: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Monday 7 May 2012

Veldrit saam met Gys op Uitsig

Op Werkersdag draai ons weer by Uitsig se plaaspad af (uit die Prieska-Carnarvonpad) vir 'n tweede besoek aan Gys Louw en sy gesin.
     Die veld jubel na die deurdringende reen van die vorige week. Sommer met die inry draf twee bakoorjakkalse vooruit om die pad te wys. Nou en dan kom nog twee pad toe, maar verdwyn dan weer ewe kontant voordat ek hulle in my kamera se visier kan kry.


Uitsig se werf in die verte
    Die "verwelkomingskomitee" staan gereed toe ons die werf inry. Groot glimlagte of Gys, Magrieta en Jakob se gesigte en hande uit vir groet. Gys gaan haal die plaasbakkie uit die waenhuis en Jakob klim agterop. Hy moet saamgaan vir hekoopmaak.

                                               Hierdie 1974 Toyota weet van plaaspad ry... 


     Gys stuur hom behendig verby aardvarkgate en ander uitdagings! Daar gaan staan en verlang ek toe na my 1982 Toyota Cressida wat ek verlede jaar verkoop het.

     So ry ons al met die paadjie langs deur Boorkamp, Pannekamp, Rantjieskamp, Klein-graskamp en Groot graskamp en laastens Strooiskamp. Lanklaas het ek Karooveld so intiem beskou en so vol van heilsaamheid belewe... soms met my neus teen die aarde.
     Die Bloubos skyn groen en die Perdekaroo bly nie agter nie. Gys is 'n ensiklopedie van die veld... hy ryg die name uit:  Besembos (ook Januwariebos genoem), Brosdoringbos (ook bekend as Vaalbos), Vyebos, Taaibos, Driedoringbos...Hy wys ook vir ons die Bloudissel, Beesssteekgras, Bosluisgras en Suurgras.
     Wanneer Gys van die Rooilootganna vertel en wys hoe die skaap sy blaartjies afstroop voel dit asof ek in 'n eerstejaar-Plantkunde klas is. Hoeveel jaar se kennis kry ek in een middag op Uitsig? Wat 'n voorreg ..
.     Hy pluk 'n stingel Stinkgras en ek ruik daaraan. Geen dier eet hom nie, vertel Gys. Vanoggend haal ek die geparste grassie uit my kamerasak en ruik weer die middag van 1 Mei 2012 ...
     Van kleintyd af is die karobossie vir my 'n mirakel. Omdat ek op Karoo-aarde ontvang en gebore is, het dit vir my 'n simbool van geankerheid en oorlewing geword. In sy jonkheid, vertel Gys, maak hy homself bitter sodat die skaap hom vermy. Sodra hy weet hy's volwasse, raak hy soet en gasvry (my woorde).
      Gys ken die siel van die veld. Hoeveel ander is daar soos hy vandag?

Karoobos met sy geel blommetjies pronk gesond hier in die Bo-Karoo ... skaapkos uit my vroegste onthou op ons plase Vetfontein en El Dorado in die Middelburg (Kaap) distrik.





Die Witgatboom is 'n vreemde verskynsel vir my. Ek kan my daaraan verkyk - en hierdie een dra wrintiewaar Moses van ouds se kierie.



Die pragtige "horisontale" tak (onder) het my aandag getrek en Jakob moes model speel ...







Die klippe fassineer my.   Hier op Uitsig is dit nog soos die Skepper sy plaveiwerk gedoen het.


Tafel op Werkersdag 
Die aand braai ons vleis uit die Kalahari en sit slaai en roosterkoek voor wat ons van Upington af gebring het. Daar is nie 'n siel aan tafel nie, want almal is besig om raad te gee en te help om Veronica se wynfles met 'n "vooroorlogse" kurktrekker oop te maak!


Resultaat: Geslaagde spanpoging! 
Oranjerivierkelder se rooiwyn kan nou asemhaal
----------------------

 karoobossie


karoobossie ek
wat wortel uit die hartland trek

karoobossie ek
wat die knyp ken van ‘n plaashek

karoobossie ek
wat saam met beeste molasse lek

karoobossie ek
wat huil as vee van honger vrek

karoobossie ek
wat steeds ruik na my geboorteplek

karoobossie ek
van kroontjie tot klossie
aljimmers
        net
                                      karoobossie

   
© 2008  Trudie Wegner
    

No comments:

Post a Comment