wil oopval. Ek dog ek
is in “Jesus se Gym”.
Mettertyd word
dit rustig en dan stap daar groepies op die verhoog om te vertel van vervolging
onder die Kommunistiese regime. Ook sendelinge uit Westerse lande vertel van
lang tye in die gevangenis. Van erge mishandeling in strafkampe. Tans is die
Chinese regering nie intolerant teenoor gelowiges nie, maar die meeste
Christene verkies steeds om in huise bymekaar te kom. Dit hoor ek telkemale van
die verhoog af wanneer die Mandaryn na Engels getolk word. “Christianity is freedom, but Chinese
Christians still have restrictions. We are not completely free.”
Michelle sorg
dat ek die volgende oggend weer die armband kry. Die keer stap ek saam met
kamermaat Nancy, ‘n Kanadees, wat vrywillig vir ‘n organisasie in haar land werk
om Jode terug te bring na hulle beloofde land toe.
Ons word by die
Joodse mark ingehaal deur ‘n kort mannetjie in sy middeljare, ene Christopher
uit Australië. Dis die werk van die blou armband: die merk van die
Jesus-volgeling vir vier dae wat ons bymekaarbring. Hy het te vertelle dat God
hom gewys het waar daar olie in die Negev-woestyn is. Hy probeer om ‘n afspraak met Benjamin
Nethanyahu, die Israelse eerste minister, te kry. Christopher het ook planne vir praktiese
woestynbehuising vir die werkers op die aangewese olieveld in sy aktetas. Hulle kan dit netso kry sou hulle belangstel!
My laaste
sessie is rustiger en georganiseerd. Die
Egipties-gebore Koptiese Christen, David Demian is die voorsitter. Hy is ‘n mediese dokter wat 20 jaar gelede
sendeling geword het. Ek en Nancy kry
sitplek in ‘n “oorloopsaal”. Die
Japanese Christene kry ‘n beurt. Daar word baie gehuil op die verhoog. Ons sien
dit op ‘n groot TV-skerm.
Dan ‘n
onverwagte en onvoorstelbare gebeurtenis:
Die getuienisse van Messiaanse Jode en Arabiese Christene. Hulle vul die verhoog. Omarm mekaar soos
broers en bedien Nagmaal aan die duisende teenwoordiges.
Sou ek die
gebeurtenis meegemaak het, die stories gehoor het as ek ‘n toeris was?
bron: arise5,com
Suid-Afrikaner, Liani van Wyk, het dit reggekry om die afsluitingsfunksie van die konferensie by te woon.