: : : : : : : : : : > > > Stories van mense en plekke van nou tot ver terug in toentertyd

Friday 25 May 2012

Verlange na Praag

Twee kennisse kom vanoggend kuier om uit te vind oor die besienswaardighede van Praag in die Tjeggiese Republiek.
     "Ons gaan vir 3 dae in Praag wees in September. Wat moet ons sien," vra Brunette en Jan.  Ek en Arie was in 2005 vir 8 volle dae in Praag.  Dit was veels te min. Ons het eers 5 dae 'n knus apartement naby die Nasionale Teater gehuur, toe vir 6 dae in die platteland met 'n gehuurde motor rondgery en terug in Praag nog 3 dae in 'n woonstel in 'n voormalige kommunistiese blok gebly.
       Die eerste twee dae het ons net rondgestap in die ou stad. Nekke gerek, koppe in die lug om die buitengewone fasades van die geboue te betrag. Die vreemde klanke gehoor, ander reuke geruik ...
      Al wat ons vir mekaar te se gehad het was: "Kyk daar, kyk hier... nee, hier. die een is nog mooier."
       Ek het al my momentos, kaarte en boeke oor die mooi stad uitgepak en die pragtige lente van 7jaar gelede het weer my leefveld ingeneem...


      Die ou stadsplein
                                                             

 Uitsig oor Praag met die Vtlava-rivier en die Charles-brug in die agtergrond



         

Thursday 17 May 2012

Hemelvaart in Portugal

Eers laat in die dag besef dit is vandag Hemelvaart.
    Onthou hoe 'n indruk die Portugese se viering daarvan op my gemaak het op reis (in Mei 1979) tussen Porto en Santiago de Compostella. My herinneringe van die presiese plek is vaag, maar ek weet dat daar buite 'n baie landelike dorpie 'n groterige koppie was. 'n Stewige bondeltjie mense het in stadige gelid daarheen geloop. Die voorstes het 'n kis gedra. 
    Dit is 'n tradisie in landelike gebiede om olyftakke, koringare, poppies en daisies te pluk en dan armsvol daarvan in die Hemelvaart prosessie te dra.  Baie mense soek kruie en helende plante in die veld om as medisyne te gebruik.
     Die Portugese noem die dag Quinta Feira da Espiga wat Koringaar-Donderdag beteken
     Vir hulle word die dag geassosieer met vrede en vooruitgang.












'

Ontmoeting met 'n Persimmon in Frankryk

Vanoggend eet ek vrugte vir ontbyt. Die ryp persimmon se soet vlees stuur heerlike herinneringe van my smaaksintuig tot in my brein.

                                              Ontbytbord met Sharonvrug .. herfs 2012...
My eerste kennismaking met 'n  Persimmon  
                                             was in die Franse stad Orange in die herfs van 1979

   Op ons lang wittebroodsreis in Europa, stop ons een herfsmiddag in die middel van die stadjie Orange, 30 km van Avignon af, in 'n besige straat.  Uitgehonger vir vrugte! Arie trek die Citroen onwettig op 'n sypaadjie en wag terwyl ek die klein winkeltjies verken. Appels vir twee, druiwe en 'n Persimmon vir elk van ons. Glimmend oranje en sagryp. Reg vir eet. Voorheen net daarvan gelees, maar daardie middag terwyl die laatson my hande warm maak in die klein winkeltjie met uitstallings tot in die straat, staan ek met dit in my hand.
    In Suid-Afrika staan die vrug as Sharonvrug bekend en word al vir 'n dekade of so hier ter lande aangeplant.  Oorspronklik 'n Oosterse vrug, word die Persimmon suksesvol gekweek in streke met n Middelandse see-klimaat.
    Vir my bly die vrug sinoniem met die Romeinse teater in Orange - want dit is waar ons geparkeer het om die heerlikheid te eet.

Tuesday 15 May 2012

24 uur op die eiland Sisilie

By die lees van Casa Nostra - A Home in Sicily deur Caroline Manzo, gaan my gedagtes terug na Januarie 1978.
     Ek en Arie het 'n Eurailpas gehad en in Rome die lawwe idee gekry dat ons wil sien hoe dit aan die punt van Italie se stewel lyk. Om meer spesifiek te wees, Palermo. Arie, wat 'n goeie kennis van die 2de Wereldoorlog gehad het, wou sien waar Generaal Erwin Rommel se Afrika-korps deurbeweeg het. Ons moes kies tussen 'n dag in Napels of  'n dag op die grootste eiland in die Middellandse See. Laasgenoemde wen en dit is middernag toe die trein by Villa San Giovanni op die ferry getrek word.
       Dit was die aakligste uur op ons reis. Die treindeure word gesluit en ek - wat nie kan swem nie - moet deur Arie verseker word dat die "rit" oor die Straat van Messina vlot sal verloop.

                                                           
     Berg Etna (regs)  was vir jare 'n plek
wat ek wou sien.
     My tante se naam is Edna en sy het soms so uitgebars soos die bekende vulkaan wanneer ek as kind by haar en Ouma moes bly!

    Helaas, ons gly verby Etna voor die dag behoorlik breek... gelukkig kon ek 'n foto Google!

     Toe is dit Palermo, die hoofstad en belangrike hawe wat reeds in 736 nC deur die Fenisiers gestig is. Teen die tyd is ons padkos gedaan en ons soek ontbyt. Vind toe uit die Sisiliane eet koek op Sondae.
     Ons kyk na die plaza en die kerk van Santa Maria di Betlem en loop straat-op en straat-af om kos te koop. Restourante maak eers in die aand oop, hoor ons. Maar koek is volop. Nie eers 'n vrug in sig nie, want dit is rusdag en geen markstalletjies nie. Niemand het opgeruim na die Saterdagmark nie. Dus lyk die strate soos rommelhope.
     Ons dra swart koordferweel-jeans en loop plek-plek enkelhoogse op vuil sypaadjies. Ek kan onthou dat ek vir Arie gevra het of dit van Rommel se rommel is wat agtergebly het. Later neem ons 'n bus na een van die hoogste punte om die hawe te kan sien.

  Palermo
     So beland ons in 'n woonbuurt waar 'n bejaarde man besig is om 'n nartjieboom te snoei. Die klein vruggies plof op die sypaadjie neer en ons staar die toneel  oopmond aan. Hy kon sweerlik gedagtes lees en nooi ons om soveel te neem as wat ons wil. Salige smaak en voedend.
     Teen sononder is ons stasie toe want ons het die oggend verneem dat die restourant daar aandete bedien. In 'n eetkamer wat sterk herinner aan 'n toneel uit 'n Mafia-film, sit ons die aand - met groot aptyte - aan 'n tafel met 'n witgestyfte tafeldoek en servette. Kalfsvleis in 'n rooiwynsous saam met pasta, as ek reg onthou.
     Van die dag se rondloop deur die rommelstrate is ons broeke nie meer swart nie, maar kom daar so'n groen skynsel deur.
      Sisiliaanse groen - dit was altyd ons grappie.
   
   

Thursday 10 May 2012

Vinnige draai in Ankara

Vanoggend hoor ek oor RSG van die Turks-Afrika Mediaforum wat tans in die Turkse hoofstad plaasvind.
     Meer as 300 mediamense uit Afrika woon dit by want Turkye wil  meer blootstelling in die media op ons kontinent kry.
     Daar kom my 24-uur besoek aan die moderne hoofstad van die land helder in my geheue. Ek was in 'n georganiseerde toergroep, en dan is - volgens ons gids Halit - die eerste stopplek die mausoleum van Ataturk, vader van moderne Turkye.

     Die Anitkabir huisves Ataturk graf

Monumentwag voor die mausoleum
  Die indrukwekkende vrouebeeld by die ingang
 tot die wandelpad wat na Ataturk se graf toe lei. 
    Links is die moderne vrou met die tradisionele, 
                   gesluierde vrou agter haar.
Die Turkse nasionale vlag met blomme uitgebeeld!
Die Kocatepe-moskee toring bo die moderne stad uit

               Swembadkompleks in boomryke voorstad - 
                            die uitsig vanuit my hotelkamer


Ek het hierdie reisartikel vir Die Burger geskryf:
Besoek aan Turkse hoofstad beslis die moeite werd    


 Besoek  jy Ankara, die hoofstad van Turkye, is dit verrassend om te verneem dat hierdie moderne stad ongeveer tagtig jaar gelede  ‘n “plattelandse dorp” sonder elektrisiteit of lopende water was.
Hoewel die stad, voorheen bekend as Ancyra en Angora, sedert 2000 vC reeds ‘n handelsentrum van die Hittiete was, en daarna deur onder andere die Firgiërs en Romeine regeer is, dit te danke is aan die eerste  president van die Turkse Republiek dat Ankara hoofstadstatus verwerf het en vandag ‘n inwonertal  van meer as 3,5 miljoen het.
Mustafa Kemal Atatürk, ook bekend as die vader van moderne Turkye, was die dryfkrag agter die vooruitgang van Ankara. Hy het in 1923 aan bewind gekom, na  vyf eeue van Ottomaanse heerskappy, en in 1930 het Angora Ankara geword.  Die belangrikste redes vir die besluit was om weg te beweeg van die ou regeringsbestel  gesetel in Istanbul, en tweedens  om ‘n sentraal geleë hoofstad te vestig .
Ankara lê op die Anatoliëse plato aan die Asiëse kant van Turkye en is omtrent ewe bereikbaar vanaf al die uithoeke van die land.  Atatürk se besluit het aanvanklik nie byval gevind  nie en buitelandse ambassades was bra langtand om te verhuis.  Maar deesdae is Ankara ‘n volwaardige Europese stad, met goedbeplande uitleg, breë strate, vele parke, twee universiteite, ‘n boomryke ambassadeursbuurt  en ‘n glad-geoliede administratiewe stelsel.  Oorblyfsels van die  antieke vesting wat bekend gestaan het as Ancyra word steeds bewaar en die ou stad of sitadel wat om hierdie ruïnes gebou  is, word steeds bewoon.  Stedelike migrasie plaas egter deesdae druk op die infrastruktuur van Turkye se grootste stede, Istanbul, Ankara en Izmir.
Die eerste president van Turkye is in 1938 oorlede, maar sy invloed  sigbaar blywend. Nie net het hy Ankara as hoofstad verklaar nie, maar tien jaar voor sy dood die Arabiese alfabet met die van Latyn vervang.  Hy het ook die dra van die fez vir mans en die sluier by vroue verban.
Daarom was ‘n besoek aan Atatürk se praalgraf of mausouleum ‘n moet op my reisplan. Ongelukkig kon die gids my nie help met inligting oor die omvang van die terrein waarvan die hoof-fokus die Anitkabir  (Turks vir die monument ter verering van die vader van die nasie) is nie.  Ek skat die kompleks geboue, geleë op ‘n heuwel,  en aanloop daarheen beslaan ongeveer 15 rugbyvelde. 
Diplomatieke protokol vereis dat staatsbesoekers ‘n begeleide toer  van die kompleks moet meemaak en geskat aan die groot getal wat op die middag van my besoek daar was, glo ek gewone toeriste voel dieselfde. Die Turke is ‘n trotse nasie en die getal skoolgroepe tydens my besoek was verblydend. Omdat laasgenoemde meestal blomkranse saambring , is daar gedurigdeur kransleggingseremonies  in die Anitkabir aan die gang.
Volgens die Turkse gids het al sy land se provinsies klip geskenk vir die bou van die monument. Dit was opvallend hoeveel marmer en graniet in die projek gebruik is. Behalwe die  sarkofaag  wat die middelpunt  van die hoofsaal is, het ek die uitgebreide, goed ingerigte museum wat alle fasette van Atatürk se lewe uitbeeld besonder insiggewend gevind.  Hy het ‘n uitgebreide boekery gehad en sy Europese  kleresmaak, hoofsaaklik  uit die Franse stal, het ‘n blywende indruk by my gelaat.

Wednesday 9 May 2012

Kunstoer vir Kia in 1995

Vir haar 10de verjaardag kry Kia 'n toer van Europa as geskenk. Ek was vas oortuig dat die tekenende kind eendag 'n beroemde kunstenares sou word.
     Ek werk 'n 18-dae toer na kunsmuseums, katedrale en vriende uit en sluit kindergoed ook in, o a die Guinness Book of Records Museum in London, Madurodam buite Den Haag, Madame Tussauds se Amsterdam-tak, Euro-Disney in Parys en ski-lesse by Montana in Switzerland.
    Ons eerste stop is London. Dit is immers waar ek haar naam uitgedink het lank voordat daar sprake van 'n huwelik was. Pas ingeboek by die Regent's Palace naby Picadilly Circus, het ek die kind aan die hand en hardloop af na Trafalgar Square en die National Gallery waar Rembrandt se portret van sy eerste vrou Saskia van Uylenburgh langs die van sy tweede vrou Hendrickje Stoffelsdogter hang.
    Kia is moeg van die vlug via Schiphol, maar dit skeel my min ek soek koorsagtig na saal 17 en viola!  "Kia, dit is die vrou waarna jy vernoem is."  Wat et ek daar in die galery verwag?  Vreugde?  Oorweldiging? Dankbaarheid?
    "Daai lelike vrou," was die antwoord en daarna 'n baie lang gaap. "Kan ons asseblief 'n bietjie gaan slaap voodat ons vanaand Oliver Twist sien?"
     Ek het haar probeer oortuig om Saskia se mooi rok raak te sien ... en die blomme. Helaas, my verweer het op dowe ore geval. Saskia was lelik. Saak afgehandel..


         Saskia, deur Rembrandt geskilder  (c 1633)
                                                     
    In 'n kwessie van twee dae, en heerlik uitgeslaap en aangepas, vra sy of sy alleen na die Doughnut-winkel langs die hotel kan gaan,  Wat flits deur my kop?  My kind gaan gesteel word / 'n taxi gaan haar omry! Maar ek weet sy moet die kans kry en daar stap sy ewe kontant met 'n Engelse pond in die hand om haar koekie te gaan koop.

 Kia se eerste onafhanklike uitstappie in London
        van die hotel (links) na Dunkin Donuts!
  ... in Amsterdam ...
                                                   

Britse museum:> een van my geliefkoosde besoekpunte

'n Mediese toestand beperk my tans tot my huis. Dus sit ek "been op 'n boks" voor die rekenaar en blaai deur dokumente en foto's van rtize van lank gelede.
   So kom ek af op 'n besoek aan Engeland in die herfs van 2005. Dit was Arie se laaste oorsese besoek... Holland, Engeland en Skotland. Ons kuier in London was kort en die hoofsaak was om Eon se nuwe ervaring te beleef. Hy was pas 'n paar maande daar op sy "Mandela"-werkvisum van twee jaar.
    Hoewel die tyd beperk was, het ons beide besluit dat die Britse Museum 'n herbesoek verdien. Ons was ook in 1977 en 1979 saam daar.


Arie voor die Britse Museum in Bloomsbury
      Hierdie keer kon ons die nuwe "domed central court" beskou wat die befaamde "reading room" huisves.
Hoewel die nuwe "reading room" na 'n adres in St Pancreas verhuis het, is die oorspronklike - waar bekendes soos Karl Marx, Virginia Woolff. H G Wells en 'n string ander lidmaatskap en toegang gehad het - intakt.

Stap die leeskamerbinne binne en dit word 'n reis op sy eie .. 
    In 2007 - dertig jaar na my eerste kennismaking met die "reading room" - besoek ek dit weer. Die keer is ek alleen, maar met goeie herinneringe aan my letterkunde studies en my metgesel, my ritzmaat, wat nou elders woon ...

Eon op die "Underground" (Noordelike-lyn). Arie het die foto geneem. 
                                                              Minute daarna het hulle vir die laaste keer afskeid geneem.
Eon in 2005. Hier vermaak hy sy ouers en huismaats met vriend Ryno se pruik! 
Dit was sy eerste verblyf in London saam met PE vriende in Longfield Drive, Colliers Wood  

Tuesday 8 May 2012

Vleispotte van Upington

Ritz saam met vriendin Veronica tot diep in die Noord-Kaap vir 'n kuier by Agnes, ons vriendin van vele dekades, en smul word  jou voorland.
    Skaars afgepak of Agnes wys die spyskaart vir die hele verblyf. Die is in die kombuis opgeplak en lyk asof dit in die parlement hoort. Ook die beskuit en inmaakbottels vir  huistoe saamvat staan gereed. Daar is tot twee gebakte skaapkoppe vir my. En sult soos my ma dit gemaak het wat in die vrieskas wag.
    Op ons laaste aand in Upington is die kameeldoringhout nader gesleep en die vuur gepak. Behendig, soos 'n wenner van 'n nasionale braaikompetisie, het sy met die wors, sosaties en tjoppies omgegaan.

 Herfsaand met koplanp  - Agnes aan't braai!Die volgende dag was daar roosterkoek in ons padkosblik
 

Keimoes op betaaldag


.
Oranjerivier: Daar's al hoe meer verkeer tussen Keimoes en die Eilande. Konstruksiewerk pla egter nie die troppie beeste nie

Ons het 'n rustige dag in Kemoes langs die Oranjerivier verwag, maar om 11:00 is daar omtrent verkeersknope in die mooi dorpie se hoofstraat.
     Dis 30 April. Ekstra besig, want more moet daar feeskos wees. Dit is Werkersdag. Daar is van piesangs tot selfone en pers pantoffels op die sypaadjies te koop . Die handelaars wat wel winkels met mure en 'n dak het kom merkbaar uit Afrika en die Ooste: Ali, Jusuf en Sonny lees ek op die toonvensters.
   . Die Keimoes-toerismekantoor in die "wit kerk" gehuisves, bied skuiling en verkwikking. 'n Baie ingeligte beampte gee wenke vir 'n halfdag-besigtiging. Ek los my vriendinne om te luister want die "vintage" uitstallings in die klein koffiewinkel roep my.

      'n Jones-handnaaimasjien
                                                   


Bo:  Kyk na die groot broodblik en ruik die suurdeegbrood wat plaasouma's een keer per week geknie en gebak het.  
Onder: Die rakkie kon net sowel in my huis gestaan het



    Kon nie glo wat ek sien nie. Daar ontdek ek 'n pannekoekhoek uit die 40's /50's. Ook die mooiste Viktoriaanse foto-album. En niks is vir handeldryf bedoel nie, gewoon net 'n lekkerte vir die nostalgiese reisiger...
      Vleismeul en kombuisemalje - my grootwordgoeters 

Die Brandwag en ander ou tydskrifte word keurig in die inligtingsentrum uitgestal  
Om die gebied goed te kon bespied is ons met die steil pad na die top van Tierberg toe.   Vars lug, die besonderse kokerbome en 'n uitsig oor die Eilande is 'n onvergeetlike gesig...

Uitsig vanaf Tierberg



Monday 7 May 2012

Veldrit saam met Gys op Uitsig

Op Werkersdag draai ons weer by Uitsig se plaaspad af (uit die Prieska-Carnarvonpad) vir 'n tweede besoek aan Gys Louw en sy gesin.
     Die veld jubel na die deurdringende reen van die vorige week. Sommer met die inry draf twee bakoorjakkalse vooruit om die pad te wys. Nou en dan kom nog twee pad toe, maar verdwyn dan weer ewe kontant voordat ek hulle in my kamera se visier kan kry.


Uitsig se werf in die verte
    Die "verwelkomingskomitee" staan gereed toe ons die werf inry. Groot glimlagte of Gys, Magrieta en Jakob se gesigte en hande uit vir groet. Gys gaan haal die plaasbakkie uit die waenhuis en Jakob klim agterop. Hy moet saamgaan vir hekoopmaak.

                                               Hierdie 1974 Toyota weet van plaaspad ry... 


     Gys stuur hom behendig verby aardvarkgate en ander uitdagings! Daar gaan staan en verlang ek toe na my 1982 Toyota Cressida wat ek verlede jaar verkoop het.

     So ry ons al met die paadjie langs deur Boorkamp, Pannekamp, Rantjieskamp, Klein-graskamp en Groot graskamp en laastens Strooiskamp. Lanklaas het ek Karooveld so intiem beskou en so vol van heilsaamheid belewe... soms met my neus teen die aarde.
     Die Bloubos skyn groen en die Perdekaroo bly nie agter nie. Gys is 'n ensiklopedie van die veld... hy ryg die name uit:  Besembos (ook Januwariebos genoem), Brosdoringbos (ook bekend as Vaalbos), Vyebos, Taaibos, Driedoringbos...Hy wys ook vir ons die Bloudissel, Beesssteekgras, Bosluisgras en Suurgras.
     Wanneer Gys van die Rooilootganna vertel en wys hoe die skaap sy blaartjies afstroop voel dit asof ek in 'n eerstejaar-Plantkunde klas is. Hoeveel jaar se kennis kry ek in een middag op Uitsig? Wat 'n voorreg ..
.     Hy pluk 'n stingel Stinkgras en ek ruik daaraan. Geen dier eet hom nie, vertel Gys. Vanoggend haal ek die geparste grassie uit my kamerasak en ruik weer die middag van 1 Mei 2012 ...
     Van kleintyd af is die karobossie vir my 'n mirakel. Omdat ek op Karoo-aarde ontvang en gebore is, het dit vir my 'n simbool van geankerheid en oorlewing geword. In sy jonkheid, vertel Gys, maak hy homself bitter sodat die skaap hom vermy. Sodra hy weet hy's volwasse, raak hy soet en gasvry (my woorde).
      Gys ken die siel van die veld. Hoeveel ander is daar soos hy vandag?

Karoobos met sy geel blommetjies pronk gesond hier in die Bo-Karoo ... skaapkos uit my vroegste onthou op ons plase Vetfontein en El Dorado in die Middelburg (Kaap) distrik.





Die Witgatboom is 'n vreemde verskynsel vir my. Ek kan my daaraan verkyk - en hierdie een dra wrintiewaar Moses van ouds se kierie.



Die pragtige "horisontale" tak (onder) het my aandag getrek en Jakob moes model speel ...







Die klippe fassineer my.   Hier op Uitsig is dit nog soos die Skepper sy plaveiwerk gedoen het.


Tafel op Werkersdag 
Die aand braai ons vleis uit die Kalahari en sit slaai en roosterkoek voor wat ons van Upington af gebring het. Daar is nie 'n siel aan tafel nie, want almal is besig om raad te gee en te help om Veronica se wynfles met 'n "vooroorlogse" kurktrekker oop te maak!


Resultaat: Geslaagde spanpoging! 
Oranjerivierkelder se rooiwyn kan nou asemhaal
----------------------

 karoobossie


karoobossie ek
wat wortel uit die hartland trek

karoobossie ek
wat die knyp ken van ‘n plaashek

karoobossie ek
wat saam met beeste molasse lek

karoobossie ek
wat huil as vee van honger vrek

karoobossie ek
wat steeds ruik na my geboorteplek

karoobossie ek
van kroontjie tot klossie
aljimmers
        net
                                      karoobossie

   
© 2008  Trudie Wegner
    

Friday 4 May 2012

Saterdagmiddag op Straussburg


Straussburg is ongeveer 10 km buite Upington op die Groblershoop-pad. Vriendin (sedert 1971) Agnes Strauss se neef Stirling is boer en sakeman in die omgewing.
     'n Uitnodiging van jare gelede gebeur toe op die laaste Saterdag van April 2012. Stirling neem ons veld-in om sy leefwereld op die plaas Vryheid aan ons voor te stel.
      Die veld is gesond en die bossies en grasse vreemd vir 'n Karoomens. Stirling - soos sy oorlede pa Nestor Strauss - ken die kos wat die veld voortbring. Hy is 'n bron van (bossie!) inligting... Skilpadbos en perdebos, boegoe, gha en ganna. So ryg hy die name af in die verbyry. Die gras groei gesond en ek hoor van langbeen- en kortbeen boesmangras en blinksaad.
       Die struike staan geil in die veld en die driedoring, wat in die lente blom, skuur-skuur telkens aan die bakkie. Ek verkyk my aan die kameeldoringboom se peule en sy behaaglike skadusambreel.
      Ons ry verby oom Piet-Veepos se huis in die alleenheid van die veld. Net die hondjie blaf en die hoenderhaan loer versigtig uit die hok. Oom Piet het gaan kuier, maar Stirling verseker my dat hy op sy selfoon beskikbaar is.
      Verder pad-af wys Stirling sy Amerikaanse Cowboyperde ... die "Quarterhorses".
      'n Kenmerk van die Naelperd (Quarterhorse) is 'n korterige en kompakte kop met n sterk kakebeen. 

                                                               
                                                                  Kyk die mooi hings!


    Waar is my Saterdae-middae in die bioskoop op Middelburg as die Cowboys deur die kaktusse aangery kom en ek weet stout Piet Botha gaan nou enige tyd die meisies se hare met sy kougom beplak! Menigmaal moes my ma die taai gemors, sopnatgekou uit Piet se mond, met brandspiritus en 'n fyn kammetjie uit my kop verlos. Maar die volgende week sit ek en my maats weer voor in die fliek op die "cheap seats" en wag dat die Rooihuide uit hul skuilplekke moet spring om aksie te bring!.
Daar was tyd om ook by die ametismyn te gaan draai. Lyk soos 'n groot kraak in die aarde!


Noord-Kaap se klippeveld 

Stirling wil niks weet van my hekoopmaakvaardighede nie. Hier staan die "gentleman" gasheer by 'n paaltjieshek met 'n besondere sluitaksie - ook bekend as die "bekslaner-hek"

   

Die middag sien ek troppe springbokke en gemsbokke... spikkels op die horison.

Laatmiddag praat die perde met mekaar en kyk ons katoog uit. Die wit perd is 'n Anglo-Arabier en sy vosmaat 'n Amerikaanse Naelperd (beter bekend as 'n Quarterhorse)

Hierdie deel van die Noord-Kaap  is ook wynwereld en hier groei baie van die "kopseerbosse" onder skadunet (teen 'n koste van ongeveer R120 000 per hektaar). Kopseerbos vir wingerdstok is 'n woord wat ek vir die eerste keer uit Agnes se mond gehoor het. Dit maak nogal sin!

Ongeveer 17:00 het ek my eenvoudige digitale kamera vanaf die ametismyn na die herfswingerde en koppies se kant toe gemik. Gelukkig sit die beeld in sy werklike glorie in my geheue vas.



Kuier by "vreemde mense"

Twee maande gelede soek ek 'n skapeteller in die kuber-ruim. So al gogelend kom ek op Karooplaas af. Die boer - Johan van Wyk - woon in Pretoria maar nooi my om by sy plaasbestuurder buite Prieska, op die Carnarvon-pad, te kuier wanneer ek wil!
      So gebeur dit dat ek die Louw-gesin aan die einde van April op Uitsig ontmoet - en sommer 'n deurdringende Karooreentjie van 44 mm oor twee dae ervaar. Gys en Magrieta Louw en hulle seun Jakob het diep in my hart geklim. Hulle is mense van die aarde wat elke dier en plant ken en met respek behandel. Daarby praat hulle die mooiste Afrikaans wat ek vir 'n lang tyd gehoor het.

Gys verduidelik van skape tel. Hy ken hulle taal en praat dit met sukses! Ek het dit self gehoor! 


     Gys het 'n troppie aangejaag kraal toe om die tellery te demonstreer. Ek het saamgetel maar by 44 het dinge deurmekaargeloop.  Vir my altans! Daarna was dit vir my meer van 'n skouspel om die diere se gedrag dop te hou. Die Dorper wat so kontant op die sementblok (regs) staan is Klaartjie wat haar hanslamdae by die Louws deurgebring het.


So luister die skape na die "verkeersman" (of is dit sensusopnemer?)
     Gys is nou 60 en woon vir die afgelope 25 jaar op Uitsig. Hy het as algemene plaaswerker begin en is nou die plaasbestuurder. Hy het op 12-jarige ouderdom as bokwagter in die Prieska-distrik begin werk en kan nou as "senior burger" die internet bemeester en kommunikeer daagliks met sy werkgewer via die web mbt rekordhouding op die plaas.


Gys by sy skootrekenaar

Die pad na Gys Louw se huis

Ons vier Gys se 25 jaar op Uitsig met braaivleis en vrugtesap... 
en Magrieta se vetkoek! 
     Jakob is op die plaas gebore. Hy is nou 12 en in Graad 6. Hoewel hy 'n nuwe generasie kind is en baie tyd met sy selfoon deurbring, leer hy baie van die veld by sy pa en spog dat hy al self die lammers kan tel.